Waterveiligheid: Wat ouers moet weet

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Skokkende berigte van babas, peuters en kinders wat sterf as gevolg van verdrinking verskyn byna daagliks in die nuus. Onlangs het die verdrinking van Enock Mpianzi, ʼn gr. 8-leerder van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg, opslae gemaak en weer die uiterse belangrikheid van waterveiligheid, swemvaardighede en toesig deur volwassenes beklemtoon.

Volgens die webwerf van die Wes-Kaapse regering is verdrinkingsyfers die hoogste onder kinders tussen die ouderdomme van nul tot vier, gevolg deur ouderdomme vyf tot 14.

Statistieke SA sê in die Wes-Kaap alleen is altesaam 1 473 noodlottige verdrinkingsinsidente tussen 2010 en 2017 aangemeld. Sowat 30,2% van alle verdrinkings in Suid-Afrika is kinders jonger as 15.

Lizette Botha, eienaar en hoofafrigter van die Kiddies Aqua-swemskool, glo daarom dat kinders so vroeg moontlik waterveilig gemaak moet word. Botha spesialiseer daarin om babas van so vroeg as ses maande te leer hoe om in die water op hulle rûe te draai en met hulle monde bo die water te dryf en hul lugweë oop te maak wanneer hulle winde sluk.

Met dié Switserse selfreddingsmetode leer sy die baba om haar instink te gebruik wanneer sy per ongeluk in die water beland.

“Alle babas kan dryf, maar die probleem wanneer hulle inval, is dat hulle met hul gesiggies na onder dryf. Ek leer hulle om op hulle ruggies te draai sodat hulle monde bo die water is,” verduidelik sy.

Sy gee toe dat sommige ouers bekommerd is dat hul kinders ʼn vrees vir water of trauma ontwikkel omdat meeste babas luidkeels skree tydens dié swemlesse. “Meeste babas hou nie daarvan nie en hulle huil vreeslik. Dit is omdat hulle nie daarvan hou om plat op hulle rûe geforseer te word nie – hulle wil vorentoe kruip en loop. Jy kan maar dink hoe sommige babas skree as hulle neergelê word om doeke of klere te ruil.”

Botha, wat die afgelope 31 jaar sowat 9 000 babas waterveiligheid geleer het en meer as 19 000 kinders en volwassenes leer swem het, glo dat babas ʼn paar oorbruggingslesse in waterveiligheid moet doen sodra die selfreddingsklasse afgehandel is voordat sy met die kinders in die water begin speel.

“Die laaste vier lesse doen ons met klere aan en ek toets die kinders van die kant en van die trappe af, sodat hulle weet wat om te doen wanneer hulle op enige moontlike manier in die swembad val. Hulle moet binne 3 sekondes omdraai en op hulle ruggies dryf en dan vir 15 min só kan bly dryf voordat ek die kind sal afteken en medalje en trofee gee.”

Sy benadruk dat die feit dat ʼn baba dié vaardigheid aangeleer het, nié ouers die vryheid gee om onverantwoordelik te wees as dit kom by toesig nie. “Ouers moet ten alle tye verantwoordelik wees en voorsorgmaatreëls toepas.”

Botha het haar eie twee dogters, Mikal (22) en Carmen (20), leer swem en albei studeer tans in die VSA met swembeurse. Sy het ook prinses Charlene van Monaco se tweeling, Gabriella en Jacques, in Monaco leer swem en was vir drie jaar die Olimpiese swemmer Ryk Neethling se hoofafrigter.

“Ek is baie gesteld daarop dat kinders eers waterveilig moet wees voordat hulle in die water kan speel. Kinders hou van water, veral in Suid-Afrika, dit trek hulle aan en dit is hoekom basiese waterveiligheid so belangrik is.”

Kinders verskil ook wanneer dit kom by selfreddingsklasse. “Sommige kinders is rustig en ander is kwaai kabouters. Maar hulle almal kom daardeur en kry dit gedoen.”

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Juan van Zyl, ʼn pa van twee peuters van Pretoria, glo Botha se selfreddingsklasse het sy dogtertjie, Lisa, se lewe gered.

Hy vertel dit was ʼn rustige Sondagmiddag toe hul lewe byna onherroeplik verander het. “My seuntjie, Zach (5), is baie lief vir swem. Dit was naweek en ons het nie elke keer die swembadseil teruggesit nadat ons geswem het nie. Ek en Lisa het in die tuin rondgestap toe ek besef die lugverkoeler in die kamer bo is nog aan.”

Volgens Van Zyl was hy seker Lisa, toe 18 maande oud, het hom ʼn entjie by die huis in gevolg. “Ek was seker sy is agter my. Ek het baie vinnig kamer toe gegaan. Terug onder op die stoep het ek ʼn boodskap op my selfoon hoor deurkom en vir ʼn rukkie op my foon gestaan en kyk.”

Dit is toe dat hy ʼn noodkreet hoor wat hy nog nooit voorheen gehoor het nie. “Aan haar stem kon ek hoor iets is nie reg nie. Ek het swembad toe gehardloop en daar het ek haar aangetref – op haar ruggie met haar neusie en mondjie bo die water.”

Hy vertel dit is ʼn beeld wat hy nooit uit sy geheue sal kan kry nie. “Om te dink hoeveel anders dinge kon wees. As sy my nie kon roep nie het ek dalk nog langer op my foon gekyk, en dan was dit te laat.”

Volgens Pam Reyneke, ʼn sweminstruktrise van die Libra Swimming Academy en geregistreerde lid van Swem SA, kan kinders trauma opdoen as gevolg van dié lesse waartydens hul koppe onder is, maar sy beaam Botha se stelling dat kinders waterveiligheid- en swemlesse verskillend ervaar.

“Ek het byvoorbeeld lesse gegee vir twee susters. Albei het selfreddingsklasse geneem voordat hulle na my toe gekom het. Die oudste sussie het geswem soos ʼn vis en die jonger sussie wou niks weet van water nie. Hoewel hulle by dieselfde instruktrise was, het hulle verskillende reaksies gehad in die water. Die een was mal daaroor om te swem en die ander het sommer in die motor op pad na die lesse toe reeds begin huil sodra sy agtergekom het waarheen sy op pad is.”

Daarom is dit uiters belangrik dat ouers die situasie fyn moet monitor, sê sy. “As jy agterkom jou kind toon tekens van trauma en wil nie die klasse bywoon nie, hou onmiddellik daarmee op. Alle kinders verskil en daar sal altyd een wees vir wie iets nie werk nie wat wel vir massas ander werk,” benadruk Reyneke.

Sy voeg by dat die banger suster uiteindelik ʼn professionele swemmer geword het. “Net omdat jou kind bang is, beteken dit ook nie hulle sal nie goed kan swem nie. Soms neem dit net jare om die trauma en watervrees wat as baba opgedoen is, te verwerk.”

Reyneke voeg by dat ouers ten alle tye kinders by die water moet dophou. “Ek raak uiters gefrustreerd wanneer ouers nie na hulle kinders omsien by water nie. Mense besef nie hoe vinnig ʼn ongeluk gebeur nie. Ouers raak laks en hoewel ons babas kan leer om te swem, is ouers nog steeds ten alle tye verantwoordelik om toesig te hou.”

Elke van den Berg, ook ʼn geregistreerde swemafrigter van Swem SA, sê ouers moet babas van kleins af vertroud maak met water, maar dat dit blyk dat peuters eers van driejarige ouderdom af begin vordering toon tydens swemlesse.

“Dit is nie te sê hulle moenie watergemaklik en watervriendelik gemaak word nie. Hulle moet leer dat hulle nooit alleen mag swem nie, dat hulle nooit iemand mag gryp en sy kop onder die water druk nie en hulle moet ook leer hoe om veilig in en uit die swembad te klim.”

Van den Berg benadruk ook die belangrikheid van ouertoesig. “Verdrinking kan stil wees – iemand skree nie noodwendig altyd om hulp nie. Ek weet van soveel gevalle waar die ouers teenwoordig was, maar waar hulle op selfone besig was en nie gekyk het nie. Ek wens mense wil besef dat geen, maar geen kind, al is hy ʼn goeie swemmer, 100% waterveilig is nie. ʼn Ongeluk gebeur in ʼn oogwink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.