Werner de Jager: Liezel se ouers verwelkom borgtogbesluit

Ds. Liezel de Jager. (Foto: Verskaf)

Dit het altesaam 863 dae geneem om die verdagte, wat na bewering die geliefde ds. Liezel de Jager van Amanzimtoti vermoor het, agter tralies te kry.

Liezel se man, Werner de Jager (45), sal vir eers vir die duur van sy moordverhoor agter tralies bly ná sy borgtogaansoek Donderdag deur die Amanzimtoti-landdroshof in KwaZulu-Natal van die hand gewys is.

Volgens die drukgroep Action Society het Liezel se ouers, Henk en Salomé van Zyl, die hof se besluit verwelkom.

Werner de Jager, Liezel de Jager, moord, verhoor, hof, Amanzimtoti, hof, verhoor, borgtogaansoek, KwaZulu-Natal

Ondersteuners in die Amanzimtoti-landdroshof klap Donderdag spontaan hande ná Werner de Jager se borgtogaansoek geweier is. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

“Liezel se familie is uiters verlig. Ons vier vandag se oorwinning saam met hulle. Ons voel dit [die hof se besluit] stuur ʼn sterk boodskap aan dié wat vroue teiken,” het Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, gesê.

Ondersteuners in die hof het Donderdag spontaan “halleluja” uitgeroep en hande geklap toe landdros Zama Nyiswa wel De Jager se aansoek van die hand gewys het.

Ereuka Olivier, van die Bobbi Bear-beweging, het buite die hof gesê die “hof het bewys daar is nog so iets soos geregtigheid”.

“Ons is nou dae lank in hierdie hof en bid vir Liezel, en wil nie net ʼn stem vir haar wees nie, maar vir alle vroue wat deurmaak wat sy moes deurmaak,” het Olivier gesê.

Cameron het wel beklemtoon dat die stryd nou eers begin sodra die staat reg is om ʼn verhoordatum vas te stel.

@iancam23

#saps #iancameron #crimesa #amanzimtoti #liezeldejager #afrikaans #afrikaanstiktoks

♬ original sound – Ian Cameron

‘Media lei De Jager se verhoor’

Uitspraak in De Jager se borgtogaansoek is Donderdag vertraag ná die media se aansoek – om foto’s in die hof te kan neem – hersien moes word om voorsiening te maak vir televisiekameras.

De Jager se regsverteenwoordiger, Huibré Lamprecht, het kapsie gemaak en gesê De Jager word deur die media vervolg.

Volgens haar is hy ook as ʼn “massa-moordenaar uitgebeeld” ná daar in die hof getuig is bykomende aanklagte van moord sal teen hom aanhangig gemaak word. Dié klagte hou verband met die dood van twee vroue ná ʼn motorongeluk naby Klerksdorp waarin De Jager betrokke was.

“Tot vandag toe is hy nog nie aangekla nie en die direkteur van openbare vervolging in Bloemfontein is nie bewus van enige versoek om dié aanklagte [moord] saam met dié aanklagte in hierdie hof te voeg en te sentraliseer nie,” het Lamprecht getuig.

“Hierdie hele borgtogaansoek gebeur onder leiding van die media.”

Gayle Greyling, staatsaanklaer, het dié argumente ontken en gesê lede van die publiek het ʼn reg om te weet wat in sake gebeur “wat vir hulle van groot belang is”. Sy het bygevoeg die bykomende moordklagte is ‘n “besliste werklikheid” en die adminstrasie rondom dit word nog afgehandel.

Nyiswa het die aansoek toegestaan, waarna sy voortgegaan het om uitspraak te lewer in De Jager se borgtogaansoek.

Sy het onder meer bevind De Jager hou nie net ʼn bedreiging in vir homself nie, maar ook vir sy twee minderjarige kinders. Hulle woon tans by hul grootouers.

Henk en Salomé van Zyl, Liezel se ouers. (Foto: Verskaf)

De Jager, wat ingevolge ʼn hooggeregshofbevel toegang het tot die kinders, sal hulle moontlik kan intimideer, het die landdros bevind. “Dit is duidelik dat hy nie geweet het sy kinders sal vir die staat kom getuig toe hy sy eedsverklaring afgelê het nie. Hy weet dit egter nou en die hof is van mening daar is ʼn groot kans dat hy kan inmeng met dié getuies. Die hof is bekommerd oor wat dan van die kinders sal word,” het Nyiswa in haar uitspraak gesê.

Sy het verder bevind dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om De Jager se borgtogaansoek toe te staan nie. “Die reg om as onskuldig geag te word tot anders bewys is net een aspek van ʼn borgtogaansoek . . . die applikant het geen verdere buitengewone redes gegee wat sy vrylating op borgtog regverdig nie.”

De Jager, wat Donderdag met ʼn half kaal geskeerde kop in die hof verskyn het, het op die oog af geïrriteerd met die beslissing gelyk.

Hy staan tereg op ʼn aanklag van moord met voorbedagte rade, asook twee aanklagte van bedrog.

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Liezel, wat verbonde was aan die NG Suidkus-gemeente, is op 13 Oktober 2021 in die oprit van die pastoriewoning vermoor.

Die staat voer aan dat De Jager die moord haarfyn beplan het omdat daar verskeie lewenspolisse aan hom uitbetaal sou word en ook omdat hy Liezel se testament kort voor haar moord gewysig het. De Jager sou miljoene uit die polisse en testament gemaak het.

Verder het die staat aangevoer die De Jager-egpaar se huwelik was op die rotse omdat De Jager glo ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn ander man sou aanknoop.

De Jager het al die beweringe teen hom ontken. Selfs die feit dat hy kort ná sy inhegtenisneming ʼn bekentenis sou aflê waarin hy in groot detail oor die moord gebieg het.

Ná sy verskyning Donderdag het sy regspan hulle ook onttrek aan die saak. De Jager het met ʼn handgeskrewe nota in sy hand opgespring en aangedui hy wil aansoek om regshulp doen. Sy saak is hierna uitgestel tot volgende maand om dié aansoek af te handel.

Werner de Jager, Liezel de Jager, moord, verhoor, hof, Amanzimtoti, hof, verhoor, borgtogaansoek, KwaZulu-Natal

Werner de Jager het Donderdag aangedui hy wil aansoek doen om regshulp. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Lizelle ·

Net om te kyk na die fotos van hierdie man laat die hare op my lyf regop staan. Hy het ‘n evil kyk in sy oe en uitdrukking op sy gesig. Beste besluit ooit om hom borgtog te weier.

Wondermaarnet ·

Kyk net die frons. Regtig??? Het hy gedink hy gaan skotvry van moord afkom?

Karoo ·

Huibré Lamprecht is vroulik, sy verteenwoordig hierdie moordenaar wat sy vrou nie net vermoor het nie, maar ook haar liggaam ontblood gelaat het.
Sy moet seeker desperaat wees vir die sente wat sy hier gaan verdien.

ES ·

Jy moet weet jy is in groot moeilikheid as jou regspan hul onttrek van jou saak vir enige ander rede as dat daar ‘n konflik van belange is.

bolletjie blom ·

Die fotos van die man spreek boekdele. Hou hom maar agter tralies. Nie omdat hy ‘n gevaar vir homself is nie maar omdat hy ‘n gevaar vir ander is. Hy gaan deur as ‘n reeks moordenaar want hy het meer as drie mense se dood veroorsaak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Karoo, Lampbrecht doen net haar werk. Sonder emosie. Indien die man teater toe gaan vir ‘n operasie mag ‘n vroulike snydokter seker nie weier om te sny nie.

domheks ·

Gelukkig sal daar baie gewillige mans in die tronk wees om hom reg te sien!

etienne ·

Sjoe kyk net daai gesigs uitdrukking van hom, daai oe, hy moet eerder aansoek by die hof doen dat geen foto’s van hom geneem word nie, dit kan teen hom tel gedurende vonnisoplegging.

Cherokee ·

Karoo, benewens die feit dat jy ‘n Afrikaans verneder, praat jy boonop tweesinnig, want jy opponeer jouself met wat jy sê. Jy kan nie besluit of jy Huibré Lamprecht wil aanval of ondersteun. ‘n Kommentaar behoort darem ‘n seining aan te dui.

Vanessa ·

Ek is bly om te sien dat die tronk hom so goed doen, hy het heelwat gewig verloor, eet seker nie meer so lekker in die tronk nie en sit elke dag met daai beelde wat voor hom afspreel wat hy aan daai arme vrou gedoen het. Sluit hom toe hy verdien nie een dag vry op straat nie. Wie dink hy is hy!!!!

Christine ·

Werner de Jager hoe dink jy voel jou ouers ,broers en sisters oor jou dade wat jy gepleeg het
Wat het jou besiel ??? Geld kry vir jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.