Werkers hof toe oor salarisse by Denel

Betaaldag vir Junie kruip al weer nader, maar werkers by Denel het steeds nie hulle volle salarisse vir Mei ontvang nie.

Stanford Mazhindu, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê hulle eis duidelik by Denel se uitvoerende hoof, Danie du Toit, oor wanneer die staatsbeheerde instelling die balans van die geld gaan betaal.

“Die niebetaling van Uasa-lede se volle betaling vir Mei 2020 is ʼn flagrante verbreking van hulle werknemerskontrakte met Denel, asook ʼn oortreding van die tersaaklike voorwaardes in die Wet op Basiese Indiensneming.

“Uasa-lede, wat ten alle tye lojaal aan Denel gebly het, bevind hulself in ʼn desperate geldelike posisie omdat hulle nie hulle finansiële verpligtinge teenoor hulle krediteure en gesinne kan nakom nie,” het Mazhindu gesê.

Denel het vakbonde die afgelope week ingelig dat hy nie sy uitstaande verpligtinge teenoor sy werkers vir Mei, Junie, Julie óf Augustus vanjaar kan nakom nie.

Mazhindu het gesê Uasa het geen ander keuse gehad as om ʼn dringende aansoek by die arbeidshof in te dien om te vra dat Denel sy werkers betaal nie.

“Ons het ook aan die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, geskryf en hom ingelig oor die regstappe wat ons teen die staatsbeheerde instelling doen en gevra dat die regering, as ʼn aandeelhouer in Denel, ingryp.”

Die vakbond sê dit is skokkend en onvanpas dat die salarisse nie ten volle en selfs glad nie betaal word nie.

Du Toit het intussen Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings en die verkose komitee oor openbare ondernemings en kommunikasie gesê hy kon nie die volle salarisse van sy topbestuur betaal nie, maar dat werkers op laer salarisvlakke hulle volle salarisse gekry het.

Du Toit het die komitees op die hoogte gebring van vordering met die inwerkingstelling van ʼn omkeerstrategie by Denel. Hy het gesê die 2018-’19-boekjaar is gekenmerk deur gefragmenteerde, ongefokusde, ondoeltreffende en swak sakestelsels en bestuur. Die onderneming het boonop ʼn verlies gely.

Die tweede deel van die omkeerplan is nou om bestendigheid by die organisasie te verseker en dit te hervorm deur weg te doen met onbillike kontrakte, die verbetering van kommersiële vaardighede en ʼn fokus op prestasieverbetering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stof ·

Om direk hof toe te gaan, is nie die weg van liefde nie. Hoeveel van die kritici ken die personeelbeampte persoonlik? Ek kan die oorhaastiges verseker, dat sy ‘n edelvrou is wat geen mens of vlieg sal skade aandoen nie. Sy doen wat sy kan, met wat tot haar beskikking gestel is. En meer, kan sy nie. Is dit dan billik om ‘n omgeepersoon so oorhaastig te probeer vervolg?

Pietertjie ·

Ek het die berig twee keer gelees, en vind nêrens ‘n verwysing na enige vroulike personeelbeampte nie. Nog minder dat sy iewers gekritiseer word. Lees ek iets mis?

Kokerboom ·

Mnr Du Toit het ‘n geweldige uitdaging wat vir hom voorle. Baie sterkte

JohanR ·

Hoekom betaal die vakbonde nie Denel se salarisse nie? Hulle sit met miljoene van werkers se geld, en lewe soos konings en koninginne!

Michael 1 ·

Dit blyk dat Denel dan nou ook vernietig is die eens magtige maatskappy wat weggevat is uit bevoegde hande net om dood gewurg te word.

'n Simpelman ·

Jip. Van toonaangewend in wêreld tot niks.
Dis so hartseer.

Stefan ·

Die geld is op, en daar mag ook nie van oortollige personeel ontslaë geraak word nie.
Wat nou??

Hekwag ·

Intussen bou daar groot probleme op in die noorde van Mosambiek en dis oppad hierheen. Wie gaan die weermag ondersteun as Denel nie meer daar is nie??

Sarel ·

Die Taxibedryf is bekangriker vir die Regering as mense wat sakarus verdien.

Ansie ·

BEE het ook Denel gesink, maar die president hou vol dat dit moet voortgaan omdat swartmense nog steeds agv apartheid aan die agterspeen suig. Wat het die ANC gedurende die afgelope 26 jaar gedoen om dit reg te stel? Hulle het BEE ingestel om diegene wat reeds geld het in staat te stel om meer geld te maak (eerlik en oneerlik) en diegene wat niks het nie net meer te verarm (neem bv die Vrede-melkplaas). En nou word wit kapitaal verwyt omdat hulle na hulleself gekyk het en steeds in ‘n sterk finansiële posisie is. Solank die ANC hulle oë sluit vir korrupsie en korruptes bemagtig, sal niks beter word nie – sake sal net al hoe meer versleg vir die armes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.