Vyf transitorowers in hul spore gestuit

Die geld wat tydens die transitorooftog gebuit is (Foto: Verskaf)

Vyf rowers wat na bewering Dinsdagoggend veiligheidswagte van geld by ʼn vulstasie langs die N1-snelweg in Limpopo beroof het, is kort daarna in hegtenis geneem.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, sê ʼn onbekende aantal rowers het die oggend die wagte wat geld by die vulstasie naby die Capricorn-tolplaza, tussen Polokwane en Louis Trichardt, opgelaai het, oorval en beroof.

“Die polisie is onmiddellik van die rooftog in kennis gestel en het ʼn soektog na die rowers van stapel gestuur.”

Die polisie het slegs ʼn paar kilometer weg van die vulstasie een van die rowers se wegkommotor gewaar en die verdagtes in hul spore gestuit. Die motor het in die rigting van Louis Trichardt beweeg.

Vyf mans, tussen die ouderdomme van 33 en 38, is in hegtenis geneem.

Van die vuurwapens waarop beslag gelê is (Foto: Verskaf)

Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op die motor, vyf vuurwapens en ammunisie sowel as ʼn groot bedrag kontant.

Die rowers sal na verwagting eersdaags in die landdroshof in Louis Trichardt verskyn op aanklagte van gewapende roof sowel as die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die polisie is op soek na nog verdagtes wat moontlik aan die rooftog verbind kan word.

Genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het die Limpopo-polisie se vinnige reaksie geloof.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die ander verdagtes kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.