Vroue, veral ma’s, steeds minder as mans betaal

Suid-Afrika het die wêreld se grootste salaris ongelykheid met vroue wat steeds 28% minder as mans in die werkplek verdien en ma’s verdien selfs minder as vroue sonder kinders.

Dít volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) se 2019-wêreldloneverslag.

Volgens Casey Rousseau van 1st for Women Insurance is gesamentlike optrede nodig om dié gaping te oorkom. Sy noem die gaping van 1% die “moederskapgaping” omdat vroue sonder kinders meer betaal word as vroue mét kinders, terwyl vaderskap gepaardgaan met ʼn hoër salaris.

“Dit is uiters belangrik dat Suid-Afrikaanse vroue hul waarde ken, en as hulle nie dieselfde as ʼn man in dieselfde posisie betaal word nie, moet hulle hul vrae hieroor vra. Hoe meer ons daaroor praat, hoe meer kan ons saamwerk om ʼn gepaste oplossing te kry,” sê Rousseau.

In ʼn opname deur CareerJunction is bevind dat 60% van mans in Suid-Afrika meen die land het steeds ʼn lang pad om te stap voordat geslagsgelykheid bereik sal word. Vroue het wel sterker gevoel oor dié tema met 72% van hulle wat dieselfde glo.

Terwyl 39% van vroue sê hul geslag het al ʼn negatiewe uitwerking op hulle in die werkplek gehad, het slegs 17% van mense dit aangedui.

“Tensy dié tendens verander word en beleidsriglyne ingestel word met geslagsgelykheid as die middelpunt, sal die situasie waarskynlik verder versleg,” sê Vic van Vuuren, direkteur van ondernemings by IAO.

CareerJunction en 1st for Women Insurance moedig vroue aan om hul waarde deur die volgende stappe in die werkplek te bevestig:

Kennis is mag

Doen die nodige navorsing om te verseker dat jou huidige salaris ooreenstem met jou markwaarde. Daar is talle webwerwe soos hierdie een om jou te help om ʼn akkurate skatting te maak.

Verhef jou stem

As jy voel dat jy meer moet verdien, lê dit voor aan die besluitnemers by jou werk.

Hou rekord van jou prestasies

Van die eerste dag dat jy by jou nuwe werk begin, skryf jou prestasies en suksesse neer. Dit sal belangrik wees wanneer jy vir ʼn verhoging vra.

Kwantifiseer jou bydrae

Jy kan jou argumente versterk met feite: Verskaf syfergebaseerde bewyse van hoeveel jou werk die maatskappy se finansiële posisie verbeter.

As jy jou argument met bewyse staaf dat die werkgewer beter daaraan toe is met jou as werknemer by hul maatskappy en dat jy die ekstra geld werd is, sal dit moeilik wees om jou versoek af te keur.

Hoeveel kos dit om jou te vervang?

ʼn Deel daarvan om jou waarde te ken is om te weet hoeveel dit sal kos om jou te vervang. As jy al ʼn tyd lank by jou maatskappy is, en jy het wel presteer en waarde aan die maatskappy toegevoeg, en jy voel jy word nie genoeg betaal nie, dan is dit tyd om hieraan te dink.

Een onfeilbare manier om dit te doen, is om vir ʼn ander betrekking met meer voordele aansoek te doen en werklik bereid te wees om te bedank as jy dit nie kry nie. Dit is ʼn sterk manier om onderhandeling te begin en dit sal jou maatskappy laat wakker skrik oor hoeveel hulle kan verloor as jy bedank.

Moenie dit persoonlik maak nie

As jy die kwessie te veel “verpersoonlik”, kan jy dit met jou eie opvatting van jou selfwaarde verwar wat daartoe kan lei dat jy goed sê wat jou verhouding met jou werkgewer negatief kan beïnvloed.

Onthou, as jy werklik dít werd is wat jy glo jy werd is, sal iemand anders jou betaal as jou huidige maatskappy dit weier.

Tydsberekening

Dit is menslike natuur om meer vatbaar vir hierdie soort versoeke te wees as dinge goed gaan, so dink oor jou tydsberekening. ʼn Goeie tyd sal byvoorbeeld wees net nadat jy ʼn nuwe kontrak losgeslaan het of as jy ʼn groot rol gespeel het om iemand onder druk te help om teikens te bereik.

Berei goed voor

Ken jou waarde, maar wees realisties daaroor. Wees kalm en oop vir ander aanbiedings, maar volstaan in die soeke na wat jy werklik verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

tweeling ·

So die dag wanneer die meeste mans minder as vroue verdien dan kla die mens weer daaroor hahahah

Vriendelike Frikkie ·

@Annelize – Die mens sal altyd iets kry om oor te kla. Of dit werklik of opgemaak is, daar sal altyd iets wees. Dis eintlik skreeusnaaks hoe voorspelbaar die mensdom is. Toe die gat in die osoonlaag nie meer genoeg media dekking kry nie toe is dit aardverwarming. Staan by, vir nou is dit Corona virus.

Leon ·

Die ding kom by, as ‘n vrou geboorte skenk is sy 4 maande van die werk af. As sy in ‘n belangrike posisie by die maatskappy is, dan is daar ‘n groot gat. Die gat moet gevul word. Die patriargie kyk daarna en ongelukkig bepaal dit hulle besluite. Jy kan nie ‘n bestuurder of direkteur van Checkers of Pick and Pay se rakke af haal nie. Veral nie een wat die produkte of onderneming goed ken nie.

DieKriek ·

Wel, ekskuus dan, maar n vrou wat nie meer kinders kan kry nie behoort dan dieselfde as n man betaal te word. Ek het drie kinders en het nooit een dag kraamverlof gekry nie. Hoekom moet vrouens twee keer so hard as mans werk en dan nog swak betaal word?

Maknemuilius ·

Hulle verdien kwansuis minder……………….maar hulle gee dan meer uit! Hoe werk dit??

Elize ·

Wat help dit om te kla. Ek het dit hoeveel keer al probeer onder die baas se aandag bring en elke keer word gesê die firma kan dit nie bekostig en sal dan maar liewers moet toemaak. Drie jaar laas verhoging gesien en verdien ek beslis nie ‘n fortuin nie. Kom klaar met die basiese en moet seker dankbaar wees dat ek nog wel ‘n werk het. Alles op sy plaas is net die beste en leef hulle soos konings

Hoe nou? ·

Solank vroue dit toelaat, sal dit voortduur. Vroue sal eers ‘n eenparige front moet bou en saamstaan, voor die probleem oorbrug kan word. Nog te veel vroue is ‘te’ dankbaar om ‘n werk te hê en ‘n inkomste te verdien, veral moeders. “Daar is baie mammas wat graag wil werk” of “Niemand is onmisbaar nie” is die eerste troefkaarte op die tafel wanneer werkgewers hieroor konfronteer word. Dit blyk of lojaliteit en hoë werkstandaard gerugsteun deur prestasie dan maar min tel. Dit is tog ook die verantwoordelikheid van personeel agentskappe om vroue se belange te beskerm wanneer dit kom by onderhandeling oor vergoeding, wetend wat mans in dieselfde posisies verdien, maar doen hulle dit? My stuiwer, moet nooit maar nooit ‘n pakket aanvaar waar ‘n verhoging as wortel voorgehou word “na jy jouself bewys het na ‘n sekere tydperk” nie. Betaal maar nou, as hulle nie tevrede is nie, kan hulle jou “fire”.

Jdb ·

Een van my werknemers, ‘n ma wat elke tweede dag ‘n uur hiervoor en daarvoor afvra, hetsy om haar kind af te laai, met huiswerk te help of te paai as hy ongelukkig is, het ook by my op haar bors kom slaan omdat sy kwansuis vir my firma so baie werd is en elke kort-kort om verhoogde salaris of verkorte werksure aandring. Sy het toe aan my ‘n ultimatum gestel, waarna ek haar bedanking aanvaar het en ‘n dame aangestel het wat wou werk. Nou gaan sy sonder werk sit, want niemand gaan met so ‘n selfgesentreerde werknemer opgeskeep wil sit nie.
Verder, hoe kan vroue, wat kinders wil kry, verwag dat hulle bevallingsvelof moet kry en steeds dieselfde as mans verdien? Dit maak net nie sin nie. En moenie vir my sê dat ‘n tydelike werker daardie plek vir 4 maande kan vul nie. Dit neem 3 maande net om iemand in my firma te orienteer. As die werknemer so maklik vervang kan word, is sy nie haar pos en salaris werd nie.

Hoe nou? ·

Ja, mens kry hulle ook, nes jy mense kry wat elke uur ‘n rookbreuk neem. Maar dan is daar die magdom vroue wat elke dat opdaag, hoë standaarde en werksetiek handhaaf, dieselfde werk verrig as die mans om haar. Soggens voor werk hul gesinne versorg en na ‘n lang dag weereens hul gesinne versorg. (Die tendens dat werkgewers dikwels die werknemersooreenkoms sien as ‘n ’oordrag van eienaarskap’ van die persoon, eerder as ‘n ooreenkoms waardeur mense hul dienste aanbied vir ‘n sekere aantal ure per dag teen vergoeding, is lankal verby die punt van billike arbeidspraktyk. Oortyd het die reël geword en nie meer die uitsondering nie. 12 – 14 werksure per dag, word verwag, terwyl vir 9 ure of minder betaal word en dis niks ander nie, as slawerny. ‘n debat vir ‘n ander dag). Feit is, om vroue 28% minder te betaal vir dieselfde werk verrig, as mans, is uitbuiting.

Johan Venter ·

Ek sal graag die statistiek wil sien en van wie dit versamel is, aantal jare van die persoon in diens, ook ras, stedelik, landelik, en dit sê ek nie om ‘n rasding te ontketen nie, maar suiwer oor die realiteit waarmee ons in die land sit.

Beginsalaris by ‘n instansie behoort vir almal, man of vrou dieselfde te wees, buiten nou waar vorige ondervinding of kwalifikasie ‘n rol speel, posbeskrywing, daarna neem meriete oor, posvlakke edm. Dan sal ek ook wil sien dat inligting bestaan oor die betrokke persoon se werksgeskiedenis want dit sal ook ‘n rol speel.

Iets maak nie sin nie.

Sarel ·

Alweer argumente oor die gelyke betaling of behandeling. Vroue is vandag ingestel om die wereld vsn die man te betree dat hulle vergeet hoecbedonders ‘n vrou us en hoe God haar gemaak het. Geen man kan die talent besit wat God asn die vrou gegee het nl. die van Moederskap nie. Dit mask die vrou verhewe bo die man. Maar in hulle stryd tern die man word hierdie feit vergeet en word dit verkoopnvir die spreekwoordelik pot Lensiedop. Die waardes van familie en gesinslewe word vervang na die strewe van mag en geld. Dsmes skrik wakker en wasrdeer wie en wat julle is.

Antoinette ·

Ek is n vrou en voel ek word te min betaal vir al die werk wat ek doen. Ek kla nooit en het nog nooit die moed gehad om vir n verhoging te vra nie. n Ander dame het verlede jaar n baie groot verhoging gekry. Sy sit ten minste 4 tot 5 ure per dag by die bestuurder in sy kantoor. Ons ander is al so gefrusteerd want sy kom met alles weg.

Jakes ·

Daar sal altyd ongelykhede wees na die een of die ander kant toe. Ek weet van vroue in top maatskappye wat uitvoerende posisies beklee wat baie meer geld as mans in soortgelyke posisies in ander maatskappye verdien. In Transnet bv is daar meer vroue in top osisies as mans en hulle verdien groot salarisse.

Amatambo ·

Niks nuuts hier nie – toe ek hier in die vyftigerjare na skool begin werk het, het dit my gegrief dat ek maar ‘n skrale £10 p/m verdien het, terwyl ‘n manlike kollega – jonger as ek – £15 per maand gekry het – selfs Johan (die kollega) wat terselftertyd as ek begin werk het, het ook hieroor gal gebraak, maar nou ja, dit was doerie tyd die staatsamptenaar-beleid -en is nog steeds… en moet nie vergeet hoe OOR-betaal ons MINISTERS en ander HOOGGEPLAASTES vandag word nie – om wat te doen??? In teenstellingmet my tydgenote dat ek en andere maar self ons eie adminwerk moes hanteer – op die kooptoe Saterdae ook halfdag moes werk – het iemand soos – bv. Rmamphosa en andere – seker maklik 10-15 ander wat die adminwerk moet hanteer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.