Weer geen Junie-eksamen vir matrieks

(Argieffoto)

Die Junie-eksamen vir matrieks word vanjaar, nes verlede jaar, geskrap om gr. 12-leerders minstens drie weke bykomende klastyd te gee.

Dr. Rufus Poliah, hoofdirekteur by die departement van basiese onderwys, het Dinsdag bevestig dat geen Junie-eksamen vanjaar afgelê gaan word nie.

Poliah sê die verkorte kurrikulum, tesame met ekstra klasse, vakansieskool en die skrap van die eksamen, moet help verseker dat vanjaar se matriekklas die kurrikulum behoorlik onder die knie het.

Die departement het gister die parlementêre portefeuljekomitee op hoogte gebring van sy gereedheid om laerskole in die derde kwartaal weer ten volle te heropen.

Poliah sê die leerplan was vantevore oorvol en daar word nou meer op spesifieke sleutelkonsepte, vaardighede en kennis gekonsentreer.  Onderwysers fokus op dié kwessies en het groter insae oor watter kwessies gedek moet word en hoe.

Deurlopende assessering bly steeds ʼn belangrike konsep om leerders se vordering te monitor.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die besluit om die Junie-eksamen te skrap is nie ʼn nuwe een nie.

Hy stem boonop saam dat die drie weke wat dit naastenby duur om die eksamen af te lê, waardevolle bykomende tyd skep vir leerders om enige agterstande te help inhaal.

“Pleks van ʼn formele eksamen, skryf die leerders klastoetse wat aan ʼn bepaalde standaard moet voldoen. Daar word steeds ʼn assessering gedoen, maar nie deur ʼn formele eksamen nie,” sê hy.

Klopper sê tydens ʼn eksamen skryf leerders dikwels een vak per dag en by hoërskole hoef leerders nie eens skool by te woon op die dae wat hulle nie eksamen skryf nie.

“Dit is ʼn plan wat verlede jaar al gegeld het. Ons probeer nog [verlore onderrigtyd] opvang,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig tot 75% van algehele onderrigtyd het verlede jaar verlore gegaan weens die ontwrigting wat die Covid-19-pandemie teweeg gebring het.

Die leerplan is nou meer vaartbelyn gemaak om die verlore tyd te probeer inhaal.

“Ons het ʼn baie breë kurrikulum gehad, wat baie aspekte gedek het en sommige konsepte is in verskillende jare gedupliseer. Dit is nou verwyder,” sê Klopper.

Hy sê die plan om die Junie-eksamen te laat vaar, is ook ʼn manier om skole tegemoet te kom en dat dit geen werklike invloed op skole het nie.

Individuele skole wat meen dat hulle op datum met die leerplan is, kan steeds aansoek doen dat ʼn verkorte eksamen geskryf word. Op dié manier raak leerders ook gewoond aan die konsep van eksamen.

“Dit is ʼn buigsame benadering en gee groter outonomie vir skole,” sê hy.

Poliah sê ook waar die sektor vantevore swaar gesteun het op die matriekeksamen om ʼn aanduiding te gee van hoe die onderwysstelsel vaar – daar moet 13 jaar gewag word om te sien presies hoe ʼn spesifieke groep vaar – gaan die sistemiese evaluering wat nou in werking gestel word elke drie jaar ʼn aanduiding daarvan kan gee.

Poliah sê leerders in gr. 3, gr .6 en gr. 9 gaan voortaan gestandaardiseerde toetse in wiskunde en tale skryf wat teen internasionale standaarde gemeet word.

Die eerste toetse word in Oktober vanjaar geskryf.

Dit gaan boonop nie net leerders assesseer nie, maar ook die doeltreffendheid by skole én op distriksvlak om vas te stel of dit swak of goeie prestasie kan verduidelik.

Poliah sê hulle hoop om die eerste voorlopige uitslae vroeg volgende jaar te ontvang. “Dit gaan ʼn duidelike aanduiding van die uitwerking van Covid-19 op leerders gee.”

Hy sê die assessering sal ook as vertrekpunt gebruik word om probleme te identifiseer waarop verbeter kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael ·

Dis nie die pandemie wat die ontwrigting by skole veroorsaak het nie-dis die kommunistiese regime en sy vakbondvennote

Cecilia ·

Dit was nog altyd so voor 1994 dat matrieks nie Jun xsamens afle nie want Aug is dit Rekord xsamen tyd.
Ons het klasse bygewoon terwyl d res vd skook xsamens moes skryf in Jun. Waar onnies werk weer herhaal het en vorige jare se vraestelle deurgewerk het.
Ons het ook nie d bloktyd gehad nie. Jy moes skool toe en jy ht onder toesig gesit en leer en onnies het dan klasse toe gekom en gehelp met vrae of sommer gou so vinnig d werk weer vasgele.
D bloktyd vir Hoerskool kinders v GR8 is sommer nonsies. Hul leer nie by d huis nie. As jy sien dan loop hul in d Mall’s rond v vroegdag af.
Skrap bloktyd en d dept sal sien hoe styg d slaagsyfers oor alle grade.

Christa ·

Sal dit dan nou ook wees vir NSC kandidate wat skryf en nie in die skool is nie? nog geen kommunikasie gekry andersins nie. Ek sou Vrydag begin skryf het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.