Waar is Valke se waghond?

Bheki Cele, minister van polisie

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

ʼn Spesiale verslag wat vroeër vandeesweek bekend gemaak is, onthul dat die minister van polisie, Bheki Cele, vir byna twee jaar versuim het om ʼn waghond vir die Valke aan te stel.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, sê ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet die minister ʼn afgetrede regter aanwys om toesig oor die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (DPCI) – ook bekend as die Valke – te hou.

“Die regter by die kantoor van die Valke is ʼn integrale element om die behoorlike funksionering van die Valke te verseker. Dit is die eerste linie van verdediging teen kwaadwillige eksterne invloed en politieke inmenging met die Valke se deurslaggewende mandaat om nasionale prioriteitsmisdrywe en bewerings van korrupsie te ondersoek.”

Whitfield sê die spesiale verslag het aan die lig gebring dat Cele die totstandkoming van die onafhanklike liggaam om elke draai frustreer het; van die weiering om die kantoor van die Valke-regter behoorlik te finansier en te beman, tot die weiering om die termyn van die vorige Valke-waghond te verleng.

Cele het Woensdag tydens ʼn vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie die skuld vir die versuim om ʼn waghond vir die Valke aan te stel op die minister van justisie en korrektiewe dienste, asook die hoofregter, gepak. Hy voer aan daar is nie met hom vergader om die pad vorentoe te bepaal nie.

Whitfield sê hoewel dit die minister se direkte mandaat ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens is, het Cele geweier om enige verantwoordelikheid te aanvaar vir die vertragings met die proses.

“Die DA gaan nou aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie skryf om te versoek dat die minister van justisie en korrektiewe dienste asook die minister van polisie voor die komitee verskyn sodat ons by die kruks van die saak kan kom.

“Min. Cele is verantwoordbaar teenoor die parlement en die mense van die land en hy moet verduidelik hoekom hy weier om so ʼn belangrike pos te vul.

“Terwyl gewelddadige en georganiseerde misdaad in die land buite beheer raak, hou pres. Ramaphosa aan om aan sy mislukte minister van polisie vas te klou,” sê Whitfield.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Danie ·

Ramaphosa moet aan Cele vashou want Cele weet iets wat ons nie weet nie

Nie Verbaas ·

Ramaphosa aan om aan sy mislukte minister van polisie vas te klou,” Ek het n beter woord vir mislukte maar mag dit nie hier noem nie.

Kokerboom ·

Hierdie man was en is ‘n totale verleentheid vir SA! Watter houvas het hy op President?
Gee SP so min om vir ons land?

Oosieoos ·

Soos gewoonlik alewig afwesig. Wonder of hy tussen dag en nag kan onderskei

Roek ·

So wie gaan hom voor stok kry omdat hy nie sy werk reg doen nie en uiters nalatig is en was ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.