Vrae oor ‘twyfelagtige’ Alexkor-asbestender

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Tneil Abt/Pixabay)

Die DA het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, skriftelik genader oor ʼn asbesverwyderingskontrak in Alexanderbaai en die Alexkor Richtersveld-mynboumaatskappy wat in 2017 aan Babusisekile Business Enterprise toegeken is. Die waarde van die tender beloop R51 miljoen.

Ghaleb Cachalia, die DA se skaduminister van openbare ondernemings, sê dit wil voorkom of daar ʼn aantal onreëlmatighede is met die toekenning en uitvoering van die kontrak.

“Alhoewel die oorspronklike diensvlakooreenkoms vir drie jaar was, is die projek, om asbes te verwyder en ou geboue en strukture te sloop, reeds in Oktober 2018 afgehandel, skaars 16 maande sedert die kontrak begin het. Die DA het egter kommunikasie en klagtes aan Alexkor gesien dat ʼn groot getal van die persele, wat deel gevorm het van die kontrak, nog nie gediens is nie. Die asbes hou ʼn ernstige gesondheidsbedreiging in vir die gemeenskap.”

Die kontrak se omvang het in 2018 ook skynbaar met byna R7 miljoen toegeneem, ʼn ootreding van die nasionale tesourie se kennisgewing in 2017/18. ʼn Verdere R14 miljoen is in 2019 toegeken vir die verwydering van asbes.

“Ernstige vrae oor die uitvoering van die kontrak, asook die inspeksie- en aftekening van die departement van openbare ondernemings moet beantwoord word. Jare ná die kontrak as afgesluit aangemeld is en miljoene rand later, is talle van die betrokke en gevaarlike strukture steeds nie verwyder nie,” voeg Cachalia by.

Alexkor moes ʼn gesamentlike onderneming gewees het tussen die regering en die Richtersveld-gemeenskap ná hulle jare lank vir grondhervorming en mynregte baklei het. “Tot dusver het die gemeenskap bitter min voordeel getrek uit dié onderneming, terwyl hulle die gevoellose verwoesting van hul omgewing en bestaan moes verduur. Dit kan nie voortgaan nie. Minister Gordhan moet ingryp en Alexkor aanspreeklik hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Dit wil voorkom asof alle asbestenders verdag is. Hoe dan so, mnr Gordhan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.