Weste het ANC se ‘ideologiese hard(koppig)heid onderskat’

Die Russiese vragskip Lady-R. (Foto: Twitter)

“Die Weste het, van Suid-Afrika én ander Afrikalande, aanvaar die ekonomiese voordeel van vryehandel sou so groot wees dat die politieke hervorming ná liberale demokrasieë mettertyd outomaties sou volg.”

Dít meen Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, is een fundamentele misrekening van die Weste wat nou aan die kern staan van spanningsvolle diplomatieke betrekkinge te midde van bewerings dat die Suid-Afrikaanse regering wapens aan Rusland verskaf het.

Westerse misrekening

Volgens Kleynhans is Suid-Afrika se presidente Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa almal op staatsbesoeke na Westerse lande genooi waar die rooi tapyt altyd uitgerol is.

“Die rede hiervoor is dat die Weste oortuig was dat die ANC die nodige hervormings sou deurvoer om uiteindelik ʼn liberale, pro-Westerse vryemark-demokrasie in Afrika te word. Sou Suid-Afrika as magtigste ekonomie en politieke rolspeler in Afrika kon voorloop met ekonomiese en politieke hervormings, sou die land ander Afrikalande kon saamneem om uiteindelik die hele vasteland in die regte rigting te stuur.

“Die hoop hiervoor was so onlangs soos vyf jaar gelede nog baie sterk by die EU en in die Amerikaanse regering,” meen Kleynhans.

Het die ANC verander of het die Weste ʼn misrekening gemaak?

“Die Weste het met ʼn element van naïwiteit tog die ideologiese hardheid van die ANC-regering onderskat. Dit is baie duidelik dat die ANC se ideologiese geaardheid nog altyd daar was, maar dit is voorheen so bestuur dat daar altyd ʼn balans was in terme van diplomatieke verhoudinge.”

Die Suid-Afrikaanse regering het nie skielik anders begin optree nie, meen Kleynhans, maar die oorlog in Oekraïne en die spanning tussen die VSA en China was katalisators wat Suid-Afrika eintlik bietjie ontmasker het.

“Die Suid-Afrikaanse regering was eintlik vir die eerste keer in jare verplig om kant te kies en uiteindelik het ideologie die groter rol as ekonomie gespeel.”

Guns van Weste verspeel

Volgens Kleynhans het die Suid-Afrikaanse regering die uitsonderlike goeie guns van die Weste teenoor Suid-Afrika met voortgesette misstappe verspeel.

“Suid-Afrika het die afgelope drie dekades ʼn unieke posisie van voorreg en geleentheid in ons verhouding met die Weste gehad. Westerse lande het in terme van beleggings, handelsgeleenthede maar ook diplomatieke geleenthede en bande ʼn groot premie op die verhouding met Suid-Afrika geplaas.”

Dit het ingesluit die Agoa-wetgewing in die VSA, gunstige handelsooreenkomste met die EU en ook sterk aansporingsmaatreëls vir maatskappye in die VSA en Europa om in Suid-Afrika te belê.

Op politieke en diplomatieke vlak het Suid-Afrika volgens Kleynhans keer op keer voorkeurbehandeling in Afrika gekry deur na onder andere G7-berade genooi te word, altyd bo-aan die lys van Afrika-besoeke deur staatshoofde uit Westerse lande te wees en die spreekwoordelike poort na Afrika vir Westerse politici te wees.

“Dit het egter die afgelope tyd volledig vervaag.

“Suid-Afrika word sedert die Zondo-kommissie se werk, voortdurende beurkragprobleme, opstande en geweld van twee jaar gelede in KwaZulu-Natal, voortdurende misdaadprobleme en oor die afgelope 14 maande ook Suid-Afrika se posisie teenoor primêr Rusland maar ook sekondêr China, beskou as ʼn land wat in die verkeerde rigting beweeg.

“Dit word ook gesien as ʼn land wat toenemend risiko’s vir Westerse belange veral in Afrika, maar ook binne internasionale instellings soos die VN, inhou,” verduidelik Kleynhans.

“Die vlootoefeninge vroeër vanjaar aan die Suid-Afrikaanse ooskus, Suid-Afrika se onwilligheid om die oorlog in Oekraïne te veroordeel terwyl ʼn meerderheid van Afrika-lande dit toenemend wel doen, en nou ook bewerings oor wapenverkope aan Rusland, kan as die strooi wat die kameel se rug breek, beskou word.”

Skadeberekening

Prof. Waldo Krugell, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit, meen die potensiële ekonomiese skade kan beduidend wees.

“Daar is nog baie onduidelikheid en onsekerheid oor wat die presiese ekonomiese gevolge hiervan is, maar dat [ons gunstige handelsverhoudinge] iets is wat ʼn mens nie in gevaar kan stel nie, is beslis ʼn feit.”

Kleynhans stem saam dat Suid-Afrika se ekonomie die duurste prys gaan betaal en sê die land kan verwag dat buitelandse beleggings onttrek gaan word. Handel kan afneem en invoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte kan styg.

Volgens Krugell kan handelsverhoudinge met die Weste wat doodloop ook nie sommer net so na ander markte “geskuif” word nie; ʼn land moet handelsvennote op ander plekke kry wat ook betrekkinge met hom wíl aangaan.

“Die koste wat hierdie moontlik kan meebring, is enorm. Daar is hulpbronne wat ʼn mens hier gaan verloor wat jy eerder anders sou wou aanwend,” verduidelik Krugell.

Volgens Kleynhans sal China en Rusland deur Brics hierop inspeel en ʼn wig tussen Suid-Afrika en die Weste probeer indryf wat groeiende ekonomiese maar ook politieke onstabiliteit vir Suid-Afrika voorspel.

“Japan het reeds in April besluit om Suid-Afrika nie vanjaar na die G7-beraad te nooi nie en die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se komitee oor buitelandse sake is besig met ʼn omvattende oorsig oor die verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika.”

Talle Westerse staatshoofde en senior regeringslui het Suid-Afrika die afgelope jaar besoek. Dit het ingesluit afvaardigings van die VSA.

Kleynhans verduidelik die gevoel hieroor in Brussel en Washington is dat dit onsuksesvol was en dat “Suid-Afrika besig is om hom by Rusland, China en Iran te skaar”.

Wie sit met gebakte pere?

“Die geleentheid vir gemeenskappe, belangegroepe en verskillende ekonomiese sektore om sonder die regering handelsbetrekkinge met rolspelers in ander lande aan te gaan, is reeds daar. Die private sektor sal self hierdie geleenthede in die buiteland moet ontgin, die regering hoef hulle nie te lei nie,” meen Krugell.

Volgens Krugell staan niks in die private sektor se pad om hulself te differensieer en geleenthede te gaan soek op ander plekke nie – iets wat toenemend belangrik sal wees namate die regering handelsbetrekkinge met belangrike vennote in gevaar stel.

“Die sogenaamde handelsafvaardigings wat die regering na ander lande stuur, is buitendien reeds so ondoeltreffend dat dit maar min beteken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SANET ·

Moenie vergeet nie hulle het almal destyds militêre opleiding ontvang in Rusland. Die wortels van die ANC en Rusland hardloop diep en ver. Ek is allermins verbaas oor hulle lojaliteit teenoor Rusland nie. Ja die Weste het die pot mis gesit en vandag lei ons daaronder

Jaco ·

Net vreemd dat Rusland nie meer kommunisties is nie. Uiters vreemd dat die ANC so min of meer vir Rusland steun. Rusland wil basies die etnies-Russiese dele van die Oekraïne beset en beskerming teen sogenaamde slegte behandeling vanaf die Oekraïne.
Draai dié situasie nou om en pas dit op SA toe: ‘n ander land val SA aan om ‘n einde te maak aan die onderdrukking van wit mense en kleurlinge in die Wes-Kaap. Sal dit die ANC ook pas?

domheks ·

cANCer wil maar die land in die grond in bestuur. Kan op alle vlakke die verval waarneem.

Althes ·

Onder my sosiale groep is daar mense wat niks met politiek te doen wil hê nie, en ook nie wil stem nie. Veral die jonger groep in die 20’s.
Dit kelder ons voorreg om te kan kies vir ñ demokratiese, vryehandelstelsel.
Mense moet begin wakker skrik.
Nietemin ek hoop en vertrou op Hom dat na die donker wolke (die ANC se mislukte onvermoë om ñ land ekonomies tot welvaart) te bestuur, daar lig sal wees.

agnes ·

Ons moedig mense aan, jy MOET STEM , al het staan jy nie vir n spesefieke party nie. As jy nie stem nie is jy n parasiet. Stem die ANC uit, Hulle wat alles tot niet gemaak het

Johann ·

Kern korrupte anargiste. Gaan oor die eie self ten koste van SA en sy mense. Gewetenlose denke en dade ter wille van ‘n magsmal desperate bankrot terroriste groep. Kaders en kamerade word konings verklaar.

TruthDealer ·

Die Weste en veral Amerika wou die ANC hier as regering hê. Hulle het seker gemaak dit gebeur. Nou wil hulle ween en tande kners. Te laat. Actions have consequences, even if those consequences appear years down the line.

Althes ·

Ek lees nou op ñ nuuskanaal dat ñ leier van die wagner groep weier om verder te veg as hul nie ammunisie kry van Moskou nie.

Nuustak ·

“idiologies” ? Meer soos idioties, alhoewel dit niemand verbaas nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Tyd vir afstig is NOU. Die tafel is gedek en ons kan skep. Hierdie Suid Afrika ding werk nie.

annie ·

Og, maar ons is nou net soos Japan mooi ingebreek deur die VSA. Wanneer kan hulle hul vuurpyle hier kom oprig?:En ‘n atoombom gerig op hul vyande. Kan ons nou ook die VSA se volkslied sing… Please save Zelensky en Zille of please save the king and queen…

Keelvol ·

Die Westerse lande het Hulle destyds slim gehou. Australië, en Nieu Seeland was voor in die tou met die sanksies. Volvo het lekker geld in die anc gestop. Europe het hulle toe gelaat om vrylik rond te beweeg en alle soorte twak oor ons te verkondig. Nou is al hierdie mense kwaad vir hulle, insluitende Joe “Our People “ Biden. Spyt kom altyd te laat.

Samuel ·

Nie net die Weste het die pot mis gesit nie, maar talle wit SA’ners wat die Mandela leuen geglo het. Die kommuniste het stil -stil die land oorgeneem. Net God drie
enig kan ons help.

Gerrit Johannes ·

Dit is geensins verrassend nie. Eers weier SA om toe te laat dat massiewe bestellings na bv Pole toe uitgevoer word, dan voorsien hulle op ‘n skelm manier dieselfde ammunisie aan Rusland. En vergelyk net Rusland se handelsyfers vergeleke met óf die EU óf VSA óf Groot Brittanje. Skaam julle, ANC en Regering!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.