Wes-Kaap bestee meer aan dokters, verpleegsters

(Argieffoto: Unsplash)

Die aantal dokters en verpleegsters wat in die Wes-Kaap aangestel is, het tussen die 2012‑’13- en 2021‑’22- finansiële jare onderskeidelik met 25,5% en 14,2% toegeneem.

Wendy Kaizer-Philander, die DA se woordvoerder vir gesondheid in die Wes-Kaap, sê dié mediese personeel het egter fasiliteite nodig om hul pligte na behore uit te voer, en dat die provinsiale departement van gesondheid in die huidige finansiële jaar byna R1,2 miljard aan fasiliteite sal bestee. Dit sluit opknappings en die oprigting van nuwe fasiliteite in.

“Die toevoeging van hierdie professionele persone is van kernbelang vir ons provinsiale gesondheidsdienste, veral as in ag geneem word dat die Wes-Kaap se bevolking tussen 2016 en 2021 met 624 616 mense toegeneem het.

“Bykomende mediese personeel verteenwoordig ’n toename van meer as 8% in vergelyking met die vorige jaar, wat wys dat die Wes-Kaap op koers is met sy post-Covid-herstel en daartoe verbind is om gesondheidsorg van gehalte aan alle inwoners te verskaf,” het Kaizer-Philander gesê.

Volgens die DA sal besteding aan nuwe infrastruktuurbates 110% meer as in 2021 wees – juis om die bevolkingsgroei in die Wes-Kaap te akkommodeer. Hospitale en ander mediese fasiliteite sal ook verder onderhou, opgeknap en uitgebou word. Die begroting hiervoor is volgens Kaizer-Philander dubbel soveel as verlede jaar.

“Ons is deeglik bewus van die geweldige druk waaronder die gesondheidsorgsektor funksioneer. Professionele gesondheidswerkers werk elke dag lang en moeilike ure om gehaltediens aan inwoners te lewer,” het Kaizer-Philander gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat duisende mediese prosedures landwyd agterstallig is. Luidens ʼn verslag wat deur dr. Joe Phaahla bekend gemaak is, het die Wes-Kaap ʼn agterstand van meer as 77 139 mediese prosedures in die openbare gesondheidsektor.

Luidens dié verslag het die Wes-Kaap sy begroting verhoog om agterstande te takel, en onder meer ook twee chirurgiese robotte teen R80 000 aangekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Wes Kaap met sy beperkte hulpbronne is nou die Utopia vir migrante. Iets gaan knak. Word wakker DA, die ANC gaan julle in 2029 onttroon.

Shakespeare ·

Goeie besluit. Bly net weg van kaders en BEE aanstellings anders boer julle agteruit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die DA luister nie na jou wyse raad nie Shakes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.