Wees só waaksaam teen diefstal en ontvoerings tydens dié feesseisoen

Argieffoto (Foto: lechenie-narkomanii/Pixabay)

Tydens die feesseisoen is mense geneig om minder waaksaam te wees. Private speurder Mike Bolhuis meen dit is juis dié tyd van die jaar wat Suid-Afrikaners meer op hul hoede moet wees om nie ook deel van die misdaadstatistiek te word nie.

Volgens Bolhuis toon statistiek jaarliks ʼn deurlopende toename van misdaad tussen Oktober tot einde Desember. “Mense begin teen die einde van die jaar afskaal. Hulle is haastig om laaste sake af te handel en uiteindelik dan te ontspan en op vakansie te gaan. Omdat die jaar teen Desember sy tol eis, raak mense moeg, wat beteken hulle is minder versigtig en soms onverskillig. Ongelukkig weet die boewe dit. Vandag se misdadigers is opportunisties en ingelig oor mense se doen en late. Hulle vat ook meer kanse omdat hulle sien hulle kry dit makliker reg.”

Veiligheid in winkelsentrums

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Bolhuis meen daar is talle redes waarom mense wat oor Desembermaand na winkelsentrums stroom om hul laaste inkopies voor Kersfees te doen, maklike teikens vir misdrywe word.

“Mense haas hulle na die naaste winkels om die laaste Kersgeskenke klaar te koop en raak dan soms sorgeloos. Soms dra hulle groot bedrae kontant saam met hulle. Die meeste winkelsentrums verleng ook hul winkelure wat bydra tot die risiko van klein tot ernstiger misdrywe.”

Bolhuis gee die volgende wenke om veilig te wees wanneer jy jou Kersinkopies gaan doen:

  • Wees waaksaam in winkelsentrums se parkeerterreine. Maak doodseker jou voertuig is met ʼn afstandbeheerder gesluit om voertuigdiefstal te voorkom. Maak dubbeld seker jou voertuig se deure is gesluit omdat diewe met ʼn toestel die afstandbeheer van voertuie kan deaktiveer.
  • Bêre jou waardevolle items (beursie of selfoon) in jou handsak of hemp se binnesak sodat dit nie sigbaar vir boewe is nie. Hou jou handsak so na aan jou lyf as moontlik. Na ʼn oproep, bêre dadelik weer jou selfoon buite sig.
  • Vroue moet probeer om hul handsakke oor hul lyf te dra en nie oor hul skouer nie. Maak ook seker die handsak se ritssluiter is ten alle tye toe. Mans moet hul beursies in hul hemp se binnesak bêre en nie in die broek se agtersak nie.
  • Moenie waardevolle items soos ʼn skootrekenaar of ander elektroniese toestelle in die motor agterlaat waar dit sigbaar is nie. Bêre dit eerder in die kattebak waar items buite sig is.
  • Moenie kosbare besittings in die winkeltrollie of winkelmandjie sit nie.
  • Sorg dat jou selfoon vol gelaai is. Moenie op jou foon boodskappe stuur wanneer jy in die winkelsentrum rondloop nie.
  • Maak seker jy het jou voertuig se sleutels in jou hand nog voordat jy by die voertuig aankom. Wees bewus van jou omgewing wanneer jy in die parkeerterrein na jou voertuig stap.
  • Wanneer jy van die winkelsentrum af ry en jy vermoed dat iemand jou moontlik agtervolg, moet nie dadelik huis toe ry nie, maar ry na jou naaste polisiestasie.
  • Gaan doen inkopies deur die dag en moenie alleen in die aand na winkelsentrums toe gaan nie.
  • Wees versigtig vir vreemdelinge wat gesprekke met jou wil aanknoop. Diewe kan op só ʼn manier jou aandag aftrek om jou te beroof. Waarsku ook jou kinders om nie met vreemdelinge te praat nie.
  • Sorg dat jy nie te veel kontant by jou dra nie. Gebruik eerder ʼn bankkaart, maar sorg dat jy jou bankkaart buite sig laat wanneer jy by die kassiere vir jou inkopies betaal. Hou jou bankkaart se PIN-nommer vertroulik. Gebruik jou hand om die sleutelbord van die kaartmasjien of OTM toe te hou wanneer jy jou PIN-nommer intik.
  • Moet nie duur juweliersware dra nie, want dit maak jou ʼn maklike teiken.
  • Moenie jou kinders alleen in die voertuig los nie. Maak ook seker dat daar altyd professionele personeel en versorgers oor speelterreine toesig hou.
  • Wys veiligheidsbeamptes uit sodat jou kinders weet waar om hulp te kry indien hulle verdwaal.
  • Hou jou kind se hand vas in openbare spasies soos ʼn winkelsentrum en hou hulle ten alle tye dop. Loop altyd saam met hulle wanneer hulle badkamer toe of na ʼn winkel toe wil gaan.

Hou jou kinders veilig in Jan Tuisbly se karretjie

Argieffoto: Pixabay

Charnel Hattingh, nasionale bemarking- en kommunikasiebestuurder by Fidelity ADT, sê veral kinders is sagte teikens vir ontvoerings tydens die vakansietyd. Volgens Hattingh moet gesinne wat besluit om dié vakansie in Jan Tuisbly se karretjie te ry, sekere veiligheidswenke in gedagte hou:

  • Hou die deure ten alle tye gesluit en moenie vreemdelinge in die huis of erf inlaat nie.
  • Moet nie jong kinders alleen by die huis los nie. Indien jy ʼn kinderoppasser moet reël, maak seker jy stel ʼn betroubare persoon aan. Ondersoek die persoon se agtergrondinligting volledig voordat jy die persoon in jou huis toelaat.
  • Omdat party ouers deur die dag werk en ouer kinders of tieners alleen by die huis bly, moet ouers die kinders met die alarmstelsel touwys maak. Leer kinders hoe om die alarm te aktiveer en deaktiveer en wanneer om die paniekknoppies te druk. Gee kinders ʼn lys van noodkontaknommers, insluitend die SAPD se 10111-nommer asook ʼn nommer van ʼn buurman of buurtwag-organisasie. Verduidelik aan hulle hoe en wanneer om die lys te gebruik.
  • Indien kinders by die huis toegang het tot internet en sosiale media, maak seker hulle besonderhede bly privaat. Monitor ook met wie jou kind op die selfoon gesels.
  • Moedig kinders aan om weg te bly van vreemdelinge wat aanlyn met hulle kontak probeer maak. Kinders moet ook verdagte webwerwe vermy.

Wees waaksaam vir ontvoerings tydens vakansie-wegbreke

Argieffoto

Ontvoerders teiken gewoonlik vakansiebestemmings en -oorde waar ouers ontspanne is en kinders sorgeloos speel. “Ontvoerings neem jaarliks  oor die Kersfeestyd beduidend toe,” sê Bolhuis.

Bolhuis meen dit is belangrik om jou kind oor die risiko’s van ontvoering in te lig voordat julle wegbreek op vakansie. “Moet hulle nie bang praat nie, maar maak seker hulle neem hul veiligheid ernstig op. Ontvoerings vind enige plek plaas en geen vakansiebestemming is heeltemal veilig nie.” Hy deel ʼn paar wenke met ouers tydens ʼn vakansie-wegbreek:

  • Wanneer julle besluit om na ʼn vreemde land te reis, oorweeg die risiko’s en tref bykomende veiligheidsmaatreëls. Bewaar jou paspoort, identiteitsdokument en reisdokumente op ʼn veilige plek. Maak afskrifte van al die dokumente voor jy vertrek.
  • Lig jou kinders in oor wat hulle moet doen indien ʼn vreemdeling hulle probeer nader lok of gryp. Meld enige verdagte mense in jou omtrek aan.
  • Wees ten alle tye bewus van wat om jou aangaan.
  • Maak seker jou jong kinders is ten alle tye onder jou oë omdat hulle geneig is om af te dwaal. Maak seker hulle is naby jou of hou jou hand vas in openbare plekke soos lughawens, markte, pretparke of ander plekke waar groot skares is. Loop altyd saam met hulle wanneer hulle badkamer toe wil gaan.
  • Identifiseer plaaslike polisie- en mediese beamptes by jou vakansiebestemming in die geval van ʼn noodgeval.
  • Sorg dat jou kinders weet dit is in orde om te skree en ʼn bohaai op te skop wanneer hulle in gevaar is. Hulle moet soveel as moontlik probeer aandag trek. Trek jou kinders helder klere aan sodat hulle maklik uitgeken kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.