Duisende mediese prosedures agterstallig

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Altesame 175 084 mediese prosedures by staatshospitale landwyd is agterstallig en die meeste daarvan is in die Wes-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal.

Só het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus bekend gemaak.

Volgens Phaahla het die Wes-Kaap ’n agterstand van 77 139 mediese prosedures, gevolg deur 45 690 in Limpopo, 17 906 in KwaZulu-Natal, 13 433 in Gauteng en 5 531 in Noordwes. In die Oos-Kaap heers ʼn agterstand van 5 737, daar is 4 000 agterstallige prosedures in die Noord-Kaap, altesame 3 005 in Mpumalanga en 2 947 in die Vrystaat.

Slegs die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga se syfers is ten tyde van die VF Plus se navraag einde verlede maand opgedateer, terwyl die res van die provinsies se syfers in die afgelope twee maande bygewerk is.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder vir gesondheid, bestempel die syfers as “skrikwekkend” en sê dit is ’n aanduiding dat die krisis wat tans in staatshospitale ondervind word, nie vinnig opgelos gaan word nie.

Van Staden meen die agterstand in die aanstelling van dokters en verpleegsters moet dadelik getakel word, terwyl omvattende planne nodig is om die agterstand in operasies dringend in te haal, aangesien dit lewe of dood kan beteken.

Provinsies soos Gauteng het aangedui dat pasiënte tot soveel as sewe jaar kan wag om ʼn ortopediese prosedure te ontvang, terwyl obstetriese, ginekologiese, plastiese en algemene chirurgie ʼn wagtydperk van twee jaar kan hê.

In ander provinsies is die gemiddelde wagtyperk tussen drie maande en drie jaar. Dit sluit urologiese, neurologiese, oogheelkundige en onkologie-prosedures in.

“Daar kan nie langer toegelaat word dat pasiënte ly en ondraaglike pyn verduur weens die regering se totale onbevoegdheid om hierdie krisis te pak nie.

“Dit is weereens ’n duidelike bewys dat die openbare gesondheidsorgstelsel totaal en al vernietig is, en dat die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) dadelik in sy geheel onttrek moet word, aangesien dit die krisis net verder sal vererger.”

Hoe provinsies die probleem wil takel

Ingevolge Phaahla se antwoorde het sommige provinsies reeds planne om agterstande in te haal – insluitend die gebruik van bykomende teaters en operasies wat oor naweke gedoen word. Dit is egter nie duidelik of daar al vordering hiermee gemaak is nie.

Die Wes-Kaap het aangedui dat ’n bykomende R20 miljoen uit die provinsiale begroting beskikbaar gestel is om agterstande te takel.

Dié provinsie het onder meer ook twee chirurgiese robotte teen R80 000 aangekoop, wat hersteltyd kan bespoedig en beteken dat pasiënte vroeër ontslaan kan word.

In Noordwes, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga wil hospitale verlengde ure werk om prosedures in te haal en in venootskap met die private sektor werk, waar moontlik.

Die Noord-Kaap wil onder meer sy werwing van spesialiste, veral narkotiseurs, verskerp.

Gauteng sal ook ʼn hernude fokus op die werwing van spesialiste hê, asook die die verkryging van meer beddens vir hoësorgeenhede. Die provinsie beplan ook om teaters op te knap en pasiënte met behulp van die Nasionale Gesondheidsversekeringstoelaag na private hospitale te neem om prosedures te ondergaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

domheks ·

Regtig? Het julle begin besef die NGV sal NOOIT kan werk nie!

Vonny ·

What’s new???
Alles maar Alles verval in die rèenboog land!
Land van melk en heuning………

Jacobus ·

Die ANC moet maar die naam ook verander na Riool en plundering.

marius ·

Mosambiek , een van die armste lande in die wereld se hospitale en klinieke funksioneer perfek . Hierdie hool kan nie eers kopseer pille voorsien nie , wat nog van operasies uitvoer ?

VaalDonkie ·

Toemaar, as jy lank genoeg wag, dan is die prosedure nie meer nodig nie.

Swerwer ·

Dit is handliggend dat daar geen oplossing kan of sal wees met die Kommuniste aan bewind nie.

Danie ·

Wow die verval is al etlike jare terug daar.Dit glad nie nuus nie.Dit word net erger by die dag.

Anel ·

En hulle wil voort stoom met die nasionale gesondheidsorg!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.