Vyf vas wat hawelose glo doodslaan

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Vyf mans is Donderdagaand in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n hawelose man in Gqeberha in die Oos-Kaap.

Volgens kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het die Gqeberha-polisie se honde-eenheid, die blitspatrollie en metropolisie om 21:15 Rinkstraat in die middestad gepatrolleer toe hulle ’n groep mans gewaar wat langs ’n man wat in die straat lê, gestaan het.

“Die persoon was erg aangerand en het aan sy beserings beswyk,” bevestig Janse van Rensburg.

Volgens inligting het die vyf verdagtes ’n groep haweloses aangerand terwyl hulle geslaap het. Hulle het die oorledene na bewering doodgeslaan en geskop.

“Die verdagtes het na ’n vulstasie in die straat gevlug, maar die polisie het vinnig gereageer en hulle aangekeer.”

Die verdagtes, tussen 31 en 41 jaar oud, sal Maandag in die landdroshof in Gqeberha verskyn op aanklagte van moord.

Die oorledene se identiteit is nog nie bekend nie en hy is vermoedelik in sy 50’s.

Die polisie vra die publiek se hulp om die oorledene se familie op te spoor sodat hulle die man kan identifiseer. Enigiemand met meer inligting kan konst. Ridwaan Baatjies van die Humewood-polisie by 073 130 3018 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Retha ·

Dit gaan net erger word. Ons moet nader aan God beweeg en bid soos nooit tevore dat ons regering tot inkeer moet kom, want die grootste oorsaak van al hierdie seer lê by die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.