Vuur in die water

Antonie Pieterse klief deur die water. Foto: Verskaf.

“Môre!” groet Antonie Pieterse vriendelik terwyl hy ʼn mens so vanuit die hoogte staan en beskou.

Moet egter asseblief nie vir een oomblik dink dat daardie vlugtige neerkyk-sessie hoegenaamd iets met selfvoldaanheid of verwaandheid te make het nie; die 17-jarige swemsensasie van Die Hoërskool Menlopark in Pretoria is net deksels lank.

ʼn Rapsie langer as 6 voet en drie duim soos wat die ou mense sou sê. Of dan in vandag se taal – ʼn allemintige 1,93 m.

“Toemaar, my pa voel ook klein,” skerts hy terwyl hy breed glimlag.

Tog is dié gr. 11-leerder se prestasies in die swembad allesbehalwe klein. Menlopark het onlangs ʼn uitnodigingsgala aangebied waar swemmers van gerekende skole soos Grey Kollege, Garsfontein, Waterkloof, Northcliff en Southdowns hul slag kom wys het.

Foto: Verskaf.

Hoewel Pieterse dié betrokke dag siekerig gevoel het, kon hy steeds twee gouemedaljes in die rugslag- en borsslagitems inoes, terwyl sy vryslag- en individuele wisselslag-vaardighede hom ook plekke op die podium besorg het.

Vroeër het hy ʼn negende plek in die 100 m-rugslagitem by die senior nasionale kampioenskap losgeswem.

“Rugslag is my gunstelingitem en in die swembad gee my lengte vir my ʼn definitiewe hupstoot. Ek kan dit met sekerheid sê want ek was nie altyd so lank soos nou nie, en toe het ek gesukkel!”

Swem is ʼn onlosmaakbare deel van sy lewe. Toe hy ses maande oud was het sy ouers hom vir Learn to Swim-lesse ingeskryf, terwyl op agtjarige ouderdom aan sy eerste kompetisie deelgeneem het.

Vanjaar het hy tennis en hokkie vaarwel geroep om uitsluitlik op swem te konsentreer; ʼn sportsoort wat hom soggens om 05:00 uit sy koshuisbed jaag om óf aan sy vaardighede in die water te skaaf óf om aan sy krag in die gimnasium te werk.

“ʼn Swemmer se sukses bestaan eintlik uit 20% fisieke vaardigheid en 80% ingesteldheid; ʼn mens moet ʼn goeie kop op jou skouers hê. Jy moet bereid wees om te fight wanneer dinge moeilik begin raak.”

Antonie Pieterse saam met Chad le Clos. Foto: Verskaf

Hy het emmersvol respek vir internasionale swemmers soos Caeleb Dressel en Michael Phelps, terwyl Suid-Afrika se Chad le Clos ook spesiale vermelding verdien.

“Ek het groot waardering vir die passie waarmee hulle swem, sowel as hul wilskrag om nie net self te verbeter nie, maar ook om te sport te laat groei.”

Ter plaatse het hy al ʼn paar keer teen nóg ʼn jong swemsensasie, die 18-jarige Pieter Coetzé, te staan gekom.

“Pieter is weliswaar ʼn jaar ouer as ek, maar ons is al twee oorspronklik van Noordwes en ons swem al van jongs af teen mekaar. Hy is ʼn ongelooflike goeie swemmer.”

Nodeloos om te sê droom Pieterse ook groot drome en indien hy ʼn swembeurs van ʼn oorsese universiteit ontvang, gaan hy dit met al twee hande aangryp.

Waarom dink hy vaar Suid-Afrikaanse swemmers so goed op die wêreldverhoog?

“Dit is ʼn moeilike vraag,” sê hy voordat hy met die perfekte antwoord vorendag kom.

“Ek dink ons land het ʼn geskiedenis van sterk swemmers en hulle het bewys dat dit moontlik is om internasionaal te presteer. Dit dien as aansporing vir die jonger generasie swemmers om net sulke groot hoogtes te bereik.”

Antonie Pieterse beskik beslis oor die vermoë om in Roland Schoeman, Ryk Neethling of Chad le Clos se goue voetspore te volg.

Pieterse se beste tye:

100 m-rugslag (kortbad): 56,80 sekondes

100 m vlinderslag (kortbad): 56,53 sekondes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.