Vragmotor ploeg in Swart Maandag-motors in

Foto: ER24

Drie mense is Maandagoggend beseer toe ʼn vragmotor in talle motors ingeploeg het tydens ʼn Swart Maandag-optog op die N4 in Mpumalanga.

Russel Meiring, woordvoerder van die ER24, het gesê die botsing het sowat 5 km buite Middelburg plaasgevind.

“Paramedici het teen 10:40 op die toneel aangekom waar drie vragmotors en tien motors die hele pad blokkeer het.” Volgens Meiring het talle van die motors omgeslaan tydens die botsing.

Meiring het gesê twee mense het ernstige beserings opgedoen terwyl ʼn derde persoon slegs geringe beserings opgedoen het. “Paramedici het die beseerdes op die toneel behandel voordat hulle na ʼn hospitaal in Middelburg geneem is vir verdere mediese sorg.”

Volgens Meiring het die bestuurder van die vragmotor glo beheer verloor waarna die vragmotor in talle motors wat deel van die Swart Maandag-optog was ingeploeg het.

Heelwat optogte teen plaasmoorde het Maandag in verskeie dele van die land plaasgevind.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het gesê die bestuurder van die vragmotor is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisie kon nie onmiddellik bereik word om die inhegtenisname te bevestig nie.

Foto: ER24

Foto: ER24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.