Vragmotorbestuurders dreig met betoging

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoints) sê geen wetteloosheid sal geduld word indien stakende vragmotorbestuurders wel Sondag op die land se paaie betoog nie.

Athlenda Mathe, NatJoints se woordvoerder, sê alle hulpbronne is ingespan om maatreëls in te stel om enige vorm van geweld of wetteloosheid teen te staan.

Dit sluit die versperring van paaie, plundering en die brand van voertuie in. 

Vergaderings is die afgelope paar dae gehou om die situasie te monitor en moontlike risiko’s te bepaal. Mathe het nie gesê waar die betogings moontlik sal plaasvind nie.

BusinessLive berig dat ʼn groep ontevrede plaaslike vragmotorbestuurders – wat onder meer teen die aanstelling van buitelanders baklei – landwyd wil betoog ter ondersteuning van hul eise wat ook hoër salarisse en lone insluit.

“Multidissiplinêre gesamentlike wetstoepassingsoperasies is onderweg en wetstoepassingsbeamptes is op ’n hoë gereedheidsgrondslag om polisiesigbaarheid te verhoog om enige vorm van misdadigheid te voorkom en te bekamp,” het Mathe gesê.

“NatJoints doen ’n beroep op diegene wat aan die betoging deelneem om dit vreedsaam te doen en ander te respekteer wat nie daaraan wil deelneem nie.”

Mathe waarsku dat enigeen wat buite die raamwerk van die wet optree, die gevolge van hul optrede sal dra.

“NatJoints verseker lede van die publiek dat die wet binne toepaslike voorskrifte toegepas sal word om te verseker dat mense se vryheid van beweging nie ingeperk word nie, en dat stabiliteit reg oor die land heers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.