Wêreldrekordpoging: Bo in ʼn vaatjie vir liefdadigheid

Foto: Steve Adams (UpThePoleInDullstroom/Instagram)

Vernon Kruger het as 29-jarige in 1997 altesaam 67 dae lank in ʼn 500 liter-wynvaatjie deurgebring wat op ʼn paal vasgemaak is in Dullstroom, Mpumalanga. Hy het in daardie stadium die Guinness-wêreldrekord verbeter en gaan nou poog om sy eie rekord te verbeter.

Kruger, nou 51 jaar oud, het onlangs ʼn uitnodiging van die Guinness-wêreldrekordboek aanvaar om sy eie rekord te verbeter.

Hy het Donderdag in die vaatjie geklim wat op die “Dullstroom Greens” opgerig is, ʼn park in die middel van die dorp. Dit is dieselfde ligging waar die oorspronklike rekord opgestel is.

Dullstroom Accommodation tree op as die koördineerder van die wêreldrekordpoging en bemarkingspan van Kruger. ʼn Span vrywilligers het ook hul bystand aangebied.

Die projek sal na verwagting drie maande lank duur.

Die paal is 25 meter hoog en Kruger is weer in ʼn 500 liter-wynvaatjie.

Hy sal dag en nag lank in die vaatjie bly en sal eers afklim sodra die geleentheid verby is. Geen besoekers mag teen die paal opklim nie.

Kruger was ʼn plaaslike Dullstroom-inwoner in 1997, maar bly nou saam met sy gesin in Plettenbergbaai. Deur die poging hoop hy om bewusmaking te skep vir die dorp en plaaslike en internasionale aandag te trek om by te dra tot Dullstroom se ryk geskiedenis en kulturele waarde vir die land.

Geld wat ingesamel word, word aan die SAVF Belfast-kinderhuis en Epilepsy SA geskenk. Kontak Anette by 079 052 7872 of Fiona by 083 458 0285 om ‘n skenking te maak.

Volg sy vordering op Facebook en Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mari ·

Lekker om sulke berigte te lees tussen al die ander hartseer en frustrasies

J ·

Maroela, daar was, ek skat sowat 10 jr gelede, ‘n ouer man wat dieselfde gedoen het in Witbank by Highveld Mall. Die restaurante het vir hom kos gebring en hy’t baie borge gekry. Ook ‘n sad storie gehad dat hy dit vir sy oorlede seun doen. Radio Kragbron en Wtb Nuus het gereeld daaroor berig. Toe verdwyn hy spoorloos met die geld wat geskenk sou word aan een of ander saak.
Nou wonder ek net: is daar dalk ‘n link tussen daai storie en die een?

Karolis ·

Selfde gewonder… Ek vermoed daai swart pyp het iets daarmee te doen.

H ·

Kos mandjie word aan ‘n kabel gehak. Swart pyp wat met ‘n septiektenk verbind is.

Patrys ·

500 liter in net 67 dae ? Dit sluit darem seker ook die RWB finaal se viering in – ter versagting.

Hagar ·

Is daar nie iets meer produktiefs wat gedoen kan word om fondse in te samel nie.

Strandloper ·

Sterkte daar hoop jy het darem so paar kleiner vaatjies met die regte vogies in om jou deur te help

Attie. ·

Ek gaan sy nuwe rekord met een dag verbeter…ek is baie verveeld.

Saartjie ·

Om ‘n rekord op te stel vir die Guiness Book of Records, vereis baie beplanning en deurdagte voorbereiding. Dit moet iets besonders wees, anders word die rekord bitter vinnig weer gebreek. Dis ‘n groot voorreg om so iets te kan doen, en die man doen dit vir liefdadigheid. Daardie 500 liter vaatjie kan bes moontlik baie ongemaklik raak, en nou in die reënseisoen gaan dit nogal ‘n uitdaging wees. Ek hoop van harte Vernon Kruger is veilig en dat hy sy rekord sal kan ewenaar. Namens die instansies, baie dankie vir die blootstelling en die geld wat jy insamel met jou uitdaging. Alle sterkte!

andre ·

Na dese gaan hy nie meer die reuk van ou wyn kan hanteer nie……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.