Vyf in hof oor AKA-moord

Die vyf mans Donderdagoggend in die hof. (Foto: Skermgreep)

Vyf mans het Donderdag in die Durbanse landdroshof verskyn in verband met die opspraakwekkende moord op die kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes en sy vriend, die sjef en sakeman Tebello “Tibz” Motsoane sowat ʼn jaar gelede.

Lindokuhle Thabani Mkhwanazi (30), Lindani Zenzele Ndimande (35), Siyanda Eddie Myeza (21), Mziwethemba Harvey Gwabeni (36) en Lindokuhle Lindo Ndimande (29) het vanoggend op aanklag van moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie in die hof verskyn.

Die vyf mans het almal vanoggend aanvanklik hul gesigte in die beskuldigdebank bedek. Die landdros het egter aangedui dat daar geen kommer oor die verdagtes se veiligheid is nie en hulle beveel om hul gesigte te wys.

Nog twee verdagtes is vandeesweek in Eswatini in hegtenis geneem in verband met die moord op Forbes en Motsoane. Hulle het weens die uitleweringsproses wat gevolg moet word nié vandag saam met hul medebeskuldigdes verskyn nie.

Bheki Cele, minister van polisie, sowel as Forbes se pa, Tony, het Donderdag die hofverrigtinge bygewoon.

Die saak is met ʼn week uitgestel en die beskuldigdes bly in aanhouding.

Forbes (35) en Motsoane (34) is op 10 Februarie verlede jaar in Floridaweg in Morningside, Durban, doodgeskiet kort nadat hulle aandete by die Wish-restaurant geëet het.

Die polisie het Dinsdag bekend gemaak dat Forbes voor sy dood van die Durbanse lughawe tot by sy hotel in Umhlanga en daarna tot by Wish gevolg is waar hy en Motsoane doodgeskiet is.

Twee gewapende verdagtes het die betrokke aand die straat oorgesteek en Forbes en Motsoane van naby geskiet voordat hulle weggehardloop het. Forbes en Motsoane is albei op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Miena ·

Hoekom sal n mens jou gesig toemaak of verberg as jy niks het om weg te steek nie?

Wicus ·

Sit Cele alweer heeldag in die hof. Plaas gaan ruim hy daai gemors by sy hoofkantoor in Pretoria op.

Misky ·

Darem snaaks dat almal daar staan met maskers aan. Sou sweer covid is terug.

Dup ·

Nou wonder ek net waarom die oorledenes geteiken en vermoor is,bendes,verdowingsmiddels,of wat?

Karoo ·

Hoekom laat sak julle julle koppe….? Kyk op en wees verantwoordelik vir jou dade, en as jy onskuldig is, lig dit dan nog hoer op!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.