Vyf van Tshwane voorlopig geskors oor Rooiwal-tender

Die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg. (Foto: Tshwane-metro/X)

Die Tshwane-metroraad het vyf amptenare voorlopig geskors in verband met die omstrede Rooiwal-tender.

Die skorsing volg op ʼn jaar lange interne dissiplinêre proses wat die amptenare skuldig bevind het op een van die altesame vier aanklagte teen hulle.

Die stad het Woensdag briewe oor die metroraad se voorneme om hulle te skors aan die vyf gegee en hulle is ʼn kans gegun om ʼn voorlegging te doen oor hoekom hulle nie geskors moet word nie. Vrydag is besluit om hulle met volle vergoeding te skors, sê Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metroraad.

Die straf – weens die skuldigbevinding op een van die vier aanklagte – was skorsing van ʼn maand sonder salaris.

“Die stad verskil hewig met die uitkoms van die dissiplinêre proses en het besluit om teen die uitkoms daarvan by die arbeidshof te appelleer. Die stad is van mening dat [die amptenare] se voortgesette teenwoordigheid by die werkplek nadelig vir die bestendigheid van die munisipaliteit sal wees,” sê Bokaba.

Die amptenare is beskuldig van growwe nalatigheid of pligsversuim en dat hul optrede gelei het tot die oortreding van verskeie wette, beleide en gedragskodes.

Die klagte teen hulle behels onder meer dat hulle: Blackhead Consulting toegelaat het om na die volgende stap van die evalueringsproses te vorder sonder dat die maatskappy by die Ontwikkelingsraad vir die Konstruksiebedryf geregistreer is; dat besluite konsensusgedrewe was, eerder as dat ʼn onafhanklike evaluering as lede van die bodkomitee gedoen is; dat Blackhead Consulting toegelaat is om professionele dienste te lewer terwyl die stad reeds ʼn maatskappy aangestel het om hierdie diens te lewer; en, deur af te wyk van die voorgeskrewe spesifikasies vir die tender.

Die amptenare is nie aan die eerste drie klagte skuldig bevind nie, maar wel op die vierde een. Die voorsitter van die dissiplinêre raad se aanbeveling was ʼn onbetaalde skorsing van ʼn maand. “Die stad was teleurgesteld en het verskil van die voorsitter se bevindings en besluit om ʼn regsmening in te win,” sê Bokaba.

Die regsmening het gelui dat die vyf afgedank moes word nadat hulle skuldig bevind is aan die vierde aanklag teen hulle.

Die stadsbestuurder, Johann Mettler, het besluit om die amptenare met volle vergoeding te skors, hangende ʼn hersiening van die beslissing en in die lig van die aard en erns van die aanklagte, asook die feit dat die vertrouensverhouding onherstelbaar verbrokkel het.

Mettler sê die betrokkenes is senior amptenare van die munisipaliteit en die meeste van die lede van die bodbeslissingskomitee is ingenieurs wat die spesifikasies wat vereis is behoorlik in ag moes neem toe die tender geëvalueer is.

Blackhead Consulting behoort aan korrupsiebeskuldigde Edwin Sodi. Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ondersoek die maatskappy weens onafgehandelde opgraderingswerk aan Tshwane se Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg. GroundUp berig die Tshwane-metroraad het die tesourie al in Februarie gevra om Blackhead Consulting op die lys van beperkte verskaffers te plaas.

Sodi staan intussen in die Vrystaat tereg vir sy beweerde betrokkenheid by die asbesouditskandaal van R255 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.