Vyf weer in hof oor AKA-moord

Die vyf mans tydens hul eerste hofverskyning.(Foto: Skermgreep)

Vyf van die sewe mans wat verbind word aan die moord op die kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes en sy vriend, die sjef en sakeman Tebello “Tibz” Motsoane, het Woensdag weer in die Durbanse landdroshof verskyn.

Twee bykomende aanklagte van geldwassery is intussen by die klagstaat gevoeg.

Lindokuhle Thabani Mkhwanazi (30), Lindani Zenzele Ndimande (35), Siyanda Eddie Myeza (21), Mziwethemba Harvey Gwabeni (36) en Lindokuhle Lindo Ndimande (29) het Woensdag vir ’n tweede keer die beskuldigdebank ingeskuif.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê sekere aspekte van die saak is in die hof nagegaan ter voorbereiding van die verdagtes se borgtogaansoeke.

Die datums 14, 18, 19 en 27 Maart is neergepen vir die aanhoor van die borgtogaansoeke.

Die verdagtes bly almal tot dan in aanhouding.

Die mans staan nou tereg op aanklag van moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie sowel as geldwassery.

Maroela Media het vroeër berig nog twee verdagtes word van betrokkenheid by die moorde verdink. Die twee is egter in Eswatini in hegtenis geneem en het weens die uitleweringsproses wat gevolg moet word, nog nie saam met hul medebeskuldigdes in die hof verskyn nie.

Forbes (35) en Motsoane (34) is op 10 Februarie verlede jaar in Floridaweg in Morningside, Durban, doodgeskiet kort nadat hulle aandete by die Wish-restaurant geëet het.

Forbes is voor sy dood van die Durbanse lughawe tot by sy hotel in Umhlanga en daarna tot by Wish gevolg waar hy en Motsoane doodgeskiet is.

Twee gewapende verdagtes het die betrokke aand die straat oorgesteek en Forbes en Motsoane van naby geskiet voordat hulle weggehardloop het. Forbes en Motsoane is albei op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Is rerig verby tyd dat jy nie jou gesig in die hof mag weg steek nie. Ek dink nie ek het dit al ooit iewers anders in die wereld gesien nie. Ek is rerig verbaas dat ‘n regter nie al gese het “wat weg daai hoodie, ek wil jou gesig sien!”

melaney ·

Vir hoe lank sal dié hofsaak uitgerek wees. Tien jaar? Dalk langer.

annie ·

Ja, dis nodig dat mense die boewe sien en meer inligting kan so bekom word. Ons is darem nou dik vir die ewigdurende soapie-hofsake waarvan al die detail gegee word. Kinders word nie in howe toegelaat nie maar kan dit op tv sien. Hoeveel mense word in SA vermoor en verkrag maar net ‘n paar kry Oscar-status.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.