Wetswysigings oor mosies van wantroue ‘stap in regte rigting’  

DA-hoofsweep Siviwe Gwarube (Foto: Siviwe Gwarube/Facebook)

Die DA het ʼn wysigingswetsontwerp aan die Grondwet in die parlement voorgelê om mosies van wantroue te beperk.

Volgens Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, sal hierdie wetsontwerp, as dit aanvaar word, die frekwensie beperk en grondwetlike gronde instel waarop ʼn mosie van wantroue in ʼn wetgewer of die parlement aangehoor kan word.

“Dit is ontwerp om bestuur in ʼn nasionale koalisie of provinsiale koalisieregerings te stabiliseer. Dit sal katastrofies wees om die onstabiliteit wat ons op plaaslike regeringsvlak sien gebeur het, ook op provinsiale vlak of in die nasionale regering te sien,” het Gwarube gesê.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep, het gesê die voorgestelde wysiging aan die Grondwet oor die gereeldheid van wantrouemosies in die land se president, die kabinet, ʼn provinsiale premier of die uitvoerende gesag van ʼn provinsie, word verwelkom.

“Mosies kan tans onbeperk gebring word wat meestal lei tot groot ontwrigting en onsekerheid in die regering wat betrokke is, op welke vlak ook al.

“Soos male sonder tal gesien, veroorsaak dit groot ontwrigting wat dienslewering betref en belastingbetalers is die verloorders.

“Dit is verstandig om te voorsien dat daar met die verkiesing aanstaande jaar waarskynlik koalisies sal wees in sekere provinsies, en dalk ook op nasionale vlak. Die voorgestelde wysiging stel voor dat mosies beperk word tot slegs een mosie oor ʼn periode van 12 maande.”

Volgens Gwarube laat die wysigingswetsontwerp steeds die indiening van mosies van wantroue in die president en premiers toe wanneer daar ʼn ernstige oortreding van die Grondwet of die wet is; weens ernstige wangedrag; of die onvermoë om ampsfunksies uit te voer.

Mulder het gesê die VF Plus steun die wysiging in belang van stabiliteit wat broodnodig is op die betrokke vlakke van regering. “Op dié wyse sal ʼn verkose regering kan regeer sonder voortdurende mosies en die ontwrigting wat dit meebring. In geheel gesien bring dit ʼn gebalanseerde benadering betreffende stabiliteit hoewel dit steeds die geleentheid te bied om veranderings te bring waar nodig.”

Gwarube meen mosies van wantroue word om partypolitieke redes misbruik. “Ons het gesien hoe mense uit hul amp verwyder word weens tjekboekpolitiek en nie op konkrete grondwetlike gronde nie. Dit het verwoesting in regerings gesaai sodat dienslewering tot stilstand gekom het. Burgemeesters, speakers en swepe van die raad word om politieke redes verwyder en nie weens bestuursmislukkings nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Glo die Mulders hul huwelik met die Kaapse en bedspeletjies met die DA gaan in 2024 ‘n goeie oes lewer. Die Mulders se datum as volksleiers is lank reeds verby so asof hul die enigste is wat kan lei. Stig ‘n nuwe party.

Danie ·

Daar stem ek saam met jou. Hulle het die Volk al vantevore verraai net so voor die 1994 verkiesing

Althes ·

Ek stem, is ñ baie goeie idee. Die politieke uitbuitery van mosie van wantroue veroorsaak chaos en laat die publiek hul respek verloor vir ñ klomp narre.

Pietertjie ·

Belastingbetalers is altyd die verloorders, met enige regering. Maak nie saak wie wát ookal doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.