Wes-Kaapse ouers gemaan om aansoek te doen vir 2024

Argieffoto (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Met net meer as een week oor voor die sluitingsdatum vir aansoeke vir skoolplasings in 2024, maan die DA in die Wes-Kaap alle ouers om seker te maak hul kinders se aansoeke is volledig ingedien.

Aansoeke vir die 2024-skooljaar sluit op 14 April 2023 om 23:59.

“Die Wes-Kaapse departement van onderwys het alles in sy vermoë gedoen om ouers te help om aansoek te doen vir die 2024-skooljaar,” sê Deidré Baartman, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor onderwys. “Alhoewel die gerieflikste opsie vir meeste ouers die provinsiale departement se aanlyn platform bly, het die departement ook nog steeds ʼn rits tydelike stasies reg oor die provinsie beskikbaar. Hierdie stasies help ouers wat nie toegang het tot die internet nie, en opgeleide beamptes staan gereed om die aansoeke in te dien of enige vrae te beantwoord.”

Die provinsiale departement het ook stappe gedoen om seker te maak dat alle leerders, wat betyds aansoek doen, geakkommodeer sal word.

Die departement het vanjaar R350 miljoen belê in die voortsetting van sy hoogs suksesvolle Rapid Build Program, wat tot dusver reeds meer as 740 klaskamers in die Wes-Kaap opgerig het. “Die sukses van dié program is gesien in die konstruksie van die Saxonsea Junior High School in Atlantis, wat binne slegs 65 dae afgehandel is. Dié projek het seker gemaak dat daar in 2023 nie enige leerders in Atlantis is wat nie geplaas is nie.”

Baartman sê hoe vinniger die aansoeke afgehandel word, hoe vinniger kan die departement die plasings hanteer en seker maak dat leerders ʼn soomlose oorgang het na die volgende fase van hul opleiding.

Inligting oor die 2024-aansoeke, insluitend die aanlyn aansoekplatform en inligting oor tydelike stasies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.