‘Vordering’ gemaak ná Transnet force majeure verklaar

Die Durbanse hawe. (Foto: sahistory.org.za)

Transnet sê hy het reeds beduidende vordering gemaak om sy IT-stelsels weer aanlyn te kry. Die meeste geraakte programme is teen Maandag weer herstel.

Die staatsbeheerde onderneming het gister ʼn force majeure (ʼn klousule in kontrakte wat betrokke partye vrystel van aanspreeklikheid of verpligting wanneer ʼn buitengewone gebeurtenis of omstandighede buite die partye se beheer plaasvind) verklaar vir die tydperk sedert 22 Julie.

Volgens Transnet sal dit na verwagting binnekort opgehef word.

Maroela Media het vroeër berig Transnet is die afgelope paar dae lamgelê deur ʼn kuberaanval op sy stelsels. Dit het veral groot ontwrigting vir die hantering van vraghouers by hawens veroorsaak.

Vraghouerterminale by die hawens in Durban, Port Elizabeth, Ngqura en Kaapstad is geraak weens die “kuberaanval, indringing en sabotasie” wat gewone bedrywighede ontwrig het en steeds voortduur, het Reuters berig.

Transnet het Dinsdag gesê ondanks die vordering wat met die herstel van die stelsel gemaak is, kan sommige toepassings steeds die volgende paar dae stadig wees. Die situasie word dopgehou.

Alle bedryfstelsels sal geleidelik weer aanlyn gebring word om verdere risiko’s en onderbrekings te verminder.

ʼn Kort rukkie gelede was Transnet se webwerf egter steeds nie aanlyn nie.

Transnet sê elke vraghouerterminaal by die hawens het ʼn oorgangsplan van ʼn handgeskrewe stelsel na die volle Navis-gedrewe bedryfstelsel opgestel. Navis is die hawens se interne stelsel.

Skepe word soos beplan in die hawe ingebring en op- en aflaaibedrywighede word regstreeks met skeepsmaatskappye hanteer. Maatreëls is ook ingestel om, in samewerking met skeepsmaatskappye en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se doeaneafdeling, die veilige verwerking van elke vraghouer te verseker.

Transnet sê sy gebeurlikheidsplanne het dit vir Transnet-vragspoorvervoer moontlik gemaak om steeds treine te bedryf, maar dat die stelsel nou met die hand gedoen word. “Ons wil alle aandeelhouers en kliënte verseker dat alle prosesse gevolg word vir die veilige bedryf van treine.”

In die geval waar landsgrense oorgesteek en SAID-regulasies nagekom moet word, moet harde kopieë van hul dokumente ingedien word sodat toestemming vir die vertrek van treine gegee kan word.

Transnet sê ook sy werkers is ondanks die ontwrigting wel betaal.

“Die salarisse van Transnet-werkers is betyds verwerk. Daar was nooit twyfel dat ons dalk nie ons verpligtinge teenoor ons werkers sou nakom nie,” lui ʼn verklaring van Transnet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pampoen ·

Wie sou so ‘n kuberaanval loods en wat sou die motief wees? Dis nie sommer iets wat een-of-ander kwaaddoener vir die pret doen nie. Dit sou sekerlik aansienlike bronne verg om dit van stapel te stuur.

marius ·

Waneer jy uitgelewer is aan tegnologie . Slim vang sy baas .

annie ·

Ja-nee, salaries come first of alles brand. Staatsondernemings se kaderkiepies vul mos alle poste. En as die pap aanbrand moet duur helpers toetree om die aanbrandsels uit te krap terwyl die salaristrekkers gou dorp toe is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.