Weermaglid in hof wat vrou glo doelbewus met MIV besmet

(Argieffoto)

ʼn Lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het Donderdag op aanklag van poging tot moord in die Pretoriase landdroshof verskyn nadat hy na bewering ʼn vrou doelbewus en sonder haar wete met MIV besmet het.

Die burgerregteorganisasie AfriForum ondersteun die klaer in die hof nadat die organisasie se privaat vervolgingseenheid in 2018 by die saak betrokke geraak het.

Luidens ʼn verklaring deur AfriForum het die privaat vervolgingseenheid ná oorlegpleging met die aanklaer verneem dat die SANW aanvanklik versuim het om die nodige inligting rakende die saak aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te verskaf.

“Ná volgehoue druk deur die eenheid is die dossier nou volledig en kon die NVG voortgaan om die beskuldigde aan te kla.”

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die eenheid, sê in die verklaring die beskuldigde het vandag regsverteenwoordiging in die hof gehad, asook ses lyfwagte.

Volgens Vorster het dié lyfwagte ʼn werknemer van AfriForum wat foto’s van die beskuldigde buite die hof geneem het, probeer intimideer om dié foto’s uit te wis.

“AfriForum wil dit duidelik stel dat ons nie geïntimideer kan word nie, veral nie wanneer dit kom by die strewe na geregtigheid nie. Die familie het ons genader om hulle met die verhoor van die beskuldigde te ondersteun en toe te sien dat hy vir sy dade boet. Ons sal dus voortgaan om dit te doen,” sê Vorster.

Die saak is vandag tot 16 September 2020 uitgestel sodat afskrifte van die dossier aan die beskuldigde se regspan oorhandig kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Nou hoekom word sy naam nie genoem nie en hoekom word daar ook nie ‘n foto van hom geplaas nie? Hy het mos nou al in die hof verskyn?

KlipRSA ·

@Anel, hy moet eers die kans gegun word om te pleit voordat sy naam bekend gemaak mag word

Excalibur ·

Beroep die owerheid om geloofwaardige statistiek te openbaar insake die totale SANW t.o.v. die aantal lede (Burgermag & Dienend) met:

(A) ‘n kriminele rekord op die SAPKRS databasis,

(B) ‘n Disiplinere oortreding wat aan ‘n landsmisdaad gelyk is soos bv diefstal wat op lede se diensrekord staat (PERSOL) verskyn maar deur n militere hof verhoor is,

(C) Rangvlak vs Kriminele & Dissiplinere misdaad vergeleke oortreding

(D) Lede reeds aangekla en verhoorafwagtend vir ‘n kriminele/disiplinere misdaadvergelyke oortreding vs rangvlak.

Weermag senior offisiere behoort behoort tot die room van die land se top sekerheid & beskermings leiergroep. Behoort oor ‘n tersiere na skoolse graad kwalifikasie te beskik en ‘n vlekkelose diensrekord en kriminele misdaadrekord te beskik met verskeie medaljes en/of dekorasies. Hul moet hul mede landsburgers se respek verdien om dan sodoende skouer te skuur en te kompenteer met al ander lande se militere leiergroepe ter wereld. SANW?

Niklaas ·

Dis nou absoluut onverantwoordelik van die knaap. Hy was seker bang sy sosiale lewe vou as hy die kwessie van sy HIV status openbaarmaak. Hy het nie ‘n saak met die gesondheidsgraad van andere nie. Selfgesentreerd is die woord!

christo ·

Die SANW lede dink hulle is immuun teen vervolging.
Ek dink ook aan die DBV vs die SANW Potchefstroom se berede sentrum se saak van dieremishandeling en verwaarlosing. Die bevelvoerder het gedreig om die SAPD ondersoekbeamptes te skiet indien hulle die basis sou betree.
Nog ‘n onlangse geval van Collins Khoza wat deur SANW lede vermoor is. Die SANW het ook daar die saak onder die mat ingevee.
Waar is dae toe ‘n SAW stafsersant oneervol ontslaan is vir petrol diefstal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.