Wêreldklas-sportstadion nou seeroog

Dié veeldoelige sportstadion, kan ʼn kapasiteit van 32 000 toeskouers verwelkom. (Foto: Elisma van der Watt/ Maroela Media)

Die Olympia-sportstadion in Rustenburg het op sy dag ʼn reeks internasionale sportgeleenthede aangebied. Dit is egter nou ʼn seeroog sowel as ʼn veiligheidsrisiko vir inwoners wat wel van die fasiliteite gebruik maak. Dit ten spyte van verskeie partye se hulpkreet aan die regering om die stadion reg te ruk.

Dié veeldoelige sportstadion, wat ʼn kapasiteit van 32 000 toeskouers kan verwelkom, is in 1994 gebou.

Sekere fasiliteite by die stadion is egter geruime tyd al gesluit weens strukturele onveiligheid. Slegs die sokkerveld en muurbalbaan word tans deur die munisipaliteit aan Orbit College uitverhuur. Die stadion dien ook op 29 Mei as stempunt tydens die nasionale verkiesing.

Rustenburg Stadion

Die stadion dien ook op 29 Mei as stempunt tydens die nasionale verkiesing. (Foto: Elisma van der Watt/Maroela Media)

Tydens Maroela Media se besoek was tekens van verval en wanbestuur oral sigbaar.

Die stadion het geen funksionele ablusiefasiliteite nie, die dak lek in amper al die vertrekke, spreiligte op die veld is verniel en beskadig en die hoofpawiljoen is deurgeroes.

Ligte wat permanent in die stadion brand en vuil en besmette kantoorruimtes, was ook opvallend.

Nelio Nhacuangue, ʼn DA-raadslid in Rustenburg, het verlede jaar dringende optrede van die munisipaliteit geëis om die gesondheidsrisiko’s en strukturele gebreke te pak ten einde ʼn “moontlike tragedie” vir toeskouers en atlete te voorkom.

Hy het egter nog geen terugvoer van die munisipaliteit hieroor ontvang nie.

“Die munisipaliteit kan eenvoudig nie hierdie fasiliteite uitverhuur voordat ʼn deeglike inspeksie deur ʼn strukturele ingenieur goedgekeur is nie. Bloot om die veiligheid van toeskouers en atlete te verseker,” sê Nhacuangue.

Adam Bossau, VF Plus-raadslid, sê die munisipaliteit se huidige onvolledige aansuiweringsbegroting het meer as R1 miljoen begroot om elektriese herstelwerk aan die stadion te doen.

“Daar is egter geen ander vooruitskouing om die stadion op te gradeer nie, weens ʼn gebrek aan begroting,” sê Bossau. Ten spyte van hierdie knap begroting het die munisipaliteit volgens Bossau ʼn privaat sekuriteitsfirma aangestel, met die doel om veiligheid by die stadion te verseker en vandalisme te voorkom. Met Maroela Media se besoek was daar egter geen teken van sekuriteit of patrollies nie en dit was maklik om toegang tot die perseel te kry.

Só lyk die stadion tans van buite. (Foto: Elisma van der Watt/Maroela Media)

Intussen is planne onderweg vir huurooreenkomste tussen sportklubs en die munisipaliteit vir die uithuur van die sokkerveld en muurbalbaan. “Hoewel die privaat sektor gebruik maak van sekere dele van die fasiliteite, is hulle nie bereid om grootskaalse herstelwerk aan te bring op kort termyn nie,” sê Bossau.

Bossau meen die Olympia-sportstadion is tekenend van die ANC se vermorsing van belastingbetalers se geld. “Die stadion kan ʼn groot aanwins vir Rustenburg wees, nie net as ʼn bron van inkomste nie, maar om hoop te skep en samehorigheid op die dorp te bevorder.”

Maroela Media het verskeie navrae hieroor aan die munisipaliteit, asook Noordwes se departement van kuns, kultuur en sport gerig, maar het telkens voor dooimansdeur te staan gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper ·

In totale verval,soos net die ANC dit kan reg kry,maar Ramapara sê die ANC het goeie vordering gemaak in 30 jaar.

hpven ·

Gaaaap…. Die ANC normaal en vooruitgang die afgelope 30 jaar.

Manie ·

Instandhouding is mos ‘n westerse begrip wat nie in Afrika van belang is nie.

Amelia ·

Tot iemand seer kry of gedood word dan word persoon se naasbestaandes uitbetaal ipv geld te vat om plek reg te ruk maar nou ja so gaan dit mos maar

Cassie Carstens ·

Casper, dis vir my so snaaks dat oral waar Ramaphosa gaan, is alle plekke behalwe waar mislukkings soos hierdie gelee is. Hulle vermy dit soos die pes. Baie selektief.

Ronél ·

Die res van Rustenburg lyk baie erger……….Rustenburg is ‘n rommelhoop……..ekself is ‘n inwoner.

Bolandse Nooi ·

In “Rustenburg” RUS alles. Die meeste hiervan, plaaslike regering …

Martie ·

Ek het in 2018 deur Rustenburg gery, toe weer in 2022, Die paaie was steeds nog nie klaar nie en alles was net meer vervalle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.