Wes-Kaap versoek Cele om buurtwagte toe te laat

Lede van minstens 43 geakkrediteerde buurtwagte in Kaapstad het intussen aangemeld as rampbestuur-vrywilligers (Foto: Luthando Tyhalibongo/Stad Kaapstad)

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het gesê hy het polisieminister Bheki Cele skriftelik versoek dat geakkrediteerde buurtwaglede toegelaat moet word om patrollies te doen en wetstoepassers by te staan tydens die Covid-19-afsonderingsperiode.

Volgens Fritz kan buurtwaglede help om sosiale distansiëring by supermarkte en in rye by winkels en klinieke toe te pas. Hulle kan ook skoolgronde patrolleer om vandalisme te voorkom.

“Die teenwoordigheid van buurtwaglede, veral in gemeenskappe met lae polisiesigbaarheid, sal help om misdaad te bekamp. Ons het ʼn toename in vandalisme by skole en rooftogte by winkels gesien, veral in kwesbare gemeenskappe. Alternatiewe planne moet beraam word om dié probleme te takel,” het Fritz bygevoeg.

Cele het vroeër gesê buurtwagte mag nie tydens die afsonderingsperiode gebruik word nie, omdat hulle informele strukture is sonder enige aanspreeklikheid.

Fritz sê egter dit is nie die geval in die Wes-Kaap nie. “Sedert 2016 kon buurtwagte akkreditasie kragtens die Wes-Kaapse Wet op Gemeenskapsveiligheid bekom. Ons buurtwagte word gereguleer deur artikel 6 van die wet. Artikel 6 vereis dat alle huidige en toekomstige lede van ʼn buurtwag onderwerp word aan ʼn siftingsproses om te bepaal of hulle enige vorige skuldigbevindings het voor hulle oorweeg word vir akkreditasie.”

Hy het gesê buurtwaglede in die Wes-Kaap is betroubaar en geloofwaardig. “Kragtens die wet is alle buurtwagstrukture en hul lede boonop ook direk aanspreekbaar aan my in my kapasiteit as LUR van gemeenskapsveiligheid.”

Fritz het bygevoeg die Wes-Kaap is die enigste provinsie in Suid-Afrika wat buurtwagte reguleer. “Daar is tans 322 geakkrediteerde buurtwagstrukture in die provinsie wat getoets is en wat opleiding en hulpbronne ontvang het kragtens die Wes-Kaapse Wet op Gemeenskapsveiligheid.”

Kaapstad het tydens die afsonderingsperiode reeds talle gevalle van openbare geweld en diefstal beleef. Winkels en afleweringsvoertuie is vandeesweek geplunder. Die polisie het gesê verskeie inhegtenisnemings is in informele nedersettings uitgevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Dit blyk dat cele en malema van dieselfde stofasie gemaak is. Asof hulle in kompetisie is om te sien wie van hulle kan die onpopulêrste wees.

Sonneblomkind ·

Ek is ten gunste van buurtwag om te help. Dit sal ook die magte help met wet en orde. Ek bid dat dit goedgekeur word

Vriendelike Frikkie ·

Ons GPF se aktiwiteite is ook opgeskort en ons is gedreig dat daar streng teen ons opgetree sou word indien ons met enige GPF baadjies, plakkers of kentekens op straat sou verskyn. Ons doen nou maar buurtpatrollie met die tweerigting radios en bel die Polisie sodra iets snaaks gebeur. Indien hulle my sou vra om in grendeltyd te help sal ek nee sê. Ek/ons was nie goed genoeg aan die begin nie, so ek/ons is ook nie goed genoeg nou nie. Jammer! Na grendeltyd is ek weer 100% beskikbaar.

Pieter J ·

Ek dink nie die ANC is teen buurtwagte gekant nie maar wel teen plaaswagte want hulle sien dit as ń plaasvervanging van die kommandostelsel. Hulle besef egter dat daar ernstige vrae sal wees as hulle die een goedkeur maar nie die ander nie.

koos10 ·

Cele misbruik die nood toestand.
Hy weet bitter goed as hy die goed gaan doen in normale tye, hy deur die hof geslaan sal word, nou kondig hy allerhande dinge af wat hy nog altyd wou doen.
Dis tyd dat CR ernstig na hom moet kyk en besluite moet neem, sommer dan ook na die res van kabinet ook.

Marisa W ·

Indien die buurtwagte toegelaat word om die huidige wetsoepassers te ondersteun sal die oordadige geweld en korrupsie eerstehands gesien en ontbloot word deur die buurtwagte. Die huidige wetstoepassers sal nooit toelaat dat hulle so onder die mikroskoop geplaas word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.