Wes-Kaapse skoolplasings duur voort, sê minister

(Argieffoto: ANA)

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, maan ouers in dié provinsie om geduldig te bly met die skoolplasingsproses vir 2022.

Die aanvanklike ronde van plasing vir Wes-Kaapse skole duur voort. Skole het verlede week begin om die uitslag van aansoeke bekend te maak aan ouers. Daar is egter sommige ouers wat nog nie ʼn aanbod van enige van die skole ontvang het waar hulle aansoek gedoen het nie en sommige is besorg dat hulle nie ʼn plek sal kry vir hulle kind nie.

“Ek maan ouers om geduldig te bly. Hierdie is maar net die eerste ronde van aanbiedings. As jy nog nie een in hierdie stadium ontvang het nie, beteken dit nie dat jou kind nie ʼn plek in enige skool sal hê volgende jaar nie,” het Schäfer bygevoeg. “Ouers wat tans ʼn aanbod ontvang het, het tot 25 Junie 2021 kans om hul finale keuse vir 2022 te bevestig. Aanbiedings sal voortgaan sodra skole ʼn beter idee het van hoeveel plekke hulle nog beskikbaar het.”

Meer as 20 000 leerders is by meer as een skool aanvaar. Daar is dus 20 000 plekke by skole wat beskikbaar gemaak kan word aan leerders wie se aansoek by ʼn spesifieke skool onsuksesvol was. Meer as 50% van dié leerders is volgend jaar in graad 8. “Ons doen dus ʼn beroep op ouers om begrip te hê dat die proses nog nie verby is nie.”

Sy maan ook ouers, wat reeds ʼn aanbod ontvang het, om so vinnig as moontlik hul keuse te bevestig. “Dit bied aan skole die geleentheid om presies te weet hoeveel plekke hulle nog beskikbaar het en dat hulle so vinnig as moontlik ʼn aanbod kan maak aan angstige ouers. Dit is veral van toepassing op die ouers van die 20 000 leerders wat by meer as een skool aansoek gedoen en aanbiedings van verskillende skole ontvang het.”

Schäfer sê daar is ook wanpersepsies wat deur individue versprei word oor die aansoekproses. “Alhoewel ouers aanlyn aansoek doen, is dit nie die “stelsel” wat besluit of ʼn kind aanvaar word of nie. Skole evalueer die aansoeke wat hulle deur die stelsel ontvang en maak op grond van die aansoek ʼn aanbod. Elke skool het sy eie toelatingsbeleid, soos bepaal deur die skoolbeheerliggaam. Die Wet op Nasionale Onderwysbeleid het ook spesifieke kriteria wat oorweeg moet word – insluitend waar ʼn leerder woon of waar die ouers werk.”

Schäfer benadruk dat die departement nie ʼn ouer se keuse van skool kan waarborg nie. “Elke skool het slegs ʼn spesifieke getal plekke wat gevul kan word. Talle ouers doen ongelukkig aansoek by ʼn klein hoeveelheid van die skole waar daar ʼn groot aanvraag is vir toelating. Die skole het dus baie meer aansoeke ontvang as wat hulle plekke beskikbaar het. Daarom maan ons ouers om aansoek te doen by tot 10 skole op die stelsel – insluitend dié wat naaste aan hulle geleë is.”

As jy nog nie ʼn aanbod van ʼn skool ontvang het nie:

  1. Kontak die skoolbeheerliggaam skriftelik en vra om hul besluit oor die aansoek te hersien en vra geskrewe redes waarom die aansoek nie aanvaar is nie.
  2. Vra die skool dat jou kind op ʼn waglys geplaas word. Omdat plekke soms beskikbaar raak weens leerders wat van ʼn ander skool se aanbod gebruik maak, sal die skool plek beskikbaar maak aan dié leerders op die waglys.
  3. Jy het die reg om appèl aan te teken teen die uitslag van die skoolbeheerliggaam se hersiening by die provinsiale minister – gebaseer op spesifieke gronde. Jou skrywe moet baie duidelik die redes vir appèl (insluitend bewyse daarvan) insluit en dit sal vergelyk word met die redes wat die skool aangebied het volgens hul toelatingsbeleid.
  4. As jy nie appèl wil aanteken teen die besluit nie, kan jy die toelatingsbeamptes kontak by die distrikkantoor om bystand te kry om ʼn plek vir jou kind te kry.

“Ek besef dit is ʼn moeilike en lang proses. Die proses is egter nog nie verby nie. Daar sal nog steeds geleenthede wees vir plasing in die komende paar weke,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Hoeveel nuwe skole word jaarliks in SA gebou? Niemand wil oor die geboortesyfer en migrante praat nie. Vol skole en werkloosheid hou direk daarmee verband. 1 kind plus nog 1 kind = 2 kinders. Graad 1 wiskunde. Nou slaan almal hande saam oor die vreemde onbegryplike skokkende buiteruimtelike happening. Dalk miskien het ‘n ruimtetuig moontlik of per ongeluk sy planeet se oorbevolking hier kom dump en nie in die VSA nie. Hoe vreemd. Wat gaan ons doen. Staak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.