Vyf dinge om oor Brics te weet

Pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin. (Foto: GCIS)

Die Brics-lande, ʼn afkorting vir die vyf lede – Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – vergader vandeesweek vir die drie dae lange beraad in Johannesburg. Die beraad het Dinsdag begin.

Die lande verteenwoordig 23% van die wêreld se BBP en 42% van die wêreldbevolking. Die blok van lande hoop om Westerse ekonomiese oorheersing in internasionale sake te verminder.

Hier is feite en syfers oor Brics.

Nuwe wêreldorde?

As ʼn groep van ontluikende ekonomieë is Brics in 2009 op die been gebring en vergader die lande jaarliks by ʼn beraad wat deur een van die lidlande aangebied word.

Die vergaderings is gemik daarop om hul posisie af te dwing, veral wat betref die VSA en Europese Unie (EU).

Dit bevorder die erkenning van ʼn multipolêre wêreldorde met ekonomiese en politieke balans, met die doelwit om weg te breek van organisasies wat gestig is in die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog – soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Aansoekers

Die blok, wie se ekonomiese groei hoofsaaklik deur China en Indië gedryf word, is nou ontvanklik vir uitbreiding. Altesame 23 kandidate het aansoek gedoen om by Brics aan te sluit en ʼn amper soortgelyke getal het belangstelling in aansluiting getoon. Onder dié lande is Argentinië, Ethiopië, Iran en Saoedi-Arabië.

Die Nuwe Ontwikkelingsbank is een van die trekpleisters. Dit is in 2015 gestig met die doelwit om ʼn alternatief vir die Wêreldbank en die IMF te bied.

Die bank, met sy hoofkantoor in Sjanghai, het intussen $30 miljard in infrastruktuurontwikkelingsprojekte in lidlande en ander ontwikkelende ekonomieë belê.

Poetin-dilemma

Weens ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming het Russiese pres. Wladimir Poetin aanlyn by die Brics-beraad aangesluit. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Die aanloop tot die beraad het met verhoogde diplomatieke spanning op die wêreldverhoog gepaardgegaan nadat pres. Cyril Ramaphosa die Russiese president, Wladimir Poetin, genooi het. Die Internasionale Strafhof het vroeër ʼn lasbrief vir Poetin se inhegtenisneming uitgereik oor die oorlog in Oekraïne.

Ná maande lange bespiegeling het Pretoria uiteindelik gesê Poetin sal die beraad aanlyn bywoon. ʼn Voorafopgeneemde boodskap van die Russiese president is Dinsdagaand by die beraad gespeel.

Suid-Afrika, wie se regerende ANC-party tydens die Koue Oorlog noue bande met Moskou gesmee het – toe die Sowjetunie sy stryd teen apartheid gesteun het – het geweier om Rusland se inval van Oekraïne te veroordeel.

Weg met die dollar

(Foto: Pepi Stojanovski/Unsplash)

Die vyf lande is verantwoordelik vir 18% van internasionale handel en die meeste van dié transaksies vind in dollar plaas.

Een van Brics se doelwitte – in kritiek teenoor die Amerikaanse dollar se oorheersing in wêreldhandel – is om hom van die dollar los te maak.

Die blok steun die verhoogde gebruik van lidlande se eie geldeenheid vir handel, en die bekendstelling van ʼn gedeelde betalingstelsel op lang termyn.

Brasilië en China het vroeër vanjaar ʼn bilaterale ooreenkoms aangegaan om in hul plaaslike geldeenheid handel te dryf.

Universiteite

By ʼn vergadering van ministers van onderwys van Brics-lande verlede maand is die voorneme bekend gemaak om ook hul eie ranglys vir universiteite te skep.

Moskou glo Russiese universiteite word weens politieke redes van bestaande internasionale ranglyste weggelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ronel ·

Glimlagte is so aangeplak en “fake” – die een is so skynheilig soos die ander!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Almal is so. Ook westerse politici. Biden, Obama, Merkel, Macron. Die hele lot.

Wielspore ·

Die olie prys per vat is tans 84.00 UD, betaling word ook in UD gedoen, ons betaal dus R1523.60 per vat. Uit hierdie oogpunt is daar heelwat voordele vir SA indien Brics as ‘n handels eenheid gebruik word. Die UD is vir ‘n lang tydperk gebruik om lande tot ‘n val te bring en boelie gedrag uit te voer.

skurweberg ·

Die nuwe wêreldorde het ook ‘n gekamofleurde kant waarvan te min mense weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.