Vrae oor MK se groot verkiesingsplakkate

Hoewel die MK-party se baniere nie aan die Tshwane-metro se standaardgrootte voldoen nie, is dit steeds goedgekeur (Foto: Elisma van der Watt)

Hoewel die grootte van hul baniere nie dié van die Tshwane-metro se standaardgrootte is nie, is die verkiesingsplakkate van oudpres. Jacob Zuma se nuutgestigte MK-party steeds deur die stad goedgekeur.

Die 81-jarige Zuma, wat vroeër tronkstraf opgelê is, se glimlag pryk lewensgroot op die MK-party se verkiesingsbaniere landwyd. Die plakkate, wat ooglopend groter as die meeste ander verkiesingsplakkate is, het vrae oor die grootte laat ontstaan.

Die MK-baniere is op spesiale poliëstermateriaal gedruk, terwyl die meeste ander partye van meer ekonomiese materiaal, soos karton, gebruik maak.

Volgens die Tshwane-metro is die reëls vir nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsverkiesings soos volg:

  • Die standaardgrootte van plakkate ingevolge die munisipaliteit se verordening is A1.
  • Plakkate mag slegs op straatlamppale vertoon word, en mits dit nie binne padreserwes op snelweë vertoon word nie.
  • Die plaaslike munisipaliteit moet die plakkate goedkeur.
  • Die plakkate moet 14 dae ná die verkiesing verwyder word.
  • Daar is geen beperking op die aantal plakkate wat aangebring word nie.
  • Daar is geen boetes betrokke as partye mekaar se plakkate afhaal nie, maar partye kan dit wel by die polisie aanmeld.

Maroela Media het vroeër berig die moontlikheid bestaan dat die MK-party selfs beter as die EFF in die komende verkiesing gaan presteer. Aldus ʼn nuwe peiling kan dit eindelik die derde grootste politieke party in Suid-Afrika word.

Luidens die peiling staan die regerende party se steun in hierdie stadium maar op 39% en dié van die Veelpartyhandves op 33%. Die DA geniet volgens die peiling tans 27% in nasionale steun, gevolg deur die MK-party met 13%. Die EFF se steun staan op ʼn geraamde 10%.

Die Veelpartyhandves blyk aldus die peiling meer gewild as die ANC in Gauteng en KwaZulu-Natal te wees en geniet tans steun van 38% in Gauteng, vergeleke met die ANC se steun van 34%.

Zuma het in 2023 die gesig van die MK-party geword, hoewel hy in daardie stadium ook volgehou het dat hy ʼn lid van die ANC sal bly. Hy is in Januarie vanjaar uit die ANC geskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.