Waterkrisis dreig as departement nie ingryp

(Foto: Andres Siimon / Unsplash)

Die onlangs uitbreking van cholera in Gauteng en nou die Vrystaat, asook die sistematiese ineenstorting van waterbehandelingsaanlegte landwyd is dalk simptome van ʼn nasionale waterkrisis.

Die DA is bekommerd dat die departement van water en sanitasie se gebrek aan ingryping in die land se watersituasie grootskaalse noodlottige gevolge kan inhou.

Die uitbreking van cholera in Hammanskraal het verlede week aan die lig gekom toe tientalle mense by die Jubilee-distrikshospitaal met simptome van diarree, maagkrampe en braking aangemeld het.

Minstens 21 mense het sedertdien weens cholera in Gauteng gesterf.

Watermonsters wat onlangs in ʼn deel van die Vaalrivier by Parys geneem is waar daar gereeld rioolstortings is, het ook positief getoets vir cholera én E. Coli.

Leon Basson, die DA se woordvoerder van water en sanitasie, sê die waterbesoedeling in die Vaalrivier moet so gou moontlik aangepak word.

“Die gesondheid en welstand van ons mense is op die spel. Dit is noodsaaklik dat onmiddellike stappe gedoen word om die voorsiening van skoon en veilige drinkwater te verseker,” sê hy.

Die DA het reeds aan die minister geskryf en vrae oor hierdie waterkrisis gerig.

“Suid-Afrikaners verdien om te weet hoe wydverspreid hierdie cholera-krisis is, hoe dit ʼn uitwerking op veilige drinkwater het en wat die departement proaktief sal doen om die krisis aan te pak.”

Mariette Pittaway, die DA se woordvoerder van gesondheid, sê nadat dit aan die lig gekom het dat die Vaalrivier met cholera én E. Coli besmet is, is die LUR van gesondheid in die Vrystaat gevra om die provinsiale wetgewer by te woon om vrae daaroor te beantwoord. Dié het glo nooit opgedaag nie.

“Ondanks die DA se pogings het die provinsiale regering versuim om hierdie verskriklike menseregteskendings aan te raak, wat inwoners aan die genade van hul nalatigheid oorlaat,” sê Pittaway.

Na gelang van die jongste ontwikkelings oor die saak het die DA besluit om ʼn dringende en landwye oorsigbesoek aan alle watersuiweringsaanlegte te begin.

ʼn Aanvanklike ondersoek wys daarop dat minder as 10% van die land se aanlegte optimaal funksioneer. Meer as die helfte se standaard is óf medium risiko, hoë risiko óf kritiek. Slegs 9% van watervoorsieningstelsels het omvattende waterveiligheidsplanne met alle vereiste komponente.

“Dit is baie duidelik dat die ANC-regering nie in staat is om die basiese dienste te lewer wat Suid-Afrikaners verdien nie, soos blyk uit die gebrek aan ʼn volhoubare en betroubare voorsiening van skoon drinkwater, beurtkrag wat die ekonomie lamlê en die lewenskoste wat buite beheer raak,” sê Basson.

“Die DA sal aanhou veg vir die regte en welstand van ons burgers, en ons sal nie rus totdat die kritieke ineenstorting van die land se waterinfrastruktuur die dringende aandag kry wat dit nodig het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.