Vyf verdagtes wat in verband met renosterstropery gesoek is, is die afgelope naweek in die Noord-Kaap vasgetrek.
Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes is Saterdag in ʼn huis in Bankhara naby Kuruman vasgetrek tydens ʼn gesamentlike operasie van die hoofwegpatrollie van Kuruman, die veediefstaleenheid, sigbare polisiëringseenheid, honde-eenheid en misdaadintelligensie.
Beamptes het op inligting oor vermeende stropers op ʼn plaas in Severn naby Kuruman gereageer.
“Beamptes het onverpoosd gewerk om die plaas waar die stropers glo hul kriminele aktiwiteite sou uitvoer, te beveilig. Verdere intelligensie het hulle gelei om ʼn klopjag by die verdagtes se huis in Bankhara naby Kuruman uit te voer,” het Tawana gesê.
Vyf verdagtes is in die huis in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op ʼn ongelisensieerde aanvalsgeweer wat binne die huis versteek was.
“Die verdagtes staar ʼn klag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen in die gesig en hulle kan moontlik verbind word met ʼn saak van onwettige jag waartydens renosters onthoring is in Severn in Augustus vanjaar. Ons voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes in die Oos-Kaap vir stroop- en onwettige jagaktiwiteite gesoek word.”
Lt.genl. Peter Risimati Shivuri, provinsiale polisiekommissaris in die Noord-Kaap, het sy blydskap uitgespreek oor die vlak van deelname uit die gemeenskap in die geveg teen misdaad.
Korrup korrup
en oormore is hulle weer vry. dan gaan hulle net voort. my vraag bly waar kry hulle die soort wapens ??????
Hierdie wapens kom gewoonlik uit Mosambiek..daar is groot sindikate…
Ek verneem hul is vrygelaat op tegniese redes, is daar nie sekere elemente wat saam werk en deel nie?