Vrou hou begrafnis, pleks van wittebrood

Pieter, Livia (2) en Yvette Jones op die egpaar se troudag. (Foto: Verskaf)

Yvette (36) en Pieter (32) Jones was net twee dae lank getroud toe hy Sondag onverwags op hul wittebrood by Mount Amanzi by Hartbeespoort in Noordwes aan ʼn hartaanval gesterf het.

Pieter het die bruilof as ʼn verrassing vir Yvette gereël nadat hul aanvanklike trouplanne deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery is.

Hy is Donderdag in hul tuisdorp in Middelburg begrawe – ʼn dag voor die egpaar, en ouers van ʼn tweejarige dogtertjie Livia, weer sou huis toe keer. Dieselfde dominee wat hulle in die huwelik bevestig het, het ook die begrafnisdiens behartig.

Pieter Jones het sy vrou, Yvette, verlede Vrydag met ’n bruilof verras. (Foto: Verskaf)

Yvette het aan Maroela Media gesê dat Pieter die afgelope ruk met sy gesondheid gesukkel het. Hy was onlangs met varkgriep in die hospitaal opgeneem en was ʼn maand lank in die hoësorgeenheid vir ʼn erge longinfeksie behandel. Die Woensdag voor hul troue het Pieter saam met sy twee broers, Stanley en Martin, gholf gespeel toe hy begin sleg voel het. Hy het daarna aarvoeding ontvang en het teen Donderdag weer beter gevoel – net betyds vir hul troudag.

Yvette sê Pieter het sowat ʼn maand lank aan die verrassingstroue beplan met die hulp van die paartjie se ma’s, asook Yvette se vriendinne en skoonsussie. Sowat 50 gaste het die bruilof op 19 Augustus by Event City in Middelburg bygewoon.

“Alles was perfek, meer as perfek. Dit het só mooi gelyk,” het sy vandeesweek aan Maroela Media gesê. Sy het sowat twee weke voor hul verrassingstroue ʼn rok gekoop en verstellings laat doen met die verwagting dat hulle in Oktober vanjaar sou trou.

“Hy het alles beplan. Daar is vir my gesê ons het ʼn familie-fotosessie. Hy het gereël vir my hare, naels en grimering. Om en by 12:00 het my vriendin by my gestop en gesê ek moet ons huwelikskontrak teken want ek trou 15:00. ”

Yvette sê hul gesin en familie is verpletter. Klein Livia vra ook elke dag na haar pa.

“Ek het aan haar verduidelik dat hy by Liewe Jesus is, maar sy verstaan nie nou nie. Sy het gelukkig twee ooms wat bitter lief is vir haar en vir haar al die liefde sal gee net soos haar pappa gedoen het. Ons sal elke dag vir haar vertel hoe lief hy haar gehad het. Daar is so baie van haar pa in haar.”

Pieter, Livia en Yvette Jones. (Foto: Verskaf)

Yvette sê Pieter was haar beste vriend en haar “mens”.

“Ek kan my lewe nie sonder hom voorstel nie. Alles voel so onwerklik. Ek gaan hom verskriklik mis. Ek is stukkend, stukkend, stukkend. Hy het diep spore in so baie mense se lewens getrap.”

Yvette sê Pieter was ʼn regte terggees wat altyd grappies gemaak het. Sy gaan sy snaakse sêgoed, lekker kos, liefde, omgee en drukkies mis. Sommer net alles van hom.

“Hy het die mooiste hart gehad. Sy poppie [Livia] was alles vir hom. Hy het gelewe vir sy vriende en familie. Hy laat ʼn groot leemte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elene ·

Dit is tragies. Baie jammer vir jou en jul dogtertjie. Wanneer mens dink iemand sal vir altyd daar wees, en so iets gebeur, dan tref die lewe jou. Ek is self 2 keer daardeur. Baie sterkte vir julle.

popsa ·

So baie, baie jammer, Yvette. Verstaan ‘n bietjie, want ek het ook onlangs my man verloor. Dink aan jou, bid vir jou en jou kleinding. Kyk op…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.