Wet oor inisiasiesterftes op pad

‘n Inisiasieskool in Limpopo. Foto: Chester Makana/ANA

Die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake is vir die eerste keer besig om wetgewing te prakseer om die aantal sterftes tydens tradisionele inisiasiepraktyke te probeer hokslaan.

’n Virtuele sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake het Maandagaand tydens ’n voorlegging deur Joseph Diphofa, direkteur-generaal van tradisionele sake, gehoor die wetgewing is amper voltooi.

Daar was groot opwinding toe die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, haar ’n slag verwerdig het om oë te wys by ’n parlementêre oorsigkomitee, maar dit was van korte duur.

Nadat sy vir omtrent tien minute haar mening oor die grendelstaat geprewel het en nogmaals haar steun aan die distrikmodel van dienslewering toegesê het, het sy oudergewoonte die aftog geblaas sonder om enige verantwoordbaarheid aan die parlement te doen deur byvoorbeeld vrae te beantwoord. Sy het onder meer gesê sy beplan om eersdaags nuwe regulasies oor interprovinsiale reise aan te kondig en sy het die jongste koronavirussyfers aangekondig.

Die enigste LP wat beswaar gemaak het teen haar gedrag was Cilliers Brink van die DA.

Diphofa het kortliks verwys na die wetgewing oor inisiasiepraktyke, asook die daarstel van ’n nuwe handboek vir die gedrag van tradisionele leiers.

Die Wet op Tradisionele en Khoisan-leiers sal volgens hom tot voordeel van die Khoisan-gemeenskap strek. ’n Belangrike projek wat Diphofa uitgelig het, is om inheemse Afrikareg met die handves van menseregte te versoen.

Daar is geen tekort aan tradisionele leiers nie – ’n volle 30 huise van tradisionele leiers word in die vooruitsig gestel. Wat dit alles gaan kos, het niemand gevra of gesê nie.

Die EFF-LP Hlengiwe Mkhaliphi het gevra oor die miskenning van vroueregte in verskeie landelike gemeenskappe en die betrokke adjunkminister, Obed Bapela, het haar gesystap met die stelling dat dit nie ’n probleem van tradisionele leierskap is nie, maar van die breër patriargale samelewing.

Wat min mense weet, is dat selfs Gauteng twee tradisionele heersers het – een by Bronkhorstspruit en een by Hammanskraal.

Michal Groenewald, VF Plus-LP, het gevra wat die punt daarvan is om die begroting te bespreek as ’n nuwe begroting eersdaags ingedien gaan word, maar hy is ’n antwoord skuldig gebly.

DA-LP Gizella Opperman het gevra oor grondregte vir die Khoisan, maar Bapela het haar geantwoord dat wetgewing slegs voorsiening maak vir grondeise tot in 1913.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Probeer om die thokloshi uit die bos te kry, maar jy gaan nie die bos uit hom kry nie.

katerinadiekat ·

Party vd seuns in daardie foto lyk maar vreesbevange.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.