Vyf sterf in brand by weermagbasis

Brand by Lohatla (Foto via Sanwu/Facebook)

ʼn Brand in die Noord-Kaap het na die Lohatla-weermagbasis versprei en die lewens van vyf mense geëis.

Pikkie Greeff, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu), het gesê die brand het Vrydag na die weermagbasis versprei.

“Vyf lede van die Nasionale Weermag (vier mans en een vrou) is oorlede. Verskeie lede het beserings opgedoen. Verskeie weermagvoertuie asook tente en ander toerusting is in die brand verwoes.”

Sanwu het sy innige meegevoel betuig met die families van die oorledenes.

“Dit is nóg ʼn tragedie wat die lewens van Suid-Afrikaanse soldate geëis het. Dit bring die dodetal op 12 te staan vir die afgelope drie weke.”

Greeff verwys na ʼn ongeluk op 20 September naby Postmasburg in die Noord-Kaap waartydens vier lede van 8 SA Infanteriebataljon (8 SAI) gesterf het. Die tragedie het op dieselfde dag plaasgevind waarin drie lede van die vloot naby Kommetjie in die Wes-Kaap dood is toe ʼn golf hulle van ʼn duikboot afgeslaan het.

ʼn Raad van ondersoek sal deur die SANW aangestel word om, onder andere, te bepaal wat die omstandighede was wat tot die verlies aan personeel en toerusting by Lohatla gelei het en om die omvang van die skade te bepaal.

“Die vakbond moedig SANW-lede by Lohatla aan om sterk te staan en die vakbond se waardering en ondersteuning oor te dra aan die lede se diens aan Suid-Afrika,” voeg Greeff by.

Klik hier vir ‘n video van die toneel.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die SANW, het intussen gesê die brand het Vrydagmiddag teen ʼn windspoed van 70 km/h van ʼn nabygeleë myn na die westelike deel van die opleidingsgebied van die Lohatla-weermagbasis versprei.

“Die voorval het tydens voorbereidings van die komende SA Leër Vukuhlome-oefening plaasgevind. Toerusting wat by die opleidingsentrum versamel is, is beskadig.”

Die hoof van die SA Leër is op die toneel, het Dlamini bygevoeg.

“ʼn Ondersoek duur voort na die oorsaak van die brand van die nabygeleë myn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.