Vyf in hof oor besending dwelms na Australië

Die inhegtenisnemings by OR Tambo. (Foto: Verskaf)

Vyf mans het Vrydag in die Kempton Park-landdroshof aan die Oos-Rand verskyn in verband met ʼn reusebesending dwelms (ter waarde van R500 miljoen) waarop daar verlede maand in Australië beslag gelê is.

Die Australiese owerhede het op 7 Oktober op die besending van vyf sakke van 100 kg elk beslag gelê nadat die besending uit Suid-Afrika in Australië aangekom het.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê Stanley Nkuna (33), Justice Mahloma (44), Madimetje Mahangwhane (41), Thulani Sibiya (31) en Fuba Mahlangu (40) is eindelik vandeesweek in hegtenis geneem in verband met dié besending.

Mahlangu en Sibiya is Woensdag by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem en Nkuna in Tembisa. Mahloma en Mashangwhane is in Boksburg in hegtenis geneem.

Die vyf mans in die hof. (Foto: Verskaf)

Al vyf mans het vanoggend in die beskuldigdebank ingeskuif op aanklag van dwelmhandel, die oortreding van die Wet op Burgerlugvaart en die oortreding van die Doeane- en Aksynswet voordat die saak tot volgende week uitgestel is.

Die vyf beskuldigdes sal na verwagting dan aansoek om borgtog doen.

Die presiese besonderhede rakende hul beweerde betrokkenheid is nie duidelik nie.

Mogale sê die moontlikheid van nóg inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.