Warner Music koop Coleske Artists

Coleske Artists Management, die onafhanklike platemaatskappy onder leiding van Arnold Coleske, Brendon Hargroves en Paulo Azavedo, het pas aangekondig hy word deur die internasionale platemaatskappy Warner Music Group uitgekoop.

Coleske Artists sal egter steeds as ’n enkelonderneming na afloop van die oorname bestuur word.

Warner en Coleske se sake-ooreenkoms is die jongste van vele mylpale vir Warner Music se uitbreiding in Afrika sedert dié maatskappy in 2013 sy Suid-Afrikaanse filiaal geopen het.

Ander ooreenkomste sluit in Chocolate City van Nigerië in 2019, die vennootskap met Ziiki Media en Africori-beleggings in 2020 asook ʼn ooreenkoms met Diamond Platnumz se WCB-Wasafi-platemaatskappy vroeër vanjaar.

Die Coleske-groep het ʼn beduidende markaandeel in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en fokus meestal op Afrikaanse popmusiek en kunstenaars soos Appel, Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Dewald Wasserfall, Elvis Blue, Jay, Karlien van Jaarsveld, Riaan Benade, Riana Nel en Ruhan du Toit.

“As oud-kunstenaar en platebaas het ek die musiekbedryf van albei kante leer ken en ervaar,” sê Arnold Coleske.

“Ons het ʼn ongelooflike maatskappy opgebou en hierdie belegging deur Warner Music beteken nuwe hoogtes vir ons groep. Ons kunstenaars sal geweldig baat vind by Warner Music se wêreldwye netwerk, terwyl hulle steeds dieselfde ondersteuning en aandag sal ontvang van die Coleske-span wat hul nog altyd geniet het.”

Heelwat van die Coleske-kunstenaars sing ook graag countrymusiek, ’n genre wat al baie jare lank gewild is onder Suid-Afrikaners.

Deur by Warner Music se wêreldwye netwerk in te skakel beteken dit groter toegang tot internasionale geleenthede en hopelik selfs samewerking met kunstenaars en skrywers van ander lande, insluitende kunstenaars van Warner Music Nashville.

Coleske het ook ’n reusemarkaandeel wanneer dit kom by konserte en vermaakgeleenthede wat in Suid-Afrika aangebied word, met die gewilde Afrikaans is Groot-konsert as die vlagskip-produksie.

Hierdie konsert is die grootste musiekgebeurtenis in Suid-Afrika en die grootste Afrikaanse konsert ter wêreld. Die bekwame kundigheid van die Coleske-span sal ook aangewend word tot voordeel van Warner Music se plaaslike en internasionale kunstenaars, wanneer hulle konserte in Suid-Afrika hervat.

’n Ander groot aanwins is die treffer werklikheidsreeks, Die Kontrak, wat daarop gemik is om nuwe talent te ontgin. Vele rolspelers by Coleske, asook van die kunstenaars wat deel is van die groep, dien as mentors en beoordelaars op hierdie program.

ʼn Engelse weergawe word ook reeds ontwikkel en Warner Music beplan tans om die Engelse formaat uit te brei na ander ontluikende markte in Afrika.

“Dit is ʼn opwindende vennootskap wat ons teenwoordigheid in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en die ontwikkeling daarvan verseker. Dit bied ook fantastiese ondersteuning vir Coleske se kunstenaars wêreldwyd,” sê Alfonso Perez-Soto, president van Warner Recorded Music in ontluikende markte.

“Ons is nie net besig om ons mededingers, wat reeds jare lank aktief in hierdie mark is, in te haal nie, maar ons wen hiermee ook die resies. Ons gaan ook Coleske se kundigheid rondom konserte en produksies inspan tot voordeel van al ons kunstenaars in Suid-Afrika, hetsy plaaslik of internasionaal. Dit sal verseker dat al ons kunstenaars se waardeproposisie beduidende voordeel sal geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karinb ·

Veels geluk aan almal betrokke, dis uitstekende nuus vir sowel die kunstenaars as ons, die luisteraars , en natuurlik vir die bestuur van Coleske Artists. Baie sukses en sterkte vir die toekoms. Ons sien uit na groot dinge!

jou gewete ·

baie geluk, dis n groot prestasie. Harde werk dra altyd vrugte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.