WGO waarsku oor Omikron-gevaar terwyl gevalle opskiet

Duisende vlugte wêreldwyd is die afgelope paar weke weens die vinnige verspreiding van die Omikron-variant opgeskort. (Foto: Joe Raedle/AFP)

Die Omikron-variant hou steeds ʼn “baie groot” gevaar in en kan gesondheidsorgstelsels oorweldig, waarsku die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) terwyl die hoogs aansteeklike variant nuwe uitbrekings in talle lande aanvuur.

Die getal nuwe gevalle het verlede week wêreldwyd met 11% opgeskiet en verskeie regerings – van China tot Duitsland en Frankryk – gedwing om ʼn moeilike balans tussen inperkings en die behoefte om ekonomieë en samelewings oop te hou, te vind.

Nederland en Switserland sê Omikron is nou die oorheersende variant in hul lande en hoewel sommige studies daarop dui dat dit ʼn meer matige vorm van Covid-19 veroorsaak, maan die WGO die wêreld steeds om waaksaam te wees.

“Die algehele gevaar in verband met die nuwe Omikron-variant bly steeds baie hoog,” het die Verenigde Nasies (VN) se gesondheidsagentskap in sy weeklikse epidemiologiese bywerking gesê.

“Voortgesette bewyse dui daarop dat die Omikron-variant ʼn groeivoordeel bo die Delta-variant het, met ʼn verdubbelingstyd van twee tot drie dae.”

Die WGO sê vroeë data uit Brittanje, Suid-Afrika en Denemarke – wat tans die wêreld se hoogste infeksiekoers per mens het – dui op ʼn verminderde gevaar van hospitaalopname wanneer Omikron met Delta vergelyk word. Verdere data is egter nodig om die erns van Omikron beter te verstaan.

Ondanks dié bevindings sal Omikron se vinnige toename “steeds lei tot groot getalle hospitaalopnames, veral onder groepe wat nie ingeënt is nie, asook groot ontwrigting aan gesondheidsorg- en ander belangrike stelsels meebring”, waarsku die WGO se Europese Covid-19-voorvalbestuurder, Catherine Smallwood.

Moeilike inperkings

Europa is opnuut een van die brandpunte van dié pandemie wat wêreldwyd reeds meer as 5,4 miljoen lewens geëis het.

Frankryk, Brittanje, Griekeland en Portugal het Dinsdag almal rekordhoë vlakke van nuwe gevalle aangemeld. Frankryk het die afgelope 24 uur byna 180 000 nuwe infeksies opgeteken.

Om die verspreiding te stuit, het talle lande op die vasteland hernieude inperkings ingestel – met kwaai ekonomiese en maatskaplike gevolge.

Kontakbeperkings geld vir die tweede agtereenvolgende Nuwejaar in Duitsland, terwyl Europa se grootste ekonomie nagklubs gesluit en sportbyeenkomste agter geslote deure hou.

Die land het ook private byeenkomste tot 10 ingeënte mense beperk – of twee huishoudings waar enige oningeënte mense teenwoordig is.

Finland het Dinsdag gesê hy gaan oningeënte reisigers verhoed om die land binne te kom. Slegs burgers, noodsaaklike werkers en diplomate word uitgesluit.

Nes Swede het Finland ook ʼn negatiewe toets as ʼn vereiste gestel vir buitelandse reisigers om die land binne te kom, ʼn dag nadat Denemarke dieselfde gedoen het.

Die Belgiese regering se planne om verdere inperkings in te stel is egter gestuit toe ʼn hof ʼn bevel opgeskort het wat vermaakvenues dwing om te sluit.

Eerste minister Alexander de Croo het die aankondiging op 22 Desember gedoen ná ʼn skerp toename in die getal positiewe Omikron-gevalle.

Reischaos  

Die toename in Covid-19-gevalle wêreldwyd het groot ontwrigting aan mense se vakansieplanne veroorsaak en duisende vlugte is gekanselleer.

Sportbyeenkomste is nou ook in die weegskaal. Engeland se topsokkerliga steier onder ʼn rekordgetal nuwe gevalle, terwyl China streng inperkings op miljoene mense ingestel het om die verspreiding van die Delta-variant voor die Beijing-winterspele te verminder.

Mexikostad se burgemeester het gister die stad se reuse-Nuwejaarsviering as voorsorgmaatreël opgeskort nadat daar ook ʼn reusestyging in koronavirusgevalle was.

Van die VSA se voorste sportligas is ook getref, terwyl die land stry teen ʼn toename in nuwe gevalle wat aangedryf word deur die Omikron-variant, asook groot groepe oningeënte mense en ʼn gebrek aan toegang tot vinnige en maklike Covid-19-toetse.

Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer het die isolasietydperk vir asimptomatiese gevalle gehalveer om ontwrigting aan die arbeidsmark en ʼn tekort aan werkers teen te werk.

Pres. Joe Biden sê die VSA is in die algemeen goed voorbereid, maar sommige hospitale kan oorweldig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.