Wes-Kaap het meeste luukse eiendom; Vrystaat bekostigbaarste

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

ʼn Voortgesette gebrek aan behoorlike dienslewering op talle plekke, asook die ekonomie wat al hoe erger knyp, het miljoene Suid-Afrikaners genoop om hul goed te pak en hul heil in ander dele van die land te gaan soek in ʼn poging om die pot aan die kook te hou.

Die jongste provinsiale eiendomsdata, wat die verhouding tussen formele en informele behuising in elke provinsie asook die bekostigheid daarvan beoordeel, laat egter dié vraag ontstaan: Word die gaping al hoe groter?

Volgens die jongste data van die maatskappy Lightstone is die antwoord hierop ʼn onomwonde ja.

Byna 60% van Suid-Afrikaners, naastenby 36 miljoen mense, woon in die drie ekonomiese spilpunte van die land: Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Dít omdat die gebrek aan dienslewering en die verlangsaming van die ekonomie talle Suid-Afrikaners dryf na stede waar hulle glo die werksgeleenthede soveel meer is. Dié drie provinsies het egter die minste bekostigbare behuising landwyd.

Altesame 10 miljoen huishoudings (59%) in Suid-Afrika woon in sogenaamde informele eiendomme, dus eiendomme wat nie by die aktekantoor geregistreer is nie, óf by ander families. Die ander sewe miljoen huishoudings (41%) bly in formele behuising.

Meeste, minste formele huise hiér:

Hayley Ivins-Downes, hoof van Lightstone se digitale afdeling, sê die syfers beklemtoon groot verskille tussen provinsies wanneer dit kom by formele en informele huishoudings.

Die Wes-Kaap het die hoogste persentasie huishoudings (61%) wat in formeel geregistreerde eiendomme woon en volgens getalle, die derde minste getal huishoudings wat van informele behuising gebruik maak.

Hierteenoor het Limpopo verreweg die laagste persentasie (15%) van huishoudings wat in formeel geregistreerde eiendomme woon; altesame 85% van huishoudings (1,3 miljoen) in dié provinsie bly in informele behuising.

Noordwes (28%) en Mpumalanga (31%) is naaslaagste met huishoudings wat in formele behuising woon, terwyl die Vrystaat (60%) net agter die Wes-Kaap is, en voor die Noord-Kaap met 55%.

Gauteng, met die grootste bevolking (sowat vyf miljoen huishoudings), het naastenby dieselfde aantal huishoudings wat in formele en informele behuising woon.

KwaZulu-Natal het meer huishoudings in informele behuising (1,9 miljoen) in vergelyking met formele behuising (880 000).

So lyk die behuisingsamestelling van dié top provinsies.

Luukse huise

Die Wes-Kaap het die meeste sogenaamde luukse eiendomme (203 824) in verhouding tot die hoeveelheid formele behuising (1,2 miljoen).

Dit terwyl Gauteng die tweede meeste luukse huise het (269 453), hoewel daar in die geheel meer luukse eiendomme in dié provinsie is. In vergelyking met al die formele huishoudings (2,3 miljoen) in die provinsie, is sy luukse eiendomme maar ʼn druppel in die emmer.

Die Noord-Kaap het slegs 946 luukse eiendomme, gevolg deur Limpopo met 1 937, oftewel 0,9%.

Wat bekostigbare behuising betref, het die Vrystaat die meeste (65%) opsies in hierdie kategorie, gevolg deur die Noord-Kaap (59%), die Oos-Kaap (54%), Noordwes (53%), Mpumalanga (46%) en Limpopo (38%).

KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap het uit al die provinsies die minste bekostigbare behuisingsopsies met onderskeidelik 34%, 32% en 27% van sy behuisingsmark wat as bekostigbaar bestempel word.

Waarheen verhuis mense en hoekom?

Gauteng, die Wes-Kaap en Noordwes is drie van die provinsies wat oor die afgelope dekade die grootste bevolkingsgroei gehad het.

Gauteng het tussen 2011 en 2022 ʼn bevolkingsgroei van meer as 3,7 miljoen (31% groei) gehad, terwyl die Wes-Kaap in dieselfde tyd met meer as 1,3 miljoen mense gegroei het en Noordwes byna 700 000 meer mense gekry het.

Hier woon al 60,5 miljoen Suid-Afrikaners.

“Die verstedeliking uit ander provinsies kan as gevolg van ʼn verskeidenheid redes wees – in sommige gevalle verander lewenstyl soos mense op soek is na beter veiligheid en sekuriteit of beter dienslewering, maar in die meeste gevalle dui die wanbalans in bevolkingsamestelling daarop dat mense na provinsies verhuis waar daar ʼn beter vooruitsig op werk is,” sê Ivins-Downes.

“Gauteng is die land se ekonomiese en politieke middelpunt, terwyl die Wes-Kaap al meer beskou word as die land se bes bestuurde provinsie, wat dit toenemend aantrekliker maak vir semigrasie.”

En terwyl dié provinsies se bevolkings bly groei, kwyn dit weer in ander.

Die Oos-Kaap het die kleinste bevolkingsgroei oor die afgelope dekade aangeteken en net meer as 100 000 mense het daarheen verhuis.

Die Vrystaat, Limpopo en KwaZulu-Natal het die minste bevolkingsgroei aangeteken, met groei van onderskeidelik 7%, 10% en 12%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.