Vrouewagte gevind ná raaiselagtige verdwyning

Die mans wat die vroue aangetref het. (Foto: Adriaan Botha)

Drie vrouewagte is gevind nadat hulle Woensdag in die vroeë oggendure in raaiselagtige omstandighede verdwyn het. Die vroue was aan diens by ʼn stadion in Kroonstand in die Vrystaat.

Nadat daar wyd en syd na die vermiste wagte gesoek is, is hulle eindelik Woensdagaand opgespoor.

Adriaan Botha, ʼn raadslid in die gebied, het op Facebook aangekondig dat die vroue deur mans, onder wie ʼn polisiebeampte, op ʼn plot aan die buitewyke van Maokeng aangetref is.

“Die wagte was vasgemaak en is in die bosse aangetref,” lui sy plasing.

Al drie wagte was steeds in hul swart Isidingo Security-uniforms.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die vroue was “totaal en al gedisoriënteerd” en “in ʼn slegte toestand”.

Hulle is inderhaas vir behandeling na ʼn hospitaal in die gebied geneem.

Die suksesvolle soektog kom nadat private veiligheidswagte Woensdag om 05:30 by die Seeisoville-stadion se wagkamer aangekom het om die pligte van die vorige aand se wagte oor te neem.

“Tot hul verbasing was die drie vrouewagte wat nagskof gewerk het, nêrens te vinde nie,” sê Kareli.

Mamokgo Julia Tladi (44), Maletsatsi Mofokeng (39) en Gladys Masabata Motoai (37) was net skoonveld. Die drie het boonop hul selfone en persoonlike besittings in die wagkamer agtergelaat.

Die private veiligheidswagte het die polisie na die toneel ontbied en ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur. Lede van die gemeenskap het ook later die dag vergader om ʼn biduur vir die wagte te hou.

Die omstandighede rondom hul verdwyning is nog nie bekend nie, maar die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Sjoe, dit is ‘n groot verligting vir die families dat hul veilig is. Wie kan so boos wees.

Eden ·

Om ‘n “wag” te wees is seker die lekkerste job in die land..jy word immers betaal net omdat jy op ‘n perseel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.