Vyf sterf in Vrystaat-botsings

Die ongeluk naby Bloemfontein: Foto: Verskaf

Die ongeluk naby Bloemfontein: Foto: Verskaf

Vyf mense is sedert Donderdag dood in twee afsonderlike botsings in die Vrystaat.

In die jongste voorval is drie mense dood en twee ernstig beseer toe twee voertuie Vrydag in die vroeë oggendure op die N1-noord, sowat 45 km buite Bloemfontein, gebots het.

“Ná die botsing het een van die voertuie van die pad af geswenk en die ander een het omgeslaan en op sy dak tot stilstand gekom,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê.

N1 1

Die bakkie het op sy dak beland ná die botsing naby Bloemfontein. Foto: Verskaf

Drie mense wat in die motor langs die pad aangetref is, was reeds dood met die nooddienste se aankoms. Hul liggame moes deur die brandweer uit die wrak gesny word. “ʼn Passasier in dié voertuig en die persoon in die ander voertuig het ernstige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer en na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

In die ander voorval is twee mense dood toe twee bakkies Donderdagaand op die R26, sowat 15 km buite Reitz in die rigting van Tweeling, gebots het.

“Een persoon is tydens die impak uit ʼn bakkie geslinger. Hy was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.”

ʼn Vrou het ernstige beserings opgedoen en was in die wrak van een van die bakkies vasgekeer en moes deur die brandweer uitgesny word.

Twee pasiënte het matige beserings opgedoen. Die drie mense is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar die vrou aan haar beserings beswyk het.

Die oorsake van die botsings is onbekend en word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.