Vyfjarige dood in oom se huis gekry

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Die liggaam van ʼn vyfjarige dogtertjie is Saterdagoggend in haar oom se huis in Alexandria in die Oos-Kaap gevind. ʼn 43-jarige man is intussen in hegtenis geneem en van moord aangekla. ʼn Klag van verkragting kan moontlik ook teen hom aanhangig gemaak word.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die meisie is vermoedelik met ʼn graaf vermoor.

Die polisie is Saterdag teen 05:40 deur die verdagte na sy huis in Pendustraat in Kwanonqubela ontbied waar hulle klein Siphenathi Xhali se erg mishandelde liggaam aangetref het.

Sy het op die sitkamervloer gelê.

“Die verdagte was baie dronk en onsamehangend. Hy was nie in staat om te verduidelik wat gebeur het nie,” het Naidu gesê.

“Die slagoffer het veelvoudige wonde aan haar lyf gehad. Sy is vermoedelik met ʼn graaf vermoor wat later in die bure se erf gevind is. Die kind is vermoedelik ook verkrag. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om dié vermoede te bevestig.”

Volgens die polisie het die kind se ma haar ongeveer Vrydag om 14:00 by haar pa se huis afgelaai. Haar pa het die kind glo by die oom se huis langsaan gelaat.

Die verdagte sal sal binnekort in die Kenton-On-Sea-landdroshof verskyn.

Die provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, lt.genl. Nomthetheleli Lillian Mene, sê die wreedheid van geslagsgebaseerde geweld is uiters kommerwekkend.

“Dis skokkend dat gemeenskappe versuim om ons kinders te beskerm. Baie kinders word vermoor deur mense wat hulle ken, liefhet en vertrou.

“Hierdie mense is gemeen en harteloos, en daar moet beslissend teenoor hulle opgetree word – veral as dit by vroue en kinders kom. Tragedies soos dié is uiters ontstellend, veral tyens die 16 dae van aktivisme-veldtog teen geweld op vroue en kinders. Dis tyd dat almal saamstaan om ʼn einde aan hierdie geweld te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rocco ·

Wat lt. gel. Nomthetheleli Lillian Mene sê is waar – “Hierdie mense is gemeen en harteloos”. Rus in vrede klein Siphenathi.

Kweperlat ·

Hoeveel keer moet dit nog gesê word:? Hierdie soort wreedaards verdien die doodstraf! Bring dit terug!

Wondermaarnet ·

RIV kleinding. Mag geregtigheid geskied en die monster wat haar so mishandel en vermoor het sy dag in die tronk kry.

Swerwer ·

Simpatie met die dogtertjie se ouers. Sluit toe en gooi die sleutel weg. Iemand skuldig aan so ‘n misdryf beslis nie welkom in die gemeenskap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.