Werner sou ‘miljoene maak’ uit ds. Liezel se dood, hoor hof

Werner de Jager

Werner de Jager. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Die polisie het die verkeerde persoon in hegtenis geneem, verdraai getuienis en bou ʼn saak teen hom, beweer Werner de Jager, wat van die moord op sy vrou, ds. Liezel de Jager, aangekla word.

Dit help egter nie sy saak dat hy ook nou gebieg het dat hy wel enkele maande voor sy vrou se moord ʼn bykomende lewenspolis ter waarde van R3,29 miljoen op haar lewe uitgeneem het nie.

Hy sal ook nou buitengewone omstandighede en redes moet verskaf oor hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.

De Jager se borgtogaansoek is Woensdag in die Amanzimtoti-landdroshof in KwaZulu-Natal hervat. Sy aansoek het aanvanklik voortgegaan sonder ʼn sertifikaat van die direkteur van openbare vervolgings oor die soort bylae aangedui vir die misdryf waarop De Jager vervolg moet word.

Landdros Zama Nyuswa het Vrydag beslis die aanklag van moord met voorbedagte rade en twee aanklagte van bedrog is bylae 6-oortredings.

Sy het bevind daar is wel bewyse dat die moord op Liezel vooraf beplan is en haar liggaam so geplaas is asof sy oorval is deur ʼn aanvaller.

Liezel se liggaam is op 13 Oktober 2021 ontdek in die oprit van die egpaar se woning in Amanzimtoti. Sy het pas teruggekeer van haar drafsessie saam met vriende.

De Jager is twee jaar later, op 23 November verlede jaar, in hegtenis geneem in verband met die moord. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy haar liggaam geskuif het sodat hy voordeel kon trek uit twee lewenspolisse ter waarde van meer as R3 miljoen in Liezel se naam.

De Jager ontken dit en het reeds in sy eerste eedsverklaring, wat vroeër by die hof ingedien is, aangedui hy sal onskuldig pleit.

In ʼn bykomende eedsverklaring, wat Woensdag ingedien is, het hy volgehou die staat se saak teen hom is swak en dat hy gedwing is om bekentenisse te maak.

Volgens die staat sou Werner ná sy inhegtenisneming in groot detail gebieg en om vergifnis gevra het vir Liezel se moord.

Lees ook: ‘Alle vingers wys na Werner’ – polisie

De Jager sê hy is ure lank ondervra, sy medikasie is van hom weerhou en hy is nie toegelaat om sy bekentenisverklaring te lees voor hy gedwing is om dit te teken nie. “Ek ontken dat ek die verklaring vrylik en vrywillig sonder enige inmenging afgelê het. Ek is nie die geleentheid gegun om die verklaring, wat onleesbaar was omdat die polisiebeampte se handskrif onleesbaar was, na te gaan voor ek gedwing is om dit te teken nie,” voer De Jager aan.

Die staat voer aan dat De Jager die moord haarfyn beplan het omdat daar verskeie lewenspolisse aan hom uitbetaal sou word en ook omdat hy haar testament kort voor haar moord gewysig het. De Jager sou miljoene uit die polisse en testament gemaak het.

Die hof het ook Woensdag gehoor die paartjie se huwelik was op die rotse omdat De Jager glo ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn ander man aangeknoop het.

Liezel het glo ʼn front oor haar huwelik aan haar gemeente voorgehou, maar inderwaarheid het hulle voor haar moord lank reeds apart in die pastoriewoning gewoon.

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Die lewenspolisse

Volgens De Jager het hy en Liezel in 2010 soortgelyke lewenspolisse by Old Mutual uitgeneem. Liezel se polis het ʼn waarde van R1,29 miljoen gehad.

“Ons het dié polisse opgestel met ʼn wedersydse begunstigde voorwaarde – waar elkeen van ons die begunstigde op die ander se polis was – sodat wedersydse finansiële beskerming gebied kan word,” sê De Jager.

Liezel het toe in Desember 2020 ʼn bykomende lewenspolis by Momentum Life uitgeneem, volgens De Jager “onafhanklik” van hom met die hulp van ʼn finansiële raadgewer. As enigste begunstigde sou hy R2 miljoen ontvang, sou Liezel iets oorkom.

Maande voor Liezel se dood, erken De Jager wel, het hy nog ʼn polis ter waarde van R3,29 miljoen uitgeneem op Liezel, met hom as enigste begunstigde. Volgens lt.kol. Maria Roodt, ondersoekbeampte, is dié polis agt maande voor Liezel se dood by Momentum Life uitgeneem deur De Jager. Sy het gevra De Jager moet borgtog geweier word.

Dat die polisse dus op voorbedagte rade (om moord te pleeg) dui, is onwaar, meen De Jager.

Hy ontken ook verder dat hy hul testament gewysig het.

Volgens De Jager het hy en Liezel in Julie 2020 in Amanzimtoti met die hulp van hul finansiële raadgewer wysigings aan hul afsonderlike testamente bespreek.

Ná die wysigings die daaropvolgende jaar aangebring is, het hy en Liezel die nuwe testamente op 9 Augustus 2021 geteken.

“Ek bevestig dat die testament wat die oorledene [Liezel] op 9 Augustus 2021 geteken het, ʼn presiese weerspieëling is van die testament wat die finansiële raadgewer opgestel het tydens ons konsultasie in Julie 2020, buiten nou vir die tikfoute wat hersien en gekorrigeer is,” sê De Jager in sy verklaring.

“Enige bewerings dat ek die oorledene se testament twee maande voor die tyd aangepas het, is dus onwaar.”

Hy het verder ook ontken dat hy, weens sy mediese toestand, ʼn gevaar vir homself of lede van die publiek sal inhou indien hy op borgtog vrygelaat word.

Werner de Jager, Liezel de Jager, moord, Amanzimtoti, hof

Werner de Jager word tydens een van sy vorige verskynings in die hof na die aanhoudingselle geneem. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Uitspraak in sy borgtogaansoek sal volgende maand gelewer word ná die staat en verdediging slotbetoë gelewer het.

De Jager sal tot dan in aanhouding bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.