Waarnemende SAID-kommissaris se termyn verleng

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Mark Kingon se termyn as waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is met nog 90 dae verleng.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Vrydag bevestig Kingon sal vir nog minstens drie maande aan die hoof van die inkomstediens staan. Kingon neem al in die pos waar sedert pres. Cyril Ramaphosa vir Tom Moyane in die pad gesteek het.

Moyane se poging om sy werk terug te kry het vroeër vandeesweek misluk.

Artikel 7 van die SAID-wet bemagtig die minister van finansies om ʼn waarnemende kommissaris aan te stel, maar ʼn permanente aanstelling moet deur die president gedoen word.

“Die minister van finansies sal die president bystaan om onmiddellik met die proses te begin om ʼn nuwe kommissaris vir die SAID aan te stel,” het die departement Vrydag gesê.

“’n Advertensie vir die pos sal hierdie naweek gepubliseer word. Die minister sal gevolglik ʼn kortlys saamstel, asook die name van die lede van die onderhoudspaneel, vir die president se goedkeuring. Ná die onderhoud, wat na verwagting in vertroulikheid sal geskied, sal die paneel ʼn kandidaat, of kandidate, vir die president aanbeveel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oud Rhodie ·

Stel Mnr. Kingon permanent aan. Hy doen goeie werk. Of is die pos gereserveer ?

zoom zoom ·

Pos word gehou Dudu. Sy het so goeie werk van SAL gemaak. Of dalk vir Brain Mollefi kyk hoe het hy Eskom uit die as gelig met Sy vaardigheid.

Pietman ·

Advertensies is mors van tyd – die beste kandidaat sal nie aangestel word nie – die hele proses is slegs ‘n rookskerm om ‘n kader te ontplooi – sal verbaas wees as Cyril besluit om die regte ding te doen maar die probleem is dat sulke besluite eerder polities gemotiveerd is as rasioneel. Die ANC se uitvoerende komitee het waarskynlik ook ‘n sterk invloed al is dit die President se prerogatief om sodanige aanstellings te doen. Ons wag in spanning om te sien of die aanstelling in belang van die land of in belang van die ANC gaan wees.

Lol ·

Hier kom nog ‘n skandaal waarvoor nog ‘n kommissie aangestel gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.