Wenners van SA Akademiepryse bekend

Chris van Niekerk (Foto: verskaf)

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig.

Die pryse sal by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig word. Antjie Krog, die akteur Chris van Niekerk, die regisseur Nico Scheepers en die musiekkomponis Franco Prinsloo is onder diegene wat vanjaar vereer word.

Hertzogprys vir poësie

Die Hertzogprys vir poësie word vanjaar toegeken aan Antjie Krog vir Plunder. Dit is Krog se derde Hertzogprys. Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkunde en is genoem na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. JBM Hertzog.

SA Akademieprys vir drama

Die SA Akademieprys vir drama word vanjaar aan Chris van Niekerk toegeken. Dit is een van die toppryse van die Akademie en word toegeken vir ’n lewenslange bydrae tot drama in Afrikaans en kan daarom slegs een keer aan ’n persoon toegeken word.

“Van Niekerk is ’n bekende verhoog- en TV-akteur, maar dit is as woordkunstenaar wat hy benoem is vir die prys. Dit is nie net sy onfeilbare aanvoeling vir register en melodielyn nie; hy gee lewe aan verskillende karakters op ’n manier wat hulle groter as lewensgrootte in die verbeelding van die luisteraar maak, wat die persoonlikheid, aksent, sosiale klas en menslike drama van elkeen vasvang soos wat geen TV-reeks of rolprent ooit sou kon nie, want die eenvormigheid van stem in al sy wonderlike variasies is soos ’n spreekbuis vir die skrywer self.”

Deleen Bekker-prys vir beste draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans

Nico Scheepers. Foto: Maroela Media

Die prys word jaarliks toegeken vir die beste draaiboek in Afrikaans, om die beurt vir ’n TV-drama, dokumentêre program of rolprent. Die prys word vanjaar aan Nico Scheepers vir die reeks Donkerbos Episode 8 toegeken.

“Televisiedraaiboeke het lankal ’n versadigingspunt bereik wat speurdramas betref. Maar Scheepers, in sy beskrywende, meelewende en onthutsende draaiboek, vernuwe die plaaslike draaiboeklandskap. Scheepers ontmasker eietydse probleme wat daagliks in ’n geplunderde land afspeel sonder om politiek-korrek te wees of op effek-bejag staat te maak. Hy is skrynend eerlik en laat die kyker verbysterd en gelate, maar met ’n sprankie hoop.”

Erepenning vir kuns

Franco Prinsloo (Foto: Verskaf)

Die erepenning vir prestasie in die kunste (visuele- of uitvoerende kunste wat die kunslied insluit) word vanjaar prys toegeken aan Franco Prinsloo, ’n komponis van Pretoria.

“Prinsloo het hom in minder as twee dekades as een van die voorste, opwindendste en stellig aktiefste komponiste in Suid-Afrika gevestig. Hy word vandag as spesialiskomponis van koor- en vokale musiek geag wat hom veral toespits op die uitbouing en bevordering van die Afrikaanse kunslied en Afrikaanse kinderkoormusiek.”

“Benewens sy meer ernstige klassieke musiek kan sy kontemporêre klassieke musiek nie buite rekening gelaat word nie, veral die klankbane wat hy reeds vir die groot- en TV-skerm geskryf het, onder meer die rolprente Wonderlus (2016), Meisies wat fluit (2020), en die treffer-televisiereekse Nêrens, Noord-Kaap (2021) en Donkerbos (2022).

Eugène Marais-prys vir prosa

Die prys word toegeken vir ’n skrywer se eerste of tweede bellettristiese werk in Afrikaans. Sedert 2023 word die prys jaarliks om die beurt toegeken vir prosa die een jaar en vir poësie en drama die volgende jaar.

Die Eugène Marais-prys vir oprosa word toegeken aan Kirby van der Merwe vir Eugene.

CL Engelbrecht-prys vir letterkunde

SJ Naudé (Foto: Verskaf)

Die prys word om die beurt vir letterkunde en vir taalkunde toegeken. Elke afdeling kom elke vyfde jaar aan die beurt.

Die prys word toegeken aan SJ Naudé vir Dol heuning.

NP van Wyk Louw-medalje

Die NP van Wyk Louw-medalje word vanjaar aan Gerrit van Wyk Kruger, emeritus professor in die klassieke aan die Universiteit Stellenbosch, toegeken. Die prys is een van die toppryse van die Akademie en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.

“Van Wyk Kruger is een van die produktiefste akademici wat in Afrikaans publiseer.”

MT Steyn-prys

Die MT Steyn-prys vir natuurwetenskaplike en tegnologiese prestasie word vanjaar aan Andreas Roodt, tans buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat, toegeken. “Roodt se persoonlike akademiese prestasies blyk duidelik uit sy curriculum vitae. Sy voortgesette ondersteuning van en entoesiasme vir die bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal verdien erkenning.”

Die prys word gesien as ’n kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een keer aan ’n persoon toegeken word.

LW Hiemstra-prys vir niefiksie

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie. Die prys word toegeken aan Eunice Visser vir Die Kaapse slawe 1652–1838.

SA Akademie-prys vir vertaalde werk

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir vertalings in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal. By die beoordeling van die vertaling word onder meer ook gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne die eie letterkunde geniet.

Die prys word vanjaar toegeken aan Fanie Olivier vir Wanneer gode slaap.

Protea Boekhuis-toekenning

Die prys kan jaarliks toegeken word en roteer tussen ’n gepubliseerde werk, die beste magisterverhandeling, en die beste doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans. Dit word vanjaar toegeken aan die beste gepubliseerde werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans in die afgelope drie jaar.

Hetta van Deventer-Terblanche ontvang vanjaar die prys vir haar M-verhandeling met die titel: “Die koskultuur en geskiedenis van die Westpalm-reseptemanuskrip (Manuskrip SB 522), circa 1719–1888”.

Erepenning vir geesteswetenskappe

Die erepenning word toegeken aan ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.

Vanjaar word die prys toegeken aan Corine de Maijer, vorige bibliotekaris en informasiedeskundige in die biblioteek van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

Corine de Maijer was 20 jaar lank (1999-2019) bibliotekaris en informasiedeskundige in die biblioteek van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam. Sy het tydens dié twee dekades uitstekende werk verrig om die Suid-Afrikaanse letterkunde, spesifiek die Afrikaanse taal- en letterkunde, in Nederland en België en in Europa in die algemeen te bevorder.

Jacques van der Elst-prys

Die prys word jaarliks toegeken vir die beste artikel wat in ’n bepaalde jaar in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het.

Die redaksie beveel aan dat die prys vanjaar toegeken word aan Johann Beukes.

Havenga-prys vir lewenswetenskappe

Die Havengapryse is ’n jaarlikse prestigeprys wat vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied toegeken word. Die prys kan net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan Gideon Malherbe Wolfaardt, professor in mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Plantkundige wetenskappe)

Die medalje word jaarliks toegeken vir die beste verhandeling wat by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die MSc-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige en plantkundige wetenskappe).

Die prys word vanjaar toegeken aan Chanel Pretorius vir haar verhandeling “Metabolomic Analysis of Oat (Avena sativa) Plants: A Strategy for Cultivar Identification and for the Characterisation of Host Responses to Pathogen Infection”.

Douw Greeff-prys vir die beste artikel wat in 2022 in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gepubliseer is

Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer is.

Die prys word vanjaar toegeken word aan L Boardman en TC de Klerk vir hulle artikel: ’n Multinavorsingsmodel toegerus met sagteware-instrumente vir die afstandanalisering van rotskunsdata: Bosworth-plaas gevallestudie, SATNT, 41(1), 2022.

Poortprys

Die Poortpryse word jaarliks toegeken vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in grade 10, 11 en 12 wat aan die Poortkompetisie deelgeneem het.

Die pryse word vanjaar toegeken aan:

Poësie: JD Carr van Hoërskool Upington vir sy gedig “v-e-r-l-i-e-f”.

Prosa: Mila van Niekerk van Hoërskool Outeniqua vir “My grootste vrees”.

Beste ontwerp vir die Poort-boekie se voorblad vir 2023: Marlize Theron van Hoërskool Sentraal, Beaufort-Wes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.