Werkgewers in Suid-Afrika wil dié poste vul

Pnet het die neiging van afstandswerk op grond van geadverteerde poste vir afstandwerk of ʼn hibriede model ondersoek. (Foto: Freepik)

Die aanlyn loopbaanportaal Pnet sê in sy jongste verslag oor werkneigings poste in die betaalstaat- en salarisafdeling (finansiële sektor) in steeds in groot aanvraag.

Die vraag na persoonlike assistente en vakatures in klanteondersteuning, in die administrasie-, kantoor- en ondersteuningsektor is volgende op die lys van posisies wat werkgewers wil vul. Hierna volg poste vir verpleegkundige en professionele versorging (in die mediese en gesondheidsektor) en dan verteenwoordigers of verkoopskonsultante.

  • Geboue en konstruksie

Op ʼn jaargrondslag het die vraag na werkers in die geboue- en konstruksiebedryf met 14% gestyg. Ondanks minder aanstellings in die eerste twee maande van die jaar, word meer mense steeds gewerf as ʼn jaar gelede.

  • Argitektuur en ingenieurswese

Aanstellingsaktiwiteit in dié sektor het op ʼn jaargrondslag ook met 14% toegeneem. Hoewel aanstellings oor die afgelope drie maande effens afgeneem het, bly die tendens positief met stabiele indiensnemingsgeleenthede.

  • Vervaardiging- en monteringsektor

Indiensnemingsbedrywighede in die vervaardiging- en monteringsektor het met 13% gestyg. Daar was verhoogde werwingsaktiwiteit in November verlede jaar en sedertdien was daar voortgesette werwing in vergelyking met ʼn jaar gelede.

Afstandwerk in SA

Met die streng inperking wat in 2020 weens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika ingestel is, moes werkgewers groot aanpassings doen – onder meer met werkers wat van die huis af moes werk – om sake aan die gang te hou.

Die inperkings het daarna diepgaande veranderinge in die wêreld van werk en werkplekke tot gevolg gehad.

Tradisionele kantoorwerk het vinnig na afstandswerk oorgeskakel, met werknemers wat gewoond geraak het om van die huis af te werk deur aanlyn platforms vir kommunikasie en samewerking te gebruik.

Hierdie verskuiwing het aanpassings in werkroetines en praktyke genoodsaak, asook die aanvaarding van nuwe tegnologie om afstandwerk te vergemaklik. Boonop het ondernemings streng gesondheid- en veiligheidsprotokolle ingestel om mense te beskerm en die nakoming van sosiale afstand en higiëne-riglyne te verseker.

Die pandemie het die belang van buigsaamheid, veerkragtigheid en innovering onderstreep om ongekende uitdagings in die werkpleklandskap te pak, lui Pnet se verslag.

Afstand- en hibriede werkmodelle bly steeds algemeen, maar die vraag is toenemend hoeveel nuwe geleenthede vir afstandwerk beskikbaar is.

Pnet het die neiging van afstandswerk op grond van geadverteerde poste vir afstandwerk of ʼn hibriede model ondersoek. Die bevindinge wys hoewel die meeste poste nie meer afstandwerk as opsie bied nie, dit tog nog gebeur.

Sekere marksektore bied ook meer geleentheid vir afstandwerk as ander.

Terwyl die inligtingtegnologiesektor (IT) al afstandwerk voor die Covid-19-pandemie ingestel het, het ander sektore, soos sake en bestuur, finansies, administrasie en kantoor- en ondersteuningsdienste, asook verkope tydens die pandemie in die IT-sektor se voetspore gevolg.

Pnet sê in sy verslag dit is belangrik om daarop te let dat poste met afstandswerkopsies geneig is om dieselfde poste te wees wat in groot aanvraag is. Dit kan dit moeiliker maak om poste te vul. Gevolglik moet werkgewers meer aantreklike en buigsame werkomstandighede aanbied om talent met die regte vaardighede te lok.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Papsak ·

Ja ek hoop daar is so baie poste ek hoop daar is vir ons manne ook voorsiening gemaak nie net vir sekere mense nie asb ??????

Bolandse Nooi ·

In Worcester, waar ek woon, geld “baantjies vir boeties”. Jy hoor/sien selde werke wat geadverteer word of beskikbaar is, maar as jy weer kyk, is daar ‘n nuwe persoon by ‘n besigheid aangestel. Nie alleen is sekere mense te wit en te Afrikaans nie, maar moet ons voortdurend hoor ons is ook te oud, as ons oor die 50 is. En dan ………. die salarisse!!!!!! Jy is gelukkig as jy R7000.00/maand kan verdien …

daarsdit ·

Bolandse Nooi, stem 100% saam met jou. Dit gebeur hier by ons ook. En dan sit mens met ‘n graad en die 25 jarige wat laas week by die melkery gewerk het, is skielik ‘n boekhouer, want haar ma ken iemand

piet ·

Ja nee wat in SA is jy reeds te oud op 45 jaar. Baie moeilik om nuwe werk te kry na daai ouderdom (en dan praat ons nog nie eers van regstellende aksie nie).

Martie ·

Afstand werk is die grootste euwel nog. Hulle is net nooit beskikbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.