Ondersoek na drie sterf toe vlootoefening skeefloop

(Foto: NSRI Kommetjie)

Die weermag het met ʼn ondersoek begin nadat drie lede van die Suid-Afrikaanse vloot Woensdag dood is nadat ʼn vlootoefening aan die kus by Kommetjie naby Kaapstad skeefgeloop het.

Die drie lede is intussen geïdentifiseer as Gillian Elizabeth Hector, William Masela Mathipa en Mmokwapa Lucas Mojela.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) was die lede besig met ʼn oefening waartydens ʼn Lynx-helikopter van die Suid-Afrikaanse lugmag goedere na die duikboot SAS Manthatisi oorgelaai het.

Die duikboot is egter deur groot branders getref en sewe lede van die vloot is deur die see meegesleur.

“Die vlootoefening is dadelik opgeskort en alle pogings is aangewend om die lede te red,” sê die weermag.

“ʼn Swemmer wat in die helikopter was, is die see ingestuur om te help met die reddingspogings, maar die reddingspogings is deur die rowwe seetoestande belemmer.”

ʼn Noodroep is uitgestuur en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is van Kommetjie ontbied.

Dave Smith, stasiebevelvoerder van NSRI Kommetjie, sê alle wetstoepassingsowerhede, nood- en reddingsdienste, lugmaghelikopters en selfs die brandweer in die omgewing is ontbied om die vloot by te staan met die reddingsoperasie.

Byna 2 km van die kus in die omgewing van die Slangkop-vuurtoring, het die NSRI op drie lede van die vloot afgekom en hulle uit die see gered. Nog vier lede, waarvan een die swemmer was, is deur die NSRI gered.

Volgens Smith het paramedici mond-tot-mond‑asemhaling op twee van die lede gedoen, maar hulle het dit nie oorleef nie. Albei is dood verklaar.

Nog ʼn lid was in ʼn kritieke toestand en is deur ʼn Netcare 911‑lugambulans na ʼn hospitaal geneem. Dié man veg steeds om sy lewe.

“Een lid van die vloot het aan boord van die duikboot gebly en sy is later die dag in ʼn gekoördineerde reddingsoperasie deur die NSRI, lugmag en nooddienste van die duikboot gered,” sê Smith.

“Mond-tot-mond‑asemhaling is op die vrou gedoen, maar sy is later dood verklaar.”

Haar liggaam is saam met die ander oorledenes na die NSRI Houtbaai-stasie geneem en aan die regering se forensiese patologiedienste oorhandig.

Die polisie het ook met geregtelike doodsondersoeke begin.

(Foto: NSRI Kommetjie)

Weermag staar ‘regte risiko’ in die gesig

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-unie het sy medelye met die oorledenes se geliefdes betuig en gesê dié tragedie illustreer opnuut die gevare wat lede van die weermag in die gesig staar.

“Hierdie dien as ʼn bewusmaking aan die publiek oor die ernstige en regte gevare waaraan lede van die weermag hulself blootstel in diens van ons land.”

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het ook sy meegevoel betuig en sy dankbaarheid uitgespreek vir die lede se diens.

“Ons gedagtes is ook by die oorlewendes en ons glo dat hulle ten volle sal herstel,” sê hy.

“Mag almal wat geraak word deur hierdie tragedie vrede en krag vind in hierdie moeilike tyd.”

Die minister en adjunkminister van verdediging, asook die hoofde van die weermag  het hul medelye met die oorledenes se geliefdes betuig.

Hierdie voorval kom enkele dae nadat groot skade aan die kus aangerig is weens ʼn springgety wat gevaarlike fratsgolwe veroorsaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Herman L ·

Dit lyk vir my baie onverantwoordelik om so ‘n oefening te hou terwyl die see reeds vir dae lank baie onstuimig is. Digene wat die oefening beplan het, behoort verantwoordelik gehou te word.

Euodia ·

Ek stem. Maar moes die like nie net oopgemaak word nie? Hoekom het die bemanning buitentoe gegaan? En sulke weerstoestande.

piet ·

Watse like? Ek neem aan die mense weet wat hulle doen, hulle is al jare daar.

piet ·

Se wie? Ek weet dat diegene wat op duikbote gestasioneer is baie keer vir dae onder water is

Jr ·

Kondisies onder water is nie die selfde as surface kondisies cpt Piet Red October

Republikein in die Wes Kaap ·

Die US Navy wel. Ons vloot is meestal op land.

Jr ·

Yeah that’s why SA is so successful because they know what they doing

Gideon ·

Maar as die kok sousbone en kool gemaak het word alle veiligheids protokol geïgnoreer om buite te kom.

Sê maar net ·

Die artikel sê: Die duikboot is egter deur groot branders getref en sewe lede van die vloot is deur die see meegesleur. Hulle was m.a.w. buite.
Jy bedoel seker “luik”?

Jaco ·

Die lewens verlies is jammer, maar die realiteit is daar moet ge oefen word in omstandighede wat jy in gaan operasies doen, kan nie net op die plat water alles doen en geen ondervinding hê in slegte weërs omstandighede nie.

Moes dit in die spesifieke toestand gedoen word, het hulle die regte PPE gedra vir die toestande, kon dit verhoed word, is die regte protokolle gevolg ens sal alles in die Raad van ondersoek bepaal word.

Op die stadium probeer baie families en kollegas sin maak van die

Martin ·

My meegevoel aan die families en vriende van die Submariners wat oorlede is. Die wat al op duikbote gewerk het weet hoe gevaarlik dit is op ‘n duikboot se outer casing tydens rowwe see toestande, veral in die nag wanneer jy nie die swells kan sien nie. Ongelukke gebeur en elke werk het sy risiko’s… – sterkte aan die Kaptein en bemanning van die duikboot.

Hennie Biebouw ·

In my dae het almal buite static lines aangehad, selfs op die dek van die Strike Craft van daai dae? Is dit nie meer ‘n vereiste nie?

schalk ·

tragedie maar dit kon verhoed word eerstens hoekom n oefening hou as die weer dit nie toelaat nie en tweedens baie belangrik hoekom mense op water sit as hulle nie kan swem nie dekades terug was net sterk swemmers toegelaat om by die vloot aan teken deesdae lyk dit my is dit nie die geval nie

Jaco ·

Jou Komentaar is nie op feite gebaseer nie, die Raad van ondersoek sal bepaal wat gebeur het.

piet ·

Hulle moet juis die manoeuvres inoefen tydens die rowweweertoestande want wat maak hulle as dit dieselfde toestande is in oorlogstoestande? Wie se die mense is swak swemmers. Het jyal in die diepsee beland as die toestande rof is?

Republikein in die Wes Kaap ·

Watter oorlog? Teen Amerika? Of dalk Rusland? Nee wag, dis Zimbawe.

Anon ·

Só ‘n oefening in sulke omstandighede moes met die nodige noodbystand geskied het. Dit is tragies dat dit só afgeloop het.

Lian ·

Ek het ‘n vragie of twee. a) Hoekom het sy haarself nie beskerm nie ? b) Hoekom moes die NSRI ingryp ? c) Is dit korrekte dril dat ‘n duikboot bo die oppervlak tydens storms moet wees?

piet ·

Beskerm met wat, sy’s van die boot afgeslaan seker deur ‘n fratsbrander. Die NSRI is daar om te help, maak nie saak wie betrokke is nie. Ja, as ‘n helikopter iets moet optel of aflewer, moet die duikboot bo die oppervlak wees sou ek dink. Klink vir my heel logies.

Alida ·

Sy was blykbaar binne-in die duikboot. Het die water ingespoel en toe het sy verdrink?

Jacobus ·

Piet beskerm met n ordentlike lifejackets wat n moet is op n boot op water.

JohanR ·

Is die “hatch” oop gemaak en die lede is buite toe vir ‘n sigaret, vir soe bietjie lug, om te staan en gesels???????????????

vuurvliegie ·

Ek onthou daai ongeluk waarvan jy praat. Die Vlugtoring was besig met AA Opleiding die dag.

Sê maar net ·

Innige meegevoel aan al die familie en vriende. Dis baie hartseer, tragies. Baie sterkte aan die bemanningslede wat nog aansterk.

Karel Kobus Kruger ·

Gelukkig sal so n tragedie nie weer gebeur nie. Met die volgende oefening sal die lugmag nie meer n enkele werkende helikopter hê nie. En die vloot ook nie meer n enkele “dryfboot” nie.

Alida ·

Reddingsbaadjies? Met ‘n tou aan die duikboot vas as jy op dek is om vrag te ontvang?

George ·

Ten spyte van die erge weersomstandighede aan die kaapse kus het die vloot steeds beslis dat die oefening sal voortgaan .,.was dit wys van die offisiere in beheer en is alle veiligheids maatreels en risikos oorboord gegooi ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.