VSA se reisverbod teen SA opgehef

(Argieffoto: Morné van Rooyen)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het die VSA se reisverbod teen Suid-Afrika, Botswana, eSwatini, Lesotho, Malawi, Mosambiek en Namibië opgehef.

Die verbod is verlede maand ingestel om die verspreiding van die Omikron-variant van die koronavirus te stuit.

Biden het Dinsdag ʼn presidensiële proklamasie onderteken wat dié besluit ophef. Dit tree Vrydag in werking.

Die VSA verwag steeds van besoekers om ten volle ingeënt te wees en ʼn bewys van dié inenting te lewer voor hulle aan boord van ʼn vliegtuig na die VSA gaan. Reisigers ouer as twee jaar, ongeag hul nasionaliteit of inentingstatus, moet ook ʼn negatiewe toetsuitslag wys voor hulle aan boord van ʼn vliegtuig na die VSA gaan.

Die VSA – en verskeie ander lande – het verlede maand ʼn streng reisverbod op verskeie lande in suidelike Afrika ingestel nadat die Omikron-variant van die virus in Suid-Afrika geïdentifiseer is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vroeër gemaan teen omvattende reisbeperkings omdat dit internasionale samewerking om die virus te bekamp, in die wiele kan ry.

Die WGO het Dinsdag egter ook gewaarsku dat Omikron steeds ʼn baie groot gevaar vir die wêreld inhou en dat die vinnige verspreiding van die virus gesondheidstelsels kan oorweldig.

Dít ten spyte van vroeë navorsing wat daarop dui dat die variant ʼn matiger vorm van die siekte veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.