Vurige Bokke maak sake gelykop!

Damian de Allende, Cheslin Kolbe en Malcolm Marx vier Lukhanyo Am se drie. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Wanneer Faf de Klerk praat, kan jy maar luister. Die blondekop-skrumskakel het vroeër die week gesê dat die Springbokke nie net met meer vuur en aggressie in die tweede toets sal speel nie, maar dat hulle alles in die stryd sal werp om die bordjies teen die Britse en Ierse Leeus te verhang.

En dit is presies wat die Suid-Afrikaners vandag in Kaapstad gedoen het toe hulle ’n klipharde wedstryd met 27 – 9 gewen het om die reeks lewendig te hou.

Tog het die eerste 40 minute se spel nie vir die mooiste rugby gesorg nie. Daar was twee geel kaarte (Duhan van der Merwe en Cheslin Kolbe), Pieter-Steph du Toit moes die veld met ’n besering verlaat, die Bokke het bontgestaan op verdediging en die Leeus het met 9 – 6 voorgeloop.

Die twee spanne se spelers het mekaar gereeld “gegroet”. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Dan het die humeurpot gedreig om oor te kook en Ben O’Keeffe moes gereeld hard op sy fluitjie blaas en streng met die spelers praat.

Net ’n vinnige inlassin of twee: Die Nieu-Seelandse skeidsregter verdien darem ’n pluimpie vir die wyse waarop hy die wedstryd hanteer het – hy het goed gekommunikeer en terselfdertyd nie geskroom om besluite te neem nie (al meen iemand soos Nigel Owens dat Kolbe eintlik ’n rooi kaart verdien het). Seker g’n maklike taak ná alles wat in die media oor die blasers gesê is nie.

Die Bokke het duidelik hul les in die eerste toets geleer; waar die besoekers verlede week ná rustyd die septer geswaai het, was dit nou die tuisspan wat in die tweede helfte na ’n hoër rat kon oorskakel.

Suid-Afrika se voorspelers het die Leeus voos gespeel, die plaasvervangers het hul stempel dubbel en dwars op die kragmeting afgedruk en twee goedberekende skoppies (dankie Handré, dankie Faf) het vir lekker drieë gesorg.

Ben O’KeeFfe gesels met Siya Kolisi en Alun Wyn Jones. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Leeus het onder die volgehoue druk geswig, hulle het die een strafskop na die ander afgestaan en selfs hul hoë skoppe – wat verlede week met soveel selfvertroue gelanseer is – het nou hul oorsprong in wanhoop gehad.

As iemand nou ’n video op sosiale media wil laai, kan dit gerus hoogtepunte van die Bokke se spogvertoning in die tweede helfte bevat.

Want hulle het gedoen wat Terminator in die bioskoop beloof het: Hulle is terug en die reeks kan volgende week gewen word.

  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am. Doelskop: Handré Pollard. Strafskoppe: Pollard (5).

Britse en Ierse Leeus: Strafskoppe: Dan Biggar (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gert ·

“al meen iemand soos Nigel Owens…… blah, blah”
Siestog Owens, altyd n eiertjie oor die bokke te lê.

twaalfboor ·

Stem saam met jou Gert. En natuurlik is Owens die toonbeeld van “goeie skeidsregters”

Snowball ·

Bloed in die hare, bloed op die wang
Is dit die leeus wat so huis toe verlang?
Mapimpi en Am en wat anders as die hart van daai Bokskrum – kyk net hoe skielik word die leeu ‘n lam.
Laas week se debakel word dié week ‘n spektakel.
Rooi truie, rooi gesigte, rooi nekke en bottoe is almal se bekke.
BRILJANTE, BRUUSKE, BOBAAS BOKKE!
Gatland old chap, are you ready for the next lap?

MakersMark ·

Bokke het hul pap gespeel. Wonder al die jaloerse af duime……dink Leeu afrigter is een van hulle.
.

Willem ·

Ek sal nou nie liries raak oor die zambucks nie.!!Wonder waarmee is die ref in 2de helfte omgekoop vir die oorwinning nez in die wêreldbeker!!!!Kwotas is hierdie land se sport se ondergang.Ons span gaan nog die all blacks word!!!!!!

MakersMark ·

Am, Mapimpi, Kolisi en Nyakane het die Leeus pap gespeel. Met wie sou jy hul vervang het ? Hulle was wêreldklas gisteraand so hou op snert praat.

piet ·

MakersMark – Presies, ons moet ophou met die kwota twak en die ouens krediet gee as hulle dit verdien. Die betrokke genoemdes het baie goed gespeel en was beslis van die beste spelers op die veld. Nou as ons weer verloor, is dit die “kwotas” se skuld. Ek raak nou bietjie moeg vir die twak. Ons moet in gedagte hou dat meeste van hierdie sogenaamde “kwotas” by die groot rugbyskole hul rugby geleer en speel het. Dis kwaliteit spelers. Eintlik is dit normaal dat hierdie ouens gaan deurkom. In die eerste plek word net die beste van hulle gewerf en kry dan beurse om by die groot rugbyskole hul rugby te leer en te speel. Siende dat meer as 80% van Springbokke in elk geval uit hierdie top rugbyskole kom, is dit onvermydelik dat skitterende speers van kleur gaan deurkom. Hierdie ouens kry die beste beskikbare afrigting van skooldae af. Ek het geen bekommernis dat spelers van kleur deesdae meer die Bok-span sal verswak nie, daai tye is verby.

MakersMark ·

Presies. Solank hul perform is hul nie kwota nie. Bok span gisteraand was briljant. Volgens my is ‘n kwota speler tweede beste en in die span om sekere ras kwota syfers te bevredig. Nie een bok was gisteraand so nie hulle het van die beste in die wêreld van die veld afgespeel. En Kolisi, wat somtyds lyf kan wegsteek, het vir 70 min gewerk en gelei soos dit ‘n bok kaptein beaam. Daar is op gisteraand se vorm geen kwota spelers in die span nie net die beste wat SA het.

piet ·

Kolisi, Mapimpi, Etzebeth, Am baie goed. Die telling het my verras ook nie gedink die Leeus gaan so uitmekaar val in die 2de helfde nie.

Malan ·

Welgedaan bokke. Miskien het die tyd ook nou aangebreek om van kapokhaantjies soos Willie le Roux ontslae te raak. Storm met elke beweging vanaf heelagter met swaaiende arms en groot oop mond en lewer geen regtige bydrae tot oorwinning. En daar is meer sulkes in die bokspan. Terselfdertyd kan Rassie ook maar sy manewales laat staan en hom begin gedra soos wat sy titel vereis

Casper ·

As Kolbe ‘n rooikaart verdien het wat het Itoje verdien wat met sy knie op De Allende se keel gekniel het.Owens is suurstof.

Niklaas ·

Puik spel Bokke. Daar was nie een speler wat vrot gespeel het nie. Ek was vroeër nie te gek oor Kolisi, maar hy het puik gespeel en selfs ‘n seker Britse drie gekeer. Lood het my verras met sy goeie spel. Die Britse leeus gaan’ n verbete poging aanwend om volgende Saterdag die louery in te oes, so ons moet nou net nie te oorgerus raak nie.

SjN ·

Niklaas, hierdie is n once off in n lang tyd gewees, persentasie gewys van sy spel is dit gemiddeld met die klomp kanse wat hy kry, daar is beter spelers op die bench.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.