Voortrekkermonument eis samewerking met Tshwane

(Foto verskaf deur die Voortrekkermonument)

Noodsaaklike opgraderings wat die Tshwane-metroraad by, en aan die grense van die Voortrekkermonument móét doen, is al vir drie jaar afgekeur.

Die Voortrekkermonument het gevolglik nou ’n petisie van stapel gestuur om beter samewerking met die munisipaliteit te bewerkstellig.

Volgens Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die VTM, moes die grensdrade, waarvoor Tshwane natuurbewaring verantwoordelik is, reeds meer as drie jaar gelede opgegradeer en vervang word.

Aansoek vir hierdie befondsing is by die metroraad gedoen, maar is steeds nie goedgekeur nie.

“Ons sit hier op ’n 341 hektaar plaas. Die nommer een vereiste vir veiligheid op ’n plaas is grensdrade. As die grensdrade nie op standaard is nie, soos wat dit nie nou is nie, dan skep dit ’n enorme veiligheidsrisiko vir almal wat die Voortrekkermonument besoek.

“Ons het reeds van ons kant af verskeie veiligheidsmaatreëls in plek gesit soos hondepatrollies op die terrein, veldwagters wat die natuurreservaatgebied patrolleer, perdepatrollies wat in die veld asook die grensdraad patrolleer, kamerastelsels en nog meer. Ons wil graag net beter samewerking kry met die metroraad, want dit gaan oor gelyke behandeling waar belastingbetalers se geld ons erfenis en ons mense ook moet help veilig hou,” sê Pretorius.

Verder is die beveiliging en beskerming van infrastruktuur buite die grense van die monument ook ’n enorme probleem wat duisende rand se impak op die VTM self het.

Van 20 Maart tot 19 April het die Voortrekkermonument (VTM) spesifiek weens kabeldiefstal, en nie beurtkrag nie, sewe dae sonder elektrisiteit gesit.

Volgens Pretorius moes die monument sedert die begin van die jaar, weens kabeldiefstal, meer as R70 000 se brandstofonkostes aangaan vir kragopwekkers net om die nommer een-toerismebestemming in die hoofstad van die land se deure oop te hou.

“Watter opgradering en instandhouding kon die monument nie gedoen het met daardie geld nie?! Ons belastingbetalers se geld word nie regverdig en vir die regte doel aangewend nie. Hulle steel kragkabels net buite ons terrein en dan moet ons vir dae aaneen wag vir die elektrisiteit om weer aan te kom en ons moet elke keer duisende rand se brandstofonkostes aangaan.

“Ons munisipale rekening beloop meer as R250 000 per maand, dit is seker nie te veel gevra om nie net elke keer die kabels te vervang en weg te loop nie. Jy sit vir die boef die persent onder Kersboom neer, hy moet dit net kom haal. Beveilig die areas beter, want dan gaan jy nie elke keer honderde duisende rand se kabels moet vervang nie,” sê Pretorius.

In die petisie vra die monument dat die Tshwane-metropolisie en berede eenheid ’n satellietkantoor oprig op die terrein waar die monument gratis die grond sal verskaf; die onmiddellike opgradering van die grensdrade; en ontbossing en instandhouding van die ontbossing buite die grensdrade van die monument vir veiligheidsredes.

Die Voortrekkermonument vra nou vir 70 000 mense om die petisie te onderteken vir elke rand wat ons al dié jaar moes spandeer om die monument se deure oop te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nico ·

Wat is fout kry nie dit oop gemaak om die petisie te teken nie.

Lillian ·

Mense mense, dié regering, metroraad, maak nie saak wié nie, gee nie ‘n dooie duit om vir ons geskiedenis of ons herkoms nie!!! Hulle het dit verban in die klaskamers, ons godsdiens word onderdruk. Ons is alleen in die stryd om wat ons sin is, te laat behoue bly vir ons nageslagte

Republikein in die Wes Kaap ·

Een van die dae is daar plakkers langs die grensdraad, en ‘n paar weke later sommer binne die monument.

Harley Davidson ·

Koop die hele terrein by die bankrot staat en bedryf dit as ‘n privaat eiendom, tussen die plus minus 4 miljoen mense is ek seker kan die geld ingesamel word,bou dan ‘n waste to energy plant daarom en maak geld uit die regering vir krag opwekking.

Belinda ·

nie ‘n slegte idee nie – kan miskien dit nog soos ‘n plek maak vir trots afrikaanse mense om te bly – ‘n suburb op sy eie

Belinda ·

Sit ‘n Mandela beeld daar en sien hoe gou word die plek reggeruk…

Taurus ·

Asseblief nee!! Net nie die ou booswig rampokker se beeld of ‘n foto om die terrein te ontsier nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.