Wes-Kaap verwerp eenparig Bela-wetsontwerp

(Argieffoto: Elaine Krige)

Die Wes-Kaapse parlementêre staande komitee oor onderwys het Maandag vergader om die finale weergawe van die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) te oorweeg. Dit volg ná verskeie wysigings deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

Die komitee meen die NRP het nie die kerntekortkominge van die wetsontwerp gewysig nie en het eenparig besluit om die wetsontwerp in sy geheel te verwerp.

“Alhoewel die NRP dit goedgedink het om geringe wysigings aan die wetsontwerp te maak, is die komitee van mening dat Bela steeds ʼn ernstige gevaar inhou vir die regte van ouers, onderwysers en leerders. Dit sal lei tot ʼn multi-miljard rand se fiskale ramp indien dit geïmplementeer word,” sê Deidré Baartman, die DA se provinsiale woordvoerder oor onderwys.

Sy sê die wysigings aan klousules 2, 4 en 5, wat onderskeidelik handel oor die implementering van verpligte graad R en taal- en toelatingsbeleide, takel nie doeltreffend die werklike ernstige besware wat die publiek aangeroer het in die meer as 5 000 voorleggings wat die komitee ontvang het nie.

“Die nuwe weergawe van die Bela-wetsontwerp sal steeds op ʼn onredelike wyse ouers en onderwysers van mag ontneem en dit sentraliseer in die hande van burokrate in Pretoria wat nie aanspreeklik gehou word of verkies is nie. Daar is boonop geen antwoord hoe die wetsontwerp gefinansier sal word nie – deur die nasionale tesourie of die departement van onderwys nie. Dit beteken dat elke provinsie elkeen aanspreeklik sal wees vir meer as R2 miljard per jaar om die Bela-wet in te stel.”

Benewens die onvoldoende wysigings bly verskeie klousules onveranderd, insluitend klousule 35 wat groot beperkings plaas op ouers se vermoë om hul kinders tuis te onderrig.

Ander klousules wat steeds problematies bly, is klousules 15, 17, 22 en 50 – wat elkeen slegs onbelemmerde mag aan die nasionale minister van onderwys gee oor skole in Suid-Afrika.

“Al drie DA-lede van die komitee het vanmiddag gestem om die wetsontwerp in sy geheel te verwerp. Dit is ʼn siening wat deur die ACDP ondersteun word. Die ANC het nie die komitee se verrigtinge bygewoon of daaraan deelgeneem nie,” sê Baartman. “Vandag se vergadering bevestig opnuut die menings van die mense van die Wes-Kaap: Bela is ʼn verwoestende en ondemokratiese stuk wetgewing wat die nasionale minister van onderwys die mag gee om ouers en onderwysers kragteloos te maak.”

Die wetsontwerp sal die belastingbetaler ook sowat R18 miljard kos, selfs wanneer verskeie uitgawes nog nie hierby ingesluit is nie. “Die nasionale tesourie en die departement van basiese onderwys kon tydens ons beraadslagings nooit die vraag beantwoord oor waar dié geld in die fiskus vandaan gaan kom nie. Ons glo dat ʼn stem teen hierdie wetsontwerp die belange en sentiment van die mense van die Wes-Kaap en die belange van Suid-Afrikaners verteenwoordig. Ons sal wag om te sien of lede van die NRP by ons sal aansluit om teen hierdie belediging vir ons land te staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Tyd om van Pretoria weg te breek. Hoekom kan Winde dit nie besef nie.

JohanR ·

Ou Cyril kan nie wag om die ding te teken nie. Dan het die kommuniste moes alle beheer oor skole en leerlinge in Suid Afrika!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.